Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Provinsiale regering meng in by NGV-proses, sê VF Plus

’n Pamflet waarin die Vrystaatse regering mense skynbaar aanmoedig om die Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) te steun het daartoe gelei dat die VF Plus dreig om ’n dispuut teen die openbaredeelnameproses oor die NGV te verklaar.

Philip van Staden, die party se woordvoerder oor gesondheid, sê dit het Donderdag aan die lig gekom dat die pamflette glo versprei word om voorbrand vir die NGV te maak.

Van Staden sê dit is teen die voorskrifte van die wet wat bepaal dat die openbaredeelnameproses neutraal moet wees en dat die regering nie sy invloed mag gebruik om mense se keuses te beïnvloed nie.

“Openbare deelname is juis ’n proses vir die publiek om hul insette oor ’n bepaalde proses of wetsontwerp te lewer sonder druk of inmenging van die regering, en om hul demokratiese reg uit te oefen om ten gunste of teen die bepaalde proses of wetsontwerp te wees,” sê Van Staden.

Die brief wat skynbaar deur die Vrystaatse provinsiale regering opgestel is en deur die provinsie se gesondheidsdepartement versprei word, versoek mense om die Nasionale Gesondheidsversekering te ondersteun. Die VF Plus sê dit is onwettig vir die regering om die openbaredeelnameproses te probeer beïnvloed.Foto: Verskaf

Van Staden sê die aptekersraad het in Oktober ’n “boelie”-e-pos aan sy lede in die farmaseutiese bedryf gestuur wat aangedui het dat lede ’n aanhangsel moes voltooi ter ondersteuning van die NGV.

Hy sê die VF Plus het die minister hieroor voor stok gekry waarna die aptekersraad sy lede om verskoning gevra het.

Die VF Plus is tans in die Oos-Kaap om die openbaredeelnameproses te monitor en tree ook op as lid van die portefeuljekomitee oor gesondheid.

Van Staden sê die uitdeel van die pamflette is niks anders nie as ondemokratiese optrede om die NGV-proses te manipuleer om sodoende ’n uitkoms tot voordeel van die regering te bewerkstellig.

Hy sê dit sal ’n ramp wees as die NGV aanvaar word as ’n wet wat voorafgegaan is deur ’n proses van manipulasie wat nie die demokratiese siening van die bevolking of die mediese bedryf weerspieël nie.

’n Afskrif van die e-pos wat aan aptekers gestuur is om hulle te probeer oortuig om die regering se NGV te ondersteun. Foto: verskaf

Van Staden sê die party voel baie sterk daaroor dat die regering ’n proses moet begin om met alle medici in die land oor die NGV te konsulteer.

Van Staden sê daar is glo ook in Mpumalanga tydens die vergaderings oor die NGV onwettig pamflette op stoele gesit om voorbrand vir die NGV te maak.

Mondli Mvambi, woordvoerder van die Vrystaatse gesondheidsdepartement, kon nie Vrydag vir kommentaar bereik word nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.