Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa ‘moet Ace, Sisi vasvat oor behuising in Vrystaat’

Miljoene rande se vermeende behuisingsbedrog in die Vrystaat is die hart van staatskaping in die provinsie.

Dit het tyd geword dat Ace Magashule, voormalige Vrystaatse premier, en sy opvolger, Sisi Ntombela, hieroor deur pres. Cyril Ramaphosa verantwoordbaar gehou word.

So sê Patricia Kopane, Vrystaatse DA-leier, in ’n sterk bewoorde nuusverklaring, waarin sy onder meer skerp vrae vra oor 11 000 onvoltooide huise in die Vrystaat waarby niemand baat vind nie.

cyril ramaphosa, ace magashule
Cyril Ramaphosa (links), die nuwe ANC-leier, en Ace Magashule, nuwe sekretaris-generaal van die ANC, nadat hulle in die naweek tot hul nuwe poste verkies is. Foto: Deaan Vivier

Dit terwyl die veronderstelde begunstigdes ook nooit eienaarskap gekry het nie.

“Die DA in die Vrystaat doen ’n beroep op pres. Ramaphosa om beslissend op te tree wat die menigte behuisingsbedrogskandale betref,” sê Kopane.

Ntombela, wie se kommentaar Saterdag hieroor gevra is toe die ANC sy verkiesingsmanifes in Bloemfontein bekend gestel het, het aan Netwerk24 gesê sy gaan sorg dat die 11 000 onvoltooide huise in die Vrystaat nog voor die einde van Junie vanjaar voltooi is.

Sisi Ntombela, Vrystaatse premier, sê mense moet net wag en kyk hoe die finale ANC-lyste sal lyk. Foto: News24

“En ons gaan al die boukontrakteurs/tenderaars wat met geld weggeloop het sonder om hul kontrakte te voltooi vasvat en hulle van die register afhaal sodat hulle nooit weer werk by die regering kry nie.”

Kopane het in haar mediaverklaring gesê die DA het al strafregtelike klagte teen geïmpliseerde politici by die polisie en die openbare beskermer (OB) ingedien.

“Ons het ook ’n lang lys vrae by die Vrystaatse wetgewer ingedien, waarop nie gereageer word nie.”

Kopane het gesê die DA wil toesien dat ministers, LUR’e, burgemeesters en raadslede oor korrupsie in hegtenis geneem word.

Volgens haar is die behuisingsdepartement "die hart van staatskaping in die Vrystaat".

“Die departement beweer in sy verslag dat daar sedert 2015 altesaam 11 000 onvoltooide huise in die Vrystaat is. Daar is ook honderde gevalle waar projekte net nooit die lig sien nie, selfs sommige grondeise waar die betrokke begunstigdes net nog nooit hul huise ontvang het nie.

“Intussen is die behuisingsdepartement bankrot.”

Patricia Kopane Foto: Argief

Kopane het gesê die DA het betroubaar verneem dat ’n massiewe R28 miljoen aan Tekeweni Civils van KwaZulu-Natal vir die bou van 2 000 tegnologies alternatief geboude huise by Vrede gegee is. Maar toe dit blyk dat die projek gaan misluk, is dit na die Vrystaatse Ontwikkelingskorporasie (VOK), pleks van die departement van menslike nedersettings, oorgeskuif.

“Die stap word bevraagteken omdat die VOK nie ’n mandaat vir behuising het nie.”

Mafuri Consulting is toe vir die projek gehuur, terwyl die VOK steeds dieselfde projek dieselfde tyd bestuur het. “Die laat vrae ontstaan oor die rolle wat die twee afsonderlike maatskappye in die projek gespeel het.”

Die rede waarom die DA duidelikheid oor die saak eis, is omdat Hantsi Mayeza, die VOK se voorsitter, aandele in Mafuri Consulting het.

Die VOK en Mafuri Consulting het boonop albei betalings van R21 258 426,18 van die departement van menslike nedersetting ontvang vir dieselfde pligte wat hulle uitgevoer het.

“Dit het onder die waaksame oog van Mosebenzi Zwane, die vorige LUR vir behuising in die provinsie, gebeur.”

Kopane het gesê dit is ’n duidelike aanduiding dat die ANC se praatjies om swart nyweraars op die been te bring slegs lippetaal is.

“As die ANC tenders uitdeel, gaan dit nie oor gemeenskapsontwikkeling nie, maar om hulself en diegene in hul nouer binnekring te verryk.”

Kopane het gesê die afgelope week is twee senior amptenare in die Dihlabeng-munisipaliteit (Bethlehem) in hegtenis geneem nadat hulle by die behuisingskandaal in Vogelfontein geïmpliseer word.

Die amptenare sal in die hof moet verskyn nadat die DA klagte oor die saak by die polisie ingedien het.

“Soos met die Vrede-suiwelprojek is dit amptenare wat in hegtenis geneem word, terwyl die politici ongeskonde daarvan afkom.”

Meer oor:  Vrystaat  |  Politiek  |  Ace Magashule  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.