Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘R10,5 miljard vir SAL was ’n kabinetsbesluit’

Dit was nie sý besluit om ’n reddingsboei van R10,5 miljard aan die SAL te bied nie, maar eerder ’n besluit wat deur die kabinet as geheel geneem is.

Só het Tito Mboweni, minister van finansies, Vrydag in ’n debat van die Nasionale Vergadering (NV) oor die Wysigingswet op die Verdeling van Inkomste gesê.

Die tesourie het op die sitting onder LP’s deurgeloop omdat hy miljoene rande van ander regeringsdepartemente besnoei het om die reddingsboei vir die SAL te finansier.

mtbr2020
Tito Mboweni Woensdag tydens die lewering van sy mediumtermynbegrotingsraamwerk-rede. (MTBR). Foto: Jaco Marais

Die minister het reeds vroeër, toe hy sy mediumtermynbegrotingsraamwerk voorgelê het, aangekondig dat die regering die R10,5 miljard aan die SAL sal gee wat deur dié staatsonderneming se sakeredders aangevra is.

Hulle wil die SAL in ’n kleiner, volhoubaarder lugdiens op kort en mediumtermyn omskep.

Mboweni, wat hom in die verlede al uitgespreek het teen reddingsboeie vir staatsondernemings, het op die sitting gesê sy persoonlike posisie oor die SAL is bekend.

“Maar ons praat hier oor ’n kabinetsbesluit. Die kabinet het besluit ons moet R10,5 miljard vir die sakeredddingsplan vind. Dit is die verantwoordelikheid van die minister van finansies om dit uit te voer.”

Hy het wel toegegee dat sake nie so kan voortgaan nie omdat die lugdiens al verskeie reddingsboeie gekry het om sy skuld te delg.

“Die sakeredders is dit aan almal verskuldig om die proses te voltooi en seker te maak hul plan werk,” het Mboweni gesê.

Geordin Hill-Lewis, DA-LP, het gesê geen regering met trots en pligsbesef sou die SAL red deur elders te besnoei nie.

“Wanneer die toue by die klinieke langer word, wanneer daar geen dokters beskikbaar is nie, wanneer die skoolklasse groter word en wanneer jou salaris dieselfde bly terwyl belasting verhoog word, moet jy die skuld daarvoor op die ANC-regering pak.”

Volgens Hill-Lewis het die regering onder meer R239 miljoen van sy gesondheidsversekeringsprogram, R245 miljoen van sy skoolinfrastruktuurprogram, R180 miljoen vir munisipale infrastruktuur, R340 miljoen vir behuising en R80 miljoen vir water en infrastruktuur weggevat vir die reddingsboei.

Die sakeredders is dit aan almal verskuldig om die proses te voltooi en seker te maak hul plan werk.

Xolani Ngwezi, IVP-LP, het gesê die regering stuur met sy optrede die boodskap uit dat, ongeag onverantwoordelike leierskap, belastingbetalers vir foute sal opdok.

Sfiso Buthelezi, ANC-LP en voorsitter van die staande komitee oor toedelings, het gesê die regering het slegs geld gebruik van departemente wat nie die geld in die huidige finansiële jaar gaan bestee nie.

“Die ANC glo nie dat die werkers van die SAL op hulself aangewese moet wees nie. R2,8 miljard is vir skeidingspakkette begroot en R2,2 miljard om vliegtuigkaartjies terug te betaal. Die ANC wil nie sy rug draai nie, maar sy verantwoordelikheid aanvaar,” het Buthelezi gesê.

Die meerderheid LP’s op die NV het ten gunste van die wysigingswet gestem, wat nou na die Nasionale Raad vir Provinsies (NRP) gestuur sal word vir goedkeuring.

Meer oor:  Sal  |  Tito Mboweni  |  Sakeredddingsplan  |  Reddingsboei  |  Kabinet
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.