Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
R48 m. bestee aan muur van net 200 m lank

Terwyl die regering nog besig is om die fiasko by die Beitbrug-grenspos te hanteer, word onreëlmatighede by ’n tweede grensprojek – ’n muur waarvan slegs 200 m gebou maar waaraan R48 miljoen reeds bestee is – vermoed.

Patricia De Lille, minister van openbare werke, het Woensdag toegegee dat die KwaZulu-Natalse Kosibaai-grensprojek “duidelik nóg ’n Beitbrug is”.

Die departement het in ’n sitting van die parlementêre portefeuljekomitee oor openbare ondernemings oor sy aandeel in dié projek deurgeloop.

Die KwaZulu-Natalse departement van vervoer het in 2019 ’n kontrak van R85 miljoen toegeken om ’n grensmuur van 8 km in die gebied op te rig.

Die grensmuur was veronderstel om voertuie te keer wat die Suid-Afrikaanse grens onwettig vanaf Mosambiek oorsteek sodat die insittendes misdade kan pleeg.

Patricia de Lille. Foto: Adrian de Kock

Die portefeuljekomitee het in ’n onlangse verslag bevind dat hoewel R48 miljoen reeds bestee is, is slegs 200 m van die grensmuur tot dusver gebou.

’n Memorandum van verstandhouding tussen De Lille se departement en die KwaZulu-Natalse departement van vervoer is boonop nog nie onderteken nie.

Die provinsiale tesourie het reeds R50 miljoen opgedok vir die projek met die verstandhouding dat die departement van openbare werke die geld later sou terugbetaal.

Luidens ’n voorlegging Woensdag deur die departement van openbare werke het hy geen onreëlmatighede gepleeg nie.

Die amptenaar wat verantwoordelik was vir die memorandum, het egter ’n finale waarskuwing oor die gesloer gekry.

Elphus Mathebula, ACDP-LP, het in die sitting gekla dat slegs een amptenaar bloot gewaarsku is, ongeag die ernstige aard van die situasie en hoewel daar onreëlmatighede soortgelyk as dié by Beitbrug is.

“Die departement het besluit om ’n interne ondersoekproses te begin. Wanneer kry ons ’n verslag met al die besonderhede oor die onreëlmatighede en die gevolge?” wou Mathebula weet.

De Lille, wat later LP’s se vrae beantwoord het, het in reaksie hierop gesê: “Ek kan saamstem dat ek nóg ’n Beitbrug hier sien. Die proses het in 2018 begin en van die 8 km is slegs 200 m voltooi, en ’n mens kan reeds ’n finansieringsprobleem sien.”

Volgens die departement van openbare werke sal hy met die tesourie en die provinsiale vervoerdepartement oor die pad vorentoe vir die beoogde grensmuur vergader.

Die departement is verder in die sitting gekritiseer omdat daar glo oorweeg word om tien van die 13 amptenare wat by die Beitbrug-debakel betrokke was, slegs ’n finale waarskuwing te gee.

Dit is onduidelik wat die presiese rol van die betrokke amptenare was, maar die spesiale ondersoekeenheid het verskeie onreëlmatighede in die tenderproses bespeur van ’n staatskontrak wat in April toegeken is om ’n 40 km lange heining langs die grens met Zimbabwe op te rig.

Intussen is stukke van die grensdraad, wat sowat R37 miljoen gekos het, weggedra en slaag geensins in sy doel om mense uit te hou nie.

Die interne tugproses van die departement teen die betrokke amptenare het nog nie begin nie.

Die spesiale ondersoekeenheid is wel besig met die proses om die geld te verhaal wat die regering aan die diensverskaffers betaal het.

Meer oor:  Beitbrug-Grenspos  |  Patricia De Lille  |  Mosambiek  |  Zimbabwe  |  Grens
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.