Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Provinsies moet dienste self bestuur’

’n Provinsiale polisiemag, asook spoorwegdienste en energieverskaffing wat deur die Wes-Kaapse regering bestuur word is van die DA se kerndoelwitte in die komende verkiesing, het Alan Winde, die party se premierskandidaat die naweek gesê.

Hy het beloof om tot die bitter einde te baklei deur die konstitusionele hof, die nasionale regering, die president en ander premiers te nader sodat provinsies groter magte kan hê wat sal insluit dat die polisie, spoordienste en kragverskaffing, wat tans die verantwoordelikheid van die nasionale regering is, deur die provinsies beheer word.

Duisende DA-ondersteuners het Winde Saterdag toegejuig tydens sy toespraak by die Bellville Velodrome, waar hy belowe het om nie net vir die mense van die provinsie te baklei nie, maar ook “teen die mislukking van die nasionale regering”.

Alan Winde
Alan Winde praat Saterdag in die Bellville Velodrome in Kaapstad. Foto: Malherbe Nienaber

“Die nasionale regering is waar die mislukking lê,” het Winde gesê, terwyl hy aangedring het op die desentralisering van die polisiediens.

“Ons moet beheer neem oor ons eie lot. Ons het almal genoeg gehad van die ANC se treindienste in die provinsie. Daar is nie genoeg treine nie, die treine is nooit betyds nie en pendelaarveiligheid kan ook nie verseker word nie.

“Die DA gaan baklei sodat die bestuur en befondsing van die spoorweë uit nasionaal se hande geneem word en aan die provinsies gegee sal word.”

Volgens Winde kan die ANC ook nie verseker dat gemeenskappe in die Wes-Kaap veilig is nie.

“Ons veg sodat die provinsie die mag het om sy eie professionele polisiediens op die been te bring terwyl die verkeersdienste en die metropolisie uitgebrei sal word.”

Kragverskaffing moet ook in die provinsie se hande geplaas word sodat die provinsie self na sy kragopwekking, veral met die hulp van wind- en sonkrag en aardgas, kan kyk.

“Ons sal die korrupte Eskom-middelman uitsny en krag regstreeks van onafhanklike kragverskaffers koop,” sê hy.

Die premierskandidaat sê die DA gaan ook nee sê vir wat hy as die ANC se “rampspoedige Nasionale Gesondheidsversekering” bestempel.

“Ons gaan nee sê net soos hulle (nasionale regering) vir ons nee sê as ons vir iets vra.”

Alan Winde, die DA in die Wes-Kaap se premierskandidaat saam met Mmusi Maimane, die DA-leier. Foto: Warda Meyer

Mmusi Maimane het op sy beurt beaam dit is tyd om van die Passasierspooragentskap van Suid-Afrika (Prasa) ontslae te raak.

“Hulle is besig om ons treindiens in die grond in te bestuur. Ons wil aan die nasionale regering sê ons provinsies wil self die treindienste beheer sodat daar betroubare spoordienste vir pendelaars kan wees.”

Oor die bendes in die Kaap het Maimane gesê: “Ons is in ’n oorlog teen bendes en niemand is aan ons kant nie.”

Hy sê net die DA kan die inwoners van bendegeteisterde gebiede help.

“Onder die DA baklei ons nie net teen korrupsie nie, ons verwyder dit . . . Die nasionale regering steel mense se geld en ons wil dit op ons mense spandeer.”

Meer oor:  Alan Winde  |  Kaapstad  |  Politiek  |  Verkiesing 2019  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.