Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa gooi SA se deure oop

Dit is nou noodsaaklik dat Suid-Afrika dringend beweeg om sy ekonomie te herbou, groei te herstel en werk te skep.

“Dit is nou die taak van ons geslag en ons werk begin vandag,” het pres. Cyril Ramaphosa Woensdagaand gesê toe hy die land regstreeks toegespreek en aangekondig het dat vlak 1 van die nasionale staat van inperking te midde van die Covid-19-pandemie van Sondagnag middernag sal geld.

Hierdeur word sommige van die knellendste laaste beperkings vir die ekonomie verwyder en gaan selfs buitelandse besoekers kort daarna, op 1 Oktober, toegelaat word, helaas onder streng voorwaardes.

“Die toerismesektor is een van die land se vernaamste ekonomiese drywers. Suid-Afrika is reg om te heropen en toeriste by ons toeristebestemmings te verwelkom.”

Ramaphosa het gesê die maatskaplike vennote by Nedlac (die Nasionale Ekonomiese, Ontwikkelings- en Arbeidsraad) het ná verskeie weke geweldige vooruitgang gemaak met ’n ambisieuse maatskaplike plan vir ekonomiese herstel.

“Dit verteenwoordig ’n historiese mylpaal vir ons land en wys wat kan bereik word wanneer ons verenig om ’n dringende krisis te konfronteer.”

Ramaphosa het gesê die kabinet sal in die komende weke voortbou op dié gemeenskaplike grond wat bereik word om die land se heropbou- en herstelplan te finaliseer. Daar sal ook voortgebou word op die maatskaplike en ekonomiese verligtingspakket van R500 miljard wat in April aangekondig is en wat onmisbare steun verskaf het aan huishoudings, maatskappye en werkers.

Die president het gesê dit sal die gesamentlike poging van elke Suid-Afrikaner verg om die land tot welvaart en ontwikkeling te herstel. Hy het gesê deur saam te staan het Suid-Afrikaners die storm van die Covid-19-pandemie weerstaan en daarom kan die inperkingsvlak nou ná ses maande van swaarkry tot vlak 1 verlaag word.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa Woensdagaand in die Uniegebou in Pretoria. Foto: Presidensie
Ons kan nie ’n tweede golf bekostig nie, want dit sal verwoestend wees. Dit hang nou van elke Suid-Afrikaner af om te verseker dat dit nie gebeur nie.

“Dit is tyd om te skuif na wat ons nuwe normaal sal word vir so lank as wat die virus met ons is,” het hy gesê.

“Twee maande gelede, in die middel van die storm, het ons ’n kommerwekkende 12 000 nuwe gevalle per dag aangeteken. Nou het ons gemiddeld 2 000 nuwe gevalle per dag en ’n herstelvlak van 89%,” het Ramaphosa gesê. Hy het egter gewaarsku dat sommige lande in baie gevalle ’n tweede golf van infeksies ervaar het wat erger as die eerste een was.

“Ons kan nie ’n tweede golf bekostig nie, want dit sal verwoestend wees.

“Dit hang nou van elke Suid-Afrikaner af om te verseker dat dit nie gebeur nie.”

Hy het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om die Covid Alert SA-app op hul selfone af te laai. Dit sal dit makliker maak om nuwe uitbrekings doeltreffend te identifiseer en te beveg. Dié app sal mense in kennis stel as hulle die vorige 14 dae in noue kontak was met iemand wat met die virus besmet was.

“Ons moet onsself nou veilig hou om ons ekonomie oop te hou,” het hy gesê. “Ons moet die ekonomie weer laat groei om werkgeleenthede te kan skep.”

Ramaphosa sê ook die spesiale ondersoekeenheid maak goeie vordering in sy ondersoeke na korrupsie in die verkryging van persoonlike beskermende toerusting en het reeds sy eerste verslag aan hom oorhandig.

Sodra al die ondersoeke afgehandel is, sal dit openbaar gemaak word.

WAT MOET JY WEET

  • Vlak 1 tree Maandag in werking.
  • Meer mense mag nou byeenkom.
  • Gimnasiums en teaters mag nou 50% vol wees.
  • Die verbod op sportgeleenthede bly van krag.
  • Internasionale reise word vanaf 1 Oktober toegelaat.
  • Aandklokreël verslap.
  • Alkohol nou ook op Vrydae verkoop.
  • Maskers bly verpligtend.
Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Inperking  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Vlak 1
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.