Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa moet kyk na kontrakte vir Ace se seuns

Die DA in die Vrystaat gaan die Covid-19-kontrakte ter waarde van R2,7 miljoen wat die Vrystaatse provinsiale regering glo aan twee seuns van Ace Magashule, sekretaris-generaal van die ANC, toegeken het vir die verkryging van persoonlike beskermende toerusting (PPE’s), Maandag by pres. Cyril Ramaphosa aanmeld.

Hulle wil kyk of die president sy belofte gestand sal doen en of hy ook teen die sekretaris-generaal sal optree, sê David van Vuuren, DA-woordvoerder oor finansies in die Vrystaatse wetgewer, nadat Daily Maverick berig het dat twee maatskappye wat besit word deur twee seuns van Magashule, Covid-19-kontrakte met ’n gesamentlike waarde van R2,7 miljoen gekry het.

Vrae word gevra oor die kontrakte omdat Gadija Brown, Vrystaatse LUR vir finansies wat na bewering baie na aan Magashule staan, die aankoop van Covid-19-goedere by haar departement gesentraliseer het.

Brown is Vrydag verskeie kere vir kommentaar gebel, maar ’n woordvoerder wat een keer geantwoord het, het gesê Godfrey Mahlatsi, hoof van die departement, sal vrae hieroor antwoord. Dié antwoorde is nog nie ontvang nie.

In die Vrystaatse jongste tenderbulletin wat op 17 Julie gepubliseer is, word die name gegee van sowat 70 sakeondernemings wat kontrakte vir Covid-19-verwante goedere en dienste in die Vrystaat bekom het. Die totale waarde daarvan is sowat R173 miljoen.

In dié lys word die name van Motheko Projects en Marvel Deeds ingesluit.

Tshepiso Magashule, oudste seun van Ace, is Motheko Projects se enigste direkteur, volgens die maatskappye-register of -rekords.

Motheke Projects het maskers en vloeibare handseep verskaf, kon Netwerk24 vasstel.

Tshepiso se jongste broer, Thato, word weer gelys as die enigste direkteur van Marvel Deeds, berig The Daily Maverick. Netwerk24 het vasgestel dat Marvel Deeds handsaniteerders verskaf het.

Volgens die tenderbulletin het Motheko Projects ’n kontrak van R2,29 miljoen gekry en Marvel Deeds ’n kontrak met die waarde van R427 221.

Van Vuuren sê nou in sy kommentaar dit is nie verbasend vir die DA dat daar bewerings is van die betrokkenheid van Magashule se familielede in die toekenning van Covid-19-kontrakte in die Vrystaat nie.

“In regerings- en wetgewerkringe is dit bekend dat Magashule die provinsie deur afstandbeheer regeer.”

Hy sê die jongste bewerings bevestig “dat ons huidige premier, Sisi Ntombela, glad nie bereid is om die regering van die Vrystaat in ’n nuwe rigting te stuur nie.”

Ntombela is ook verskeie kere om kommentaar gebel, maar sy het nie die telefoon geantwoord nie.

Van Vuuren sê dié soort nepotisme met kontrakte het ’n kenmerk van die Vrystaatse regering geword.

Die DA het tydens die premierskantoor se begrotingsdebat ’n aantal ongerymdhede met die toeken van tenders en die misbruik van kospakkies vir politieke doeleindes op ’n virtuele platform uitgewys. Die premier se antwoord was dat dit blyk dat die DA nie met haar wil saamwerk nie.

“Die DA sal nooit deel word van die ANC se korrupsie, nepotisme, en finansiële wanbestuur nie en sal die moontlike doen om sulke ongerymdhede uit te wys, te ontbloot en te laat ondersoek,” sê Van Vuuren.

Hy sê die DA gaan Maandag die kontrakte aan die president voorlê met die versoek dat hy sy belofte rondom optrede in sulke gevalle gestand sal doen.

“Die gaan ’n toets wees of pres. Ramaphosa sy man kan staan teen sy sekretaris-generaal.”

Die kontrakte aan die twee Magashule-broers word gelys onder kontraknommer SCMQ 5 COVID-19 2020.

• Ace Magashule is verskeie kere op sy persoonlike nommer gebel, maar hy het nie die foon geantwoord nie.

• Pule Mabe, woordvoerder van die ANC en Magashule, het twee keer gesê hy is in ’n vergadering en sal nie nou kan praat nie.

• Khusela Diko, Ramaphosa se woordvoerder, het haar ook vandeesweek self van haar verpligtinge by sy kantoor onthef hangende ondersoeke oor haar man, koning Thandisizwe Diko, se groot tender vir PPE’s wat na bewering R125 miljoen beloop het en van die Gautengse departement van gesondheid bekom is, maar wat intussen glo gekanselleer is.

Koning Diko het in ’n verklaring saam met sy vrou gesê die kontrak was net vir R78 miljoen en nie R125 miljoen nieu.

Die Gautengse ANC-leierskap het ook intussen versoek dat Bandile Masuku, Gautengse LUR vir gesondheid, en sy vrou, Loyiso, ook op verpligte verlof geplaas word nadat onreëlmatighede oor Covid-19-tenders aan die lig gekom het. Die Masuku’s en die Diko’s is volgens die gesamentlike verklaring glo goeie vriende.

Van Vuuren sê die DA gaan nou ondersoek instel na elkeen van die Covid-19-tenders wat deur die Vrystaatse regering toegeken is en gaan vrae hieroor in die wetgewer vra.

Meer oor:  Ace Magashule  |  Vrystaat  |  Provinsie  |  Verkryging  |  Kontrakte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.