Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa: ‘Klarigheid oor onteiening noodsaaklik’

Die finalisering van die wysigings aan die Grondwet om duidelik uit te stippel hoe grondonteiening sonder vergoeding gaan werk, is “een van die belangrike take” van die nuwe parlement.

Pres. Cyril Ramaphosa het dié opmerking Woensdag in sy repliek op die debat oor sy staatsrede gemaak.

Dit kom nadat Julius Malema, EFF-leier, hom Woensdag onder meer daarvan beskuldig het dat die ANC grondonteiening sonder vergoeding as ’n verkiesingsbelofte gebruik het en gewaarsku het oor die moontlikheid van ’n spontane “revolusie” wat daaroor kan uitbreek.

President Cyril Ramaphosa
President Cyril Ramaphosa. Foto: Jaco Marais

Ramaphosa het egter gesê die staat is vasbeslote dat grond verdeel moet word onder diegene wat dit bewerk en dit benodig.

Die verslag van die presidensiële raadgewende paneel oor grondhervorming en landbou sal binnekort bekend gestel word. “Dié verslag sal die finalisering van ’n omvattende, verreikende en transformerende grondhervormingsprogram uitstippel.”

Die parlement moet ook die Onteieningswetsontwerp debatteer en finaliseer waarin die modaliteite en omstandighede uiteengesit sal word waaronder onteiening sal plaasvind.

“Onteiening is ’n belangrike strategie om grond te bekom. Dit is belangrik omdat dit ons in staat stel om grondhervorming pro-aktief en op ’n beplande manier uit te voer. Dit maak ons vry van ’n wag-en-kyk-benadering wat afhanklik is van verkope in die mark. Onteiening sonder vergoeding in gedefinieerde omstandighede sal ons toelaat om dit te doen teen ’n koste wat redelik is vir die mense van Suid-Afrika,” het Ramaphosa gesê.

Daar moet egter in gedagte gehou word dat dit één van die instrumente is om landelike hervorming en ruimtelike regverdigheid te bereik.

Julius Malema
Julius Malema

Ramaphosa het ook gesê hy hét ’n duidelike plan en visie vir Suid-Afrika.

Dit lê opgesluit in die sewe prioriteite wat hy in sy staatsrede uitgestippel het.

Dit nadat hy in die debat onder kritiek deurgeloop het weens sy verwysing na superstede en blitstreine in sy staatsrede.

Hy het gesê die werk om die Suid-Afrika te bou waarna gestreef word, begin dadelik.

Die dringendste take is om die ekonomie weer aan die gang te kry en werk te skep.

Geen kortpaaie en vinnige oplossings bestaan egter nie.

“Ons moet die regte goed doen; dit goed doen en dit sonder verwyl doen. Die eenvoudige werklikheid is dat ons groei in die ekonomie moet stimuleer om werk te skep om geleenthede vir nuwe besighede te gee om te ontstaan en om die stand van ons openbare geldsake te verbeter,” het hy gesê.

Beleggingsveldtogte gaan vanjaar verhoog word omdat dit resultate lewer. Die land gaan in November sy tweede beleggerskonferensie hou omdat verbintenisse wat op verlede jaar se konferensie gemaak is, vrugte afwerp. “Dit is die beleggings wat in die maande en jaar vorentoe nuwe werk sal skep, nuwe kettings sal ontwikkel en plaaslike ekonomieë nuwe lewe sal gee. Dit is nie ’n droom nie, maar ’n werklikheid.”

Suid-Afrika werk daarna om ’n staat van entrepreneurs te word. Die uitbreiding van handel en belegging met die res van Afrika word ywerig nagejaag.

Ander kwessies waaraan Ramaphosa ook geraak het in sy repliek was staatsinstellings en misdaad.

Hy het gesê vordering is te bespeur in die maatreëls wat in Februarie aangekondig is om beurtkrag te beëindig en om ’n volhoubare geldelike en bedryfsplan in te stel. “Ons is nou betrokke by die situasie by Eskom en staan die instelling by met die toepassing van sy negepuntplan, om ’n wêreldklas- uitvoerende span in te stel, die direksie te versterk en om ’n omvattende padkaart vir Eskom vir die toekoms uiteen te sit.”

Instellings soos die SAL en Denel word ook ondersteun.

Wat misdaad betref, het Ramaphosa gesê dit vernietig gemeenskappe en skeur die maatskaplike struktuur uitmekaar. Jong lewens word verloor deur die euwel van misdaad, bendegeweld en middelmisbruik. ’n Deel van die regering se reaksie is om die sigbaarheid van die polisie te verhoog, die aantal leerling-polisielede te vermeerder en om howe vir seksuele oortredings te bevorder om geslagsgegronde misdaad aan te pak en om gemeenskapspolisieforums te versterk.

Ramaphosa het ook gesê dat elke minister ’n prestasie-ooreenkoms sal onderteken waarvolgens hulle ontleed sal word vir dit waarvoor hulle aanspreeklik gehou word.

Meer oor:  Julius Malema  |  Pres. Cyril Rama­Phosa  |  Anc  |  Eff  |  Staatsrede 2019  |  Politiek  |  Grondonteieing  |  Da
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.