Die EFF het die parlement Dinsdag daarvan beskuldig dat hy nie genoeg publisiteit gegee het aan die wysigings van art. 25 van die Grondwet wat onlangs in die Staatskoerant gepubliseer is nie.
Dié wysiging maak onteiening sonder vergoeding moontlik.
Die EFF sê in ’n verklaring die parlement het die situasie vererger deur dit kort voor Kersfees te publiseer.
Die sluitingsdatum vir openbare kommentaar is reeds 31 Januarie.
Die EFF, wat een van die dryfvere agter onteiening sonder vergoeding is, het ’n beroep gedoen op sy ondersteuners en gemeenskappe, “progressiewe mense, formasies en organisasies” om in groot getalle kommentaar op die wysigings te lewer.
Die party sê as onteiening sonder vergoeding ’n werklikheid word, sal dit ’n historiese oorwinning wees wat nodig is om die land “van kolonialisme te bevry”.

’n Plaas in die Oos-Vrystaat op ’n bewolkte Desember-dag.Foto: Sarel van der Walt
Die proses om art. 25 van die Grondwet te wysig het begin nadat die ANC in Desember 2017 in Nasrec in Johannesburg ’n besluit daaroor geneem het.
Die ANC is diep verdeeld daaroor.
Annelize Crosby, grondhoof van Agri SA, het vroeër gesê die openbare deelname aan die proses is van kritieke belang. Daarom moet die publiek aangemoedig word om kommentaar te lewer op die beoogde wysiging.
Agri SA is een van die landbou-organisasies wat teen die verandering van die Grondwet is.
“Agri SA het vroeër gevra vir ’n langer tydperk vir kommentaar wat in die (parlementêre) ad hoc-komitee bespreek is, maar dit is geweier,” het Crosby gesê.
Prof. Elmien du Plessis, kenner van onteieningswetgewing wat aan die Noordwes-Universiteit in Potchefstroom verbonde is, het ook gesê dit is belangrik dat die publiek aan die proses deelneem omdat die Grondwet deur die veranderinge geraak word.
“Openbare deelname is ’n belangrike aspek van die prosedure. Dit is nie net ’n afmerk-oefening nie. As ’n mens deelneem, weet jy nooit of jy ’n invloed sal hê nie. As jy nie deelneem nie, weet jy beslis,” sê Du Plessis.
“Mense moet egter waak teen die invul van vorms op webwerwe en eerder individuele e-posse stuur.”
Die DA en die VF Plus is onder meer ook teen die wysiging gekant, terwyl AfriForum met ’n openbare werwingsveldtog teen die wysiging van die Grondwet begin het.
TLU SA het vroeër gesê hy maak hom gereed vir ’n hofstryd “om grondeienaars in sake van onteiening sonder vergoeding by te staan”. Hy het reeds begin om op internasionale vlak en van internasionale regskenners aanbevelings te ontvang.
* ’n Afskrif van die konsepwetgewing kan hier gevind word:
https://www.parliament.gov.za/storage/app/media/CommitteeNotices/2019/december/06-12-2019/Draft_advertised.pdf