Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Pta se Msimanga kan Trollip se pad loop

Die kanse is groot dat Solly Msimanga, die DA-burgemeester van Tshwane, Donderdag uit sy pos geskop gaan word, sê politieke ontleders.

Dit kan ’n einde aan die DA-beheerde koalisieregering in dié metropool beteken.

Sowel die ANC as die EFF wil Donderdag ’n mosie van wantroue teen Msimanga bring. As dié twee partye ten gunste van dieselfde mosie stem, sal Msimanga uit sy amp wees.

Die ANC en die EFF het saam 114 setels en 108 stemme word benodig om die volstrekte meerderheid te behaal om die mosie te laat slaag.

Die EFF het vroeër vandeesweek sy posisie as “koningmaker” bevestig in die metro’s waar die DA aan die stuur van koalisieregerings is.

Maandag het die EFF gehelp om Athol Trollip, die DA-burgemeester van Nelson Mandelabaai, deur ’n mosie van wantroue uit sy pos te verwyder.

Msimanga se toekoms as burgemeester in Tshwane sal Donderdag waarskynlik ook deur die EFF bepaal word.

Ons wil eers met Msimanga afreken. Daarna sal ons praat oor wat volgende gaan gebeur.

Ralph Mathekga, ’n politieke ontleder van Pretoria, sê dit sal ’n wonderwerk verg vir Msimanga om ’n mosie van wantroue af te weer.

“As jy kyk na wat in Nelson Mandelabaai gebeur het en ook hoe die EFF homself deesdae van die DA probeer distansieer, voorspel dit niks goeds vir Msimanga nie.”

Ook André Duvenhage, ’n politieke ontleder verbonde aan die NWU, voorspel dat Msimanga Donderdag uit die kussings gelig sal word.

“Die EFF probeer met sy klein magsbasis die DA afpers om meer mag te kry in die aanloop tot aanstaande jaar se nasionale verkiesing,” sê Duvenhage.

Mmusi Maimane, die nasionale DA-leier, het Woensdag ná ’n spesiale sitting van die DA se federale uitvoerende komitee (FUK) op ’n mediakonferensie in Johannesburg oor die “aanslag” op DA-beheerde koalisieregerings gepraat.

“As die EFF môre saam met die ANC in ’n mosie stem, bevestig dit dat hulle besig is om ’n koalisie te vorm. Ek daag die EFF om amptelik aan Suid-Afrikaners te sê dat hulle nou saam met die ANC werk,” het Maimane gesê.

Solly Msimanga, burgemeester van die Tshwane-metroraad.

Volgens hom het die DA-beheerde koalisies in Nelson Mandelabaai, Tshwane en Johannesburg baie reggekry om die “korrupte munisipaliteite” wat in 2016 by die ANC geërf is om te keer.

“Toe ons Tshwane kry, het die munisipaliteit ’n tekort van R2 miljard in sy begroting gehad. Nou is daar ’n surplus in die begroting van R704 miljoen.”

Maimane het bevestig die DA ondersteun Msimanga en gaan nie ’n kandidaat vir die burgemeesterpos voorlê nie. Die EFF het vroeër gesê partye kan ’n kandidate voorlê en die EFF sal vir die “kredietwaardigste kandidaat” stem.

“Ons is nie bereid om ons waardes prys te gee nie, al beteken dit ons verloor mag in van die metro’s waar ’n DA-beheerde koalisie regeer,” het Maimane gesê.

Kgosi Maepa, die ANC-voorsitter in Tshwane, sê sy party en die EFF sal saamwerk om Msimanga uit sy pos te skop. “Ons eerste prioriteit is om van Msimanga en korrupsie in die stad ontslae te raak. As dit daarop neerkom dat die ANC vir die EFF se mosie moet stem, sal ons dit doen.

“Die ANC het nog nie ’n kandidaat bespreek wat dalk by Msimanga kan oorneem nie. Dit gaan nie daaroor dat die ANC beheer van die stad wil oorneem nie, ons wil net teen korrupsie optree.”

Volgens hom vra die ANC vir ’n geheime stemming omdat dit DA-raadslede die vrymoedigheid sal gee om volgens hul gewete te stem.

Die ANC het Sondag vir ’n tussenverkiesing in Tshwane gevra. Maepa wou nie sê of dit steeds die party se amptelike standpunt is nie.

“Ons wil eers met Msimanga afreken. Daarna sal ons praat oor wat volgende gaan gebeur.”

Samkelo Mgobozi, Msimanga se woordvoerder, het by navraag gesê Msimanga wil nie die uitslag van die mosie vooruitloop nie.

“In die lig van die huidige politieke klimaat kan enigiets gebeur. Ons bly nogtans hoop dat dinge in ons guns sal swaai,” het Mgobozi gesê.

Tenderskandaal

Msimanga het vroeër aangekondig dat hy Moeketsi Mosola, die stadsbestuurder van Tshwane, gaan laat ondersoek oor beweringe van onreëlmatighede met tenders.

Die ANC bring nou hoofsaaklik die wantrouemosie omdat Msimanga volgens hulle van die tenderskandaal moet geweet het. Msimanga ontken dit.

Julius Malema, die EFF-leier, het vroeër vandeesweek beweer dat daar ’n heksejag op Mosola uitgevoer word omdat hy nie die belange van die “wit DA-koukus” wil dien nie.

“Indien Mosola wel skuldig is, moes Msimanga daarvan geweet het. Hy kan nie al die skuld op Mosola pak nie,” het Malema gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.