Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa ‘help om ekonomie te laat herleef’

Pres. Cyril Ramaphosa het “’n nuwe geur, inslag en benadering” gebring, asook nuwe vertroue geskep om Suid-Afrika se ekonomie weer te kan laat groei,” sê Roelf Meyer, ’n voormalige minister in die vorige bedeling.

“Dit is soos Rassie (Erasmus) met die Springbokke. En dít is belangrik omdat Suid-Afrika elke slag (ook ekonomies) goed gevaar het nadat ons die Wêreldbeker gewen het. Soos in 1995 en 2007. So ons moet dit weer wen,” het Meyer Maandagoggend op ’n ontbytsessie in Stellenbosch gesê.

Roelf Meyer aan die woord op die ontbytsessie.Foto: JACO MARAIS

Meyer was in gesprek met Freek Robinson en ander gaste in die Zarose-gastehuis oor onder meer die inisiatiewe wat onder sy leiding agter die skerms aan die gang is om die Vennootskap tussen die Privaat en Openbare Sektore verder na groei en voorspoed te voer.

Hy het gesê die afgelope 18 maande sedert Ramaphosa aan die bewind gekom het, is reeds goeie vordering gemaak.

“Daarom kon die president in Junie vanjaar aankondig dat daar reeds verbintenisse uit die private sektor gemaak is om sowat R840 miljard se nuwe beleggings in Suid-Afrika te maak.

“Die verbintenisse is dus daar. Ons moet nou net die samewerking tussen die regering en die private sektor bewerkstellig.”

Hy het bygevoeg dat veral sukkelende sektore soos byvoorbeeld die konstruksiebedryf opnuut gehelp moet word om te kan presteer.

Meyer het gesê Suid-Afrika moet ook verlore grond herwin soos wat dit in die 1990’s gedoen is in terme van die swak toestand van die ekonomie “en hoe ons (destyds) daardeur gekom het”.

“Ons het egter onder pres. Ramaphosa die vermoë om die regering en die private sektor bymekaar te bring. Ons het in die afgelope 18 maande aansienlik gevorder.”

Volgens hom is Johan van Zyl, uitvoerende hoof van Toyota in Europa, die Midde-Ooste en Afrika, “die ou wat die gesprekke (vir die openbare/ private inisiatief) aanmekaargesit het”

“Toe Cyril sy eerste toespraak met die Thuma Mina-tema in Februarie 2018 gelewer het, was ek toevallig in Brussel.” Van Zyl is tans in dié stad in België gesetel.

“Ek en Johan het daar bymekaargekom en hy het gesê ons moet namens die private sektor ’n aanbod gaan maak waar elke sektor hom tot sekere groeidoelwitte met die oog op werkskepping vir die volgende vyf jaar sal verbind. Dit terwyl die regering aan die ander kant belemmerings sal oplos om groei te verseker.”

Volgens Meyer het hulle Ramaphosa daaroor gespreek en is drie sektore as voorbeelde uitgewys – die motorbedryf, landbou en toerisme – vanweë die geweldige groeipotensiaal.

“Tans het ons meer as 20 sektore wat in die proses saamwerk.

“Daar was Vrydag ’n vergadering op Gallagher Estate tussen die regering en die sektore om vir die volgende vyf jaar sogenaamde meesterplanne op te stel waarop hierdie groei gefokus kan wees.”

Meyer meen die private sektor het vanweë die inisiatief tans toegang tot die regering, ministers en departementshoofde soos nog nooit die afgelope 25 jaar nie.

“Ek dink ons is in die begin van ’n omdraai-fase waarvan ons die vrugte waarskynlik oor drie tot vyf jaar sal pluk.”

* Meyer het bygevoeg dat daar sedert 1994 twee groot foute in terme van maatskaplike samehorigheid tussen die verskillende rasgroepe begaan is.

“Die een was toe oudpres. FW de Klerk uit die (destydse) regering van nasionale eenheid gestap het. Dit moes nie gebeur het nie, want daarmee het ons ’n lyn getrek in die verhoudinge tussen swart en wit in die land. En ons het nooit daarna daarin geslaag om daardie verhoudinge te herstel nie.

“Die ander groot fout was natuurlik Zuma se koms. Ons almal weet wat die uitwerking daarvan was.”

Meer oor:  Pres. Cyril Rama­Phosa  |  Roelf Meyer  |  Ekonomie  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.