Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
R700 m. om presidente, gade op te pas

Meer as R690 miljoen van belastingbetalers se geld is in net die afgelope boekjaar bestee om Suid-Afrika se huidige en voormalige presidente, sowel as hul eggenote, daagliks veilig te hou.

Die DA meen dít is totaal onaanvaarbaar veral omdat die jongste statistieke ook toon dat sowat 1 382 polisiebeamptes in 2017-’18 vir die polisie se presidensiële beskermingseenheid (PBE) gewerk het om die presidente en hul metgeselle, 17 individue in totaal, te beskerm.

Zakhele MbheleFoto: CITY PRESS

Zakhele Mbhele, DA-woordvoerder oor polisie, het Woensdag gesê dit kom neer op sowat 81 lyfwagte per persoon.

“Dit is werklik verstommende getalle siende dat die polisie-tot-bevolkingsverhouding in Nyanga in die Wes-Kaap (die land se moordhoofstad) na raming sowat 1 polisiebeampte vir elke 628 inwoners is.

“Nasionaal is hierdie ratio een polisiebeampte vir elke 369 landsburgers.”

Bogenoemde statistieke is vervat in ’n parlementêre antwoord wat Woensdag deur die parlement bekend gemaak is.

Dít nadat Dianne Kohler Barnard, nog ’n DA-LP, vroeër in ’n parlementêre vraag by Bheki Cele, minister van polisie, wou weet presies hoeveel daar in die afgelope drie boekjare bestee is op die PBE en wat die eenheid se kapasiteit met betrekking tot personeel in daardie tydperke was.

Cele se antwoord het onder meer gelui dat daar in 2015-’16 sowat R618 miljoen bestee is op die eenheid, wat toe ’n bemanning van 1 162 gehad het.

In 2016-’17 is R617 miljoen bestee met ’n bemanning van 1 369.

In 2017-’18 is R693 miljoen bestee met ’n bemanning van 1 382.

Mbhele het verder Woensdag gesê dat dié eenheid luidens ’n parlementêre antwoord verlede jaar ’n totaal van 17 individue beskerm.

“Dit is ’n blatante voorbeeld van hoe die lewe van die elite meer saak maak vir die ANC-regering as dié van gewone landsburgers.

“Terwyl huidige en voormalige staatshoofde en hul eggenote beskerm word, leef miljoene Suid-Afrikaners in konstante vrees om die volgende slagoffers van geweldsmisdaad in ons land te word.”

Volgens hom is dit tyd dat die regering besef dat alle lewens waardevol is en nie net dié van ANC-kaders nie.

“Dit is ’n aanklag teen die ANC-regering dat hy meer as R690 miljoen op die PBE kan bestee terwyl die polisie jare lank kronies onderbeman is.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.