Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa 1ste respondent in Jiba se dringende aansoek
Adv. Nomgcobo JibaFoto: Jeanne-Marié Versluis

Pres. Cyril Ramaphosa bevind hom Woensdagoggend wéér midde-in nóg ’n hofdrama.

Dié keer teen ’n vasberade adv. Nomgcobo Jiba in die hooggeregshof in Kaapstad waar sy in ’n dringende aansoek haar voormalige pos as adjunkdirekteur van openbare vervolgings by die nasionale vervolgingsgesag (NVG) gaan terugeis.

Dít hangende die afhandeling van ’n hersieningsaansoek waarin sy Ramaphosa se besluit in April vanjaar om haar en adv. Lawrence Mrwebi uit hul senior NVG-poste af te dank tersyde wil laat stel. Sy wil in dieselfde aansoek ook hê dat die bevindinge in die Mokgoro-verslag, wat Ramaphosa vir hul afdanking gebruik het, tersyde gestel moet word.

Jiba het met dié jongste kinkel in dié voortslepende sage Dinsdag die werk gestuit van die parlementêre portefeuljekomitee oor justisie en korrektiewe dienste én die verkose komitee oor veiligheid en justisie. Hul taak is om te bepaal of Ramaphosa die regte besluit geneem het om haar en Mrwebi, oudhoof van die NVG se gespesialiseerde handelsmisdaadeenheid, af te dank.

Dié komitees was Dinsdagoggend gereed om die parlementêre proses te begin om Jiba en Mrwebi se lot te bespreek toe Siviwe Njikela, parlementêre regsadviseur, LP’s van Jiba se dringende interdikaansoek ingelig het.

Volgens hom is die parlement die vierde respondent in dié aansoek. Ramaphosa is die eerste respondent, die nasionale direkteur van openbare vervolging, adv. Shamila Batohi, die tweede en die Mokgoro-kommissie die derde.

Njikela sê dat Jiba se prokureur ook ’n brief aan Thandi Modise, speaker van die Nasionale Vergadering, gestuur het waarin sy ingelig is van die komende hersieningsaansoek.

“Hulle het daarin ook aangedui dat die sub judice-reël in die lig daarvan van toepassing is en dat die parlement daarom sy proses tydelik moet stop.”

Volgens Njikela het die parlement deur die kantoor van die staatsprokureur op dié brief gereageer en uitgestippel dat dit onder meer met Jiba oor die sub judice-reël verskil en dat die parlement sy statutêre plig moet uitvoer deur sy proses voort te laat gaan.

“Gistermiddag (Maandag) is (dokumente vir) dié dringende hofaansoek op die parlement bedien.

“Sy wil met dié aansoek die parlementêre proses tydelik laat opskort totdat haar hersieningsaansoek teen Ramaphosa se besluit om hulle af te dank én teen die Mokgoro-kommissie se bevindinge afgehandel is.”

Die parlement het volgens Njikela besluit om nie Woensdag se aansoek teen te staan nie en om die hofbeslissing te gehoorsaam “om die integriteit van die parlementêre proses te behou”.

Volgens Njikela sal die parlement Woensdag ná die dringende interdikaansoek ’n duideliker prentjie hê oor die pad vorentoe met dié aangeleentheid.

Hy sê dat die parlement Dinsdagoggend ook ’n brief van Mrwebi ontvang het.

Mrwebi het binne die parlement se voorgeskrewe tydperk ’n omvattende skriftelike voorlegging ingedien oor waarom hy in sy ou pos heraangestel moet word. Jiba het nie.

“Mrwebi voel dat die kwessies wat Jiba in haar hofaansoek opper soortgelyk aan syne is en dat sy aangeleentheid ook moet wag totdat die hofprosedures afgehandel is,” sê Njikela.

Bulelani Magwanishe, voorsitter van die portefeuljekomitee, het ná die sitting Dinsdag in ’n verklaring gesê die komitee sal vir Woensdag se hofuitspraak wag.

“Die komitee sal sy program heroorweeg sodra die hofuitspraak in die dringende aansoek gegee het omdat dit verskeie dae opsygesit het om die Jiba-aangeleentheid te hanteer,” sê Magwanishe.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.