Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘R2,8 m. in kattebak’ glo nie omkoopgeld
Lindiwe Makhalema, die burgemeester van Dihlabeng.Foto: FACEBOOK

Lindiwe Makhalema, die burgemeester van Dihlabeng (Bethlehem) in die Oos-Vrystaat, ontken deur haar woordvoerder dat sy die afgelope naweek met R2,8 miljoen se omkoopgeld in haar motor se bagasiebak betrap is.

Volgens bewerings in die sosiale media moes sy glo op ’n ANC-takvergadering ANC-lede omkoop om vir “Nkosazana Dlamini Zupta” en die “Magashupta-groep” – wat verwys na Ace Magashule, die Vrystaatse premier, wat deur die Guptas geïnfiltreer is – te stem.

Maar Thabo Mokoena, Makhalema se strategiese bestuurder en woordvoerder, ontken die bewerings in ’n verklaring ten sterkste.

“Die burgemeester wil graag die gerugte met die nodige minagting verwerp. Dit is niks minder nie as leuens wat deur gesiglose mense versprei word om die goeie naam van die burgemeester skade te berokken.

Dit is ’n goedkoop en desperate poging om die burgemeester as ’n korrupte, immorele en selfdienende politikus te karakteriseer.

“Dit is ’n goedkoop en desperate poging om die burgemeester as ’n korrupte, immorele en selfdienende politikus te karakteriseer. Dit kom van lafaards wat nie haar teenwoordigheid kan verduur nie. Sy doen goeie werk.”

Dit volg nadat Moses Ngwenya, ’n Ramaphosa-ondersteuner, ’n inskrywing op Facebook gemaak het waarin beweer word dat Makhalema in hegtenis geneem is oor R2,8 miljoen wat sy in haar motor se bagasiebak gehad het om mense op die ANC-takvergadering om te koop.

Zulukaya Mchenge Ngxolashe skryf hierop: “Sy moet tronk toe gaan.”

Volgens ’n ingeligte in die ANC het verskeie ANC-takke in die Vrystaatse Motheo-distrik besware by die provinsiale en nasionale uitvoerende komitees ingedien oor klaarblyklike manipulasie van die benoemingsprosesse vir die ANC se provinsiale en nasionale konferensies wat in Desember plaasvind.

Grootskaalse manipulasie tot voordeel van Makhalema en Nkosazana Dlamini-Zuma het by verskeie takke plaasgevind, meen Ramaphosa-ondersteuners wat die komende week op ’n nuuskonferensie hieroor in Bloemfontein wil praat.

Uit frustrasie het van die ANC-lede glo besluit om hierteen te appelleer, sê die ingeligte.

Gwede Mantashe, sekretaris-generaal van die ANC, sê in ’n brief wat landwyd uitgestuur is en wat in Netwerk24 se besit gekom het, dat sekere streke nie voldoen aan die riglyne en prosesse in die hou van ANC-takvergaderings nie.

ANC-kamerade word in die brief daaraan herinner dat die takvergaderings ’n forum is waarop lede hul voorkeure kan uitspreek oor wie hulle moet lei en oor ANC-beleidsienings.

Mantashe maan dat diegene wat takvergaderings organiseer se verantwoordelikheid is slegs om oorsig te doen, te monitor en om te verseker dat alle taklede behoorlik uitgenooi en vrylik aan prosesse kan deelneem sonder om gemanipuleer te word.

“Jul hoofrol is om oorsig te doen. Ons verwag nie van julle om meer as dit te doen nie.”

  • Tjheta Mofokeng het onlangs op Facebook geskryf Magashule moet uit die ANC geskors word omdat hy die ANC verdeel en die organisasie ’n slegte naam gee.

  • Thabo Meeko, Vrystaatse ANC-woordvoerder, sê die Vrystaatse provinsiale ANC-konferensie gaan op 1 tot 3 Desember voort, “maar ons soek nog ’n plek om dit te hou”.

Volgens hom is die faksie-struwelinge binne die Vrystaatse ANC “nie gevegte nie, net verskille in standpunte oor wie hulle moet lei”.

“Dat Makhalema, die burgemeester van Dihlabeng, met R2,8 miljoen se omkoopgeld betrap is, is ’n gerug,” sê hy ook.

Meer oor:  Gwede Mantashe  |  Dihlabeng  |  Omkoopgeld  |  Politiek  |  Korrupsie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.