Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa: Ek is nie ’n diktator nie
Pres. Cyril Ramaphosa Dinsdag met redakteurs en joernaliste by Tuynhuis. Foto: GCIS

Alhoewel pres. Cyril Ramaphosa nie veel wil uitwei of hy hom vir ’n tweede termyn as ANC-president beskikbaar sal stel nie, skroom hy egter nie om te sê dat hy tot dusver goed as president gevaar het nie.

Dít nadat hy Dinsdagmiddag tydens ’n vergadering met die Suid-Afrikaanse Redakteursforum (Sanef) en politieke verslaggewers oor onder meer sy onmiddellike toekomsplanne uitgevra is.

Hy wou net sê dat die ANC hom kollektief as president verkies het en “dat dieselfde ding in 2024 kan gebeur. Bly in die geweste en miskien sien jy weer dieselfde rolprent afspeel”.

Hy meen egter hy is as staatshoof toegewyd om al die moontlike te doen om sy mandaat uit te voer, “al is julle soms geskok”.

“Wat ek altyd nastreef is om my harde werkstempo voort te sit. Ek werk hard. Ek is nie lui nie. Ek bou konsensus. Sommige wil hê ek moet ’n diktator wees. Dit is egter nie my geaardheid nie.”

Volgens hom beskuldig sommige hom dat hy ’n swak president is omdat hy nie werkers by Eskom wil afdank nie. “Dit is oukei as dít my as ’n swak president definieer. Maar in die lig van werkloosheid en afdankings glo ek dat ons eers soveel ander oplossings as moontlik moet vind.”

Ramaphosa het voor dit egter ook gereageer op ’n aantal vrae oor drukkende kwessies van nasionale belang.

Onder volg ’n opsomming van sy antwoorde daaroor:

Die rol van die media

Volgens Ramaphosa deel die regering en die media ’n gedeelde verantwoordelikheid en plig om die demokrasie te handhaaf.

Hy het veral joernaliste geloof vir die kritieke rol wat hulle in die oopvlek van staatskaping, korrupsie en magsmisbruike in die regering, privaat sektor en die samelewing gespeel het.

Resessie

Oor Statistiek Suid-Afrika se aankondiging Dinsdag dat die land in ’n tegniese resessie is, het Ramaphosa gesê dat dit weens beurtkrag, die droogte en verskeie ander faktore nie ’n “skok of verrassing” is nie.

Hy meen dit lig die dringende behoefte uit om die drastiese hervormingsplanne en inisiatiewe wat hy in sy staatsrede en Tito Mboweni, minister van finansies, in sy begrotingsrede aangekondig het, te implementeer.

Covid-19

Ramaphosa meen dié virus gaan ’n massiewe uitwerking op ekonomieë wêreldwyd hê omdat dit ’n onmiddellike negatiewe invloed op internasionale reise, sowel as in- en uitvoere het.

Hy meen die waarskynlikheid is hoog dat Suid-Afrika ook gevalle sal hê soos dit internasionaal versprei.

“Die ergste is die uitwerking wat dit op die gesondheid van ons mense gaan hê, maar ons sal al die moontlike doen om hulle te beskerm.”

Volgens Ramaphosa moes ’n Nordiese eerste minister hom binnekort kom besoek het, maar het dié dit Maandag gekanselleer omdat van sy eie landsburgers ook besmet is en hy daar moet bly.

“Verder gaan konferensies ook gekanselleer en uitgestel word. So dit gaan ’n enorme invloed hê.”

Gemor oor snye aan salarisrekening

Volgens Ramaphosa het sy administrasie Maandag met ontstoke vakbonde daaroor vergader.

“Hul kommer is verstaanbaar. Hulle argumenteer dat werkers nie die offerlam moet wees nie.

“Hulle stel voor dat daar eerder op die vermindering van korrupsie en onreëlmatige en vermorste uitgawes gefokus moet word vir besparings.”

Volgens Ramaphosa gaan Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, ook binnekort met die vakbonde daaroor vergader.

“Ons sê nie dat almal se salarisse in die helfte gesny moet word nie, maar net dat ons oor die persentasievlakke van verhogings in die staatsdiens moet herbesin.”

Volgens Ramaphosa lyk dit asof vakbonde egter bereid is om daaroor te praat.

Die vakbond Sapawu het Dinsdag egter gedreig dat hy sy eweknieë deur die staatsdiens heen vir massa-optrede teen die planne sal mobiliseer.

Cosatu het Dinsdag ook weer aangedui dat hy dit nie sal aanvaar nie.

Volgens Ramaphosa moet die salarisrekening, wat byna 40% van die begroting uitmaak, egter verminder word en sal daar ook na alle ander besparingsmeganismes gekyk word.

Kommissies van ondersoek

Die Zondo-kommissie van ondersoek sal volgens Ramaphosa met sy nuwe spertyd voortduur.

“Hulle het soos ons ook besef dat dit baie langer gaan duur om hul werk af te handel. Ons moet hulle toelaat om hul werk klaar te maak.”

Volgens Ramaphosa sal hy “binne dae” die verslag oor die ondersoek na die Openbare Beleggingskorporasie vrystel.

Chaos by universiteite

Volgens Ramaphosa is dit onaanvaarbaar dat universiteitseiendom deur gegriefde studente vernietig word.

Hy meen egter al die moontlike is gedoen om gratis tersiêre onderrig en -opleiding aan arm- en werkersklas-studente te verskaf.

Volgens hom sal daar voortaan egter ook op planne gefokus word om hoe om die sogenaamde “vermiste middel”-studente in beursplanne te akkommodeer, meer verblyfgeriewe te bou en hoe om gefinansierde studente beter te laat slaag.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  President  |  Verkiesing
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.