Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa desperaat om ANC te red, sê opposisie
Phumzile van DammeFoto: Jaco Marais

Die DA en die VF+ meen Cyril Ramaphosa, ANC-president, is desperaat om die party te red vir die 2019-verkiesing.

“Niks, behalwe die naam van die man wat die dooie en korrupte ANC lei, het verander nie,” sê Phumzile van Damme, nasionale woordvoerder van die DA, in ’n verklaring.

“Ramaphosa is dieselfde mens wat pres. Jacob Zuma se korrupte aktiwiteite beskerm het teen die mosies van wantroue wat in die parlement teen hom gebring is.”

Volgens haar is die “groot olifant in die kamer” steeds die feit dat Zuma en diegene wat met die Guptas verbind word, die Uniegebou en kritieke posisies in die kabinet beset.

Zuma se vriende en familie sal steeds in weelde leef, terwyl ons mense honger en werkloos bly en Ramaphosa sal niks daaraan doen nie

“Zuma se vriende en familie sal steeds in weelde leef, terwyl ons mense honger en werkloos bly en Ramaphosa sal niks daaraan doen nie.

Dr. Pieter Groenewald, VF+-leier, sê in ’n verklaring dat Ramaphosa se oorbeklemtoning van eenheid in die ANC, asook sy huldeblyke aan gewese helde van die vryheidstryd, ’n aanduiding is van hoe diep die verdeeldheid en faksiegevegte in die party is.

“Dit is duidelik dat alles moontlik gedoen word om eenheid te verseker om sodoende die ANC te red vir die 2019-verkiesing,” lui die verklaring.

“Die ANC se NUK sal nie maklik ’n besluit neem om pres. Jacob Zuma direk te herroep nie, maar alles moontlik word klaarblyklik gedoen om hom te oorreed om vrywillig as president van Suid-Afrika te bedank.”

Van Damme en Groenewald meen albei Ramaphosa kan nie veel doen om die land se ekonomie te stabiliseer nie.

Dr. Pieter GroenewaldFoto: Nasief Manie

“Ramaphosa se verwysing na die ekonomie en sy opmerkings dat wittes te veel eienaarskap het en dat dit is waarom die ekonomie nie groei nie, is dieselfde retoriek as dié van Zuma oor witmonopoliekapitaal wat die rede is vir swak ekonomiese groei,” sê Groenewald.

“Hy sal egter daarteen moet waak om nie soos Zuma al die skuld op wittes te plaas vir die swak prestasie van die ANC nie.”

Van Damme sê Ramaphosa se “silwer tong” kan niks doen om die land se ekonomie te stabiliseer nie.

“As die ANC regtig ernstig is om ontslae te raak van korrupsie, moet hulle eers ontslae raak van Zuma, wat vir die afgelope 10 jaar die middelpunt van groot korrupsieskandale was.

“Ons weet sy presidentskap is gekenmerk deur staatskaping, plundering en die land wat aan sy trawante verkoop is.”

Groenewald sê Ramaphosa het wel verskeie probleemareas in die land, onder meer korrupsie, staatskaping en swak dienslewering, geïdentifiseer.

“Maar net die praktyk sal wys of hy wel werkbare resultate kan lewer.”

Oor die kwessie van grondhervorming sê Van Damme dit is ’n kwessie wat in ooreenstemming met die bepalings van die Grondwet bestuur moet word.

Ramaphosa praat met ’n gesplete tong daaroor. Die ANC was tot nou toe onsuksesvol met grondonteiening

“Ramaphosa praat met ’n gesplete tong daaroor. Die ANC was tot nou toe onsuksesvol met grondonteiening.”

Groenewald sê die beginsel van grondonteiening sonder vergoeding skep steeds groot “ontsteltenis”.

“Die VF+ versoek Ramaphosa om die onderneming van die ANC se topses, in ’n dokument waarin die detail hieroor uitgespel word, so spoedig moontlik beskikbaar te stel sodat almal kan weet wat die ANC se planne is,” sê hy.

“Die VF Plus sal dié sake in die parlement aanraak om antwoorde van die ANC te kry.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Opposisie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.