Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa maak rug styf oor Moyane

Tom Moyane, geskorste kommissaris van die Suid-Afrikaanse Inkomstediens (SAID), het aan pres. Cyril Ramaphosa gesê hy sal sy tasse pak en loop as die regering sy salaris vir die oorblywende 18 maande van sy kontrak – insluitende sy bonusse – betaal.

Ramaphosa het sy rug styf gemaak en botweg geweier.

EWN het Woensdag berig hy het ’n brief van Ramaphosa se regspan aan Moyane onder oë gehad waarin die president weier om ’n skikking aan te gaan.

Tom Moyane. Foto: Wikus de Wet

Dit is uit dié brief glo duidelik Ramaphosa stel nie in enige skikking belang nie.

Die president wil hê die kommissie van ondersoek na Moyane se geskiktheid vir die pos as kommissaris, moet voortgaan. Oudregter Kate O’Reagan lei dié kommissie.

Moyane het vroeër daarop aangedring dat die presidensie moet betaal vir ’n moontlike hofgeding met Ramaphosa.

Die president weier ook dat die staat vir Moyane se regskoste in die ondersoek van die kommissie betaal.

Ramaphosa se prokureurs sê in die brief die SAID het geen beleid dat hy betaal vir sy werknemers se regskoste in tugondersoeke nie.

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Dan Xangaza

Daily Maverick het Woensdag berig Moyane het aangevoer die prosesse van die kommissie van ondersoek wat die president ingestel het, is verkeerd en onregverdig teenoor hom. Hierop is Ramaphosa se antwoord dat Moyane die beskuldigde is en nie sy eie tugproses kan bepaal nie.

Ramaphosa het aanvanklik aangebied die staat sou Moyane ses maande se salaris betaal in ruil daarvoor dat hy bedank. Dit is later tot ’n jaar se salaris verleng, maar Moyane het dit verwerp en met regstappe gedreig. Hy is toe geskors.

Die Sunday Times het vroeër berig Moyane wil Ramaphosa hof toe neem nadat hulle glo op 18 Maart vanjaar op mekaar geskree het in ’n rusie oor miljoene rande wat die SAID aan die Gupta-familie betaal het.

Ramaphosa het Moyane luidens die berig in diepte uitgevra oor ’n BTW-terugbetaling aan Oakbay, een van die Guptas se maatskappye.

Die president het glo in ’n stadium aan Moyane gesê hy het vertroue in hom verloor en hom gevra om te bedank.

Die presidensie het nog nie op ’n versoek om kommentaar gereageer nie.

So ook nie Eric Mabuza, Moyane se prokureur, nie.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.