Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Vergadering onwettig, sê Trollip

Die nuwe koalisieregering van Nelson Mandelabaai gaan Vrydag sy eerste raadsvergadering hou, maar Athol Trollip, voormalige burgemeester, beskou dié vergadering as onwettig.

Trollip het by navraag gesê hy weet van geen raadsvergaderings nie, want hy (in sy amp as burgemeester) het nie ’n vergadering bekragtig nie.

Sowel Trollip en Mongameli Bobani, UDM-leier in die metro, glo vas hulle is die eerste burger van die stad.

“Die reëls van die raad sê duidelik ’n raadsvergadering kan net belê word tussen die speaker, die stadsbestuurder, en die burgemeester.

Athol Trollip.

“Ons het nie meer ’n speaker nie, maar ons het ’n burgemeester (met verwysing na homself) en ’n stadsbestuurder, en ek het nie daardie vergadering goedgekeur nie.”

Trollip sê as die nuwe koalisieregering met die vergadering voortgaan, sal dit onwettig wees, en hulle (die koalisieregering gelei deur die DA) gaan dit nie met hul teenwoordigheid wettig maak nie.

Oor of die nuwe koalisieregering Vrydag ’n kworum gaan hê om met die vergadering voort te gaan, sê Trollip: “Ek kan nie sien dat hulle ’n kworum sal hê nie, want die DA het raadslid Victor Manyati se lidmaatskap beëindig. Ons het ook die onafhanklike verkiesingsraad daarvan in kennis gestel.”

Die dag toe Trollip deur ’n mosie van wantroue uit sy amp as burgemeester onthef is, het Manyati sy stem weerhou en só die deurslag gegee vir die mosie om met 60 stemme teenoor 59 te slaag.

“Hulle kan dalk vergader, maar hulle gaan nie ’n kworum het nie.”

Buyelwa Mafaya, speaker van Nelson Mandelabaai, het Vrydag se raadsvergadering bekragtig. Foto: Argief

Raadslede is verlede week in ’n omsendbrief in kennis gestel dat Buyelwa Mafaya, die metro se nuwe speaker, Vrydag se raadsvergadering bekragtig het.

Volgens die brief gaan die raadsvergaderings, wat op 16 en 27 Augustus uitgestel is, Vrydag voort.

Raadslede word ook in die brief gevra om hul agenda vir 16 Augustus saam te bring.

Prof. Joleen Steyn-Kotze, ’n politieke ontleder verbonde aan die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing (RGN), meen die huidige politieke situasie is glad nie goed vir die stad nie.

Steyn-Kotze sê die politici se persoonlike en politieke ambisies geniet dikwels voorkeur bo die wense van die kiesers.

“Dit gaan moeilik wees om te bepaal of besluite wat op die komende raadsvergadering geneem word, sal bly staan met die hofsaak wat kom.

“ ’n Mens weet eenvoudig nie wat die regter wat die saak gaan aanhoor, gaan beslis nie.”

Prof. Pierre de Vos, grondwetkenner, sê wat voortaan in Nelson Mandela-baai gebeur, gaan alles afhang van wat die hof beslis.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.