Pres. Cyril Ramaphosa sal Donderdag ’n werkbesoek aan Lesotho bring.
Dié bergkoninkryk wat deur Suid-Afrika omring word, gaan tans weer deur ’n moeilike tyd.

Pres. Cyril Ramaphosa Foto: Jaco Marais
Netwerk24 jaco marais
Sowat 12 000 wolboere het verlede maand na die parlement van Lesotho opgeruk. Die land se nuwe wolsentrum is die enigste plek waar Lesotho-boere hul wol kan verkoop en hulle is baie ongelukkig hieroor. Die sentrum behoort aan ’n Chinese burger.
Politieke onrus kom gereeld in die land voor.
Ramaphosa dra baie kennis hiervan aangesien hy, voordat hy president geword het, die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskap (SAOG) se spesiale gesant na Lesotho was. Hy is steeds die SAOG se fasiliteerder oor Lesotho.
Ramaphosa sal tydens sy besoek aan Maseru, die hoofstad, bilaterale gesprekke met Thomas Thabane, die eerste minister, hê. Thabane sal hom waarskynlik op hoogte bring van die nuutste politieke hervorminge in die land.
Ramaphosa sal moontlik ook ’n welwillendheidsbesoek aan koning Letsie III bring en ook ontmoetings hê met burgerlike groepe.