Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa, die tyd raak min, sê OB oor skenking

Pres. Cyril Ramaphosa moet nou teen 21 Junie, ’n dag ná sy staatsrede, antwoorde aan adv. Busisiwe Mkhwebane, openbare beskermer (OB), verskaf vir haar ondersoek na ’n skenking van R500 000 van die omstrede dienstemaatskappy Bosasa.

Adv. Busisiwe Mkhwebane. Foto: Morapedi Mashashe

Mkhwebane het in ’n brief aan Mmusi Maimane, DA-leier bevestig dat sy ’n kennisgewing ingevolge art. 7 (9) van die Wet op die Openbare Beskermer aan die president uitgereik het.

Só ’n kennisgewing stel iemand formeel in kennis dat die OB se kantoor inligting het wat hulle kan impliseer by wandade en gee hulle die geleentheid om daarop te reageer.

Sy sê Ramaphosa wil mense met wie sy onderhoude gevoer het, insluitend Maimane, kruisondervra. Sy het die president egter versoek om die vrae aan haar te stuur sodat sy kan bepaal of dit geregverdig en toelaatbaar is.

Sy het aangedui dat die president gevra het vir uitstel tot 28 Junie. Sy het egter haar brief afgesluit deur te sê hy het tot 21 Junie om te reageer.

Die presidensie het Woensdag in ’n verklaring bevestig dat Ramaphosa die kennisgewing ontvang het, maar uit dié verklaring blyk dit dat die president uitstel gevra het tot 21 Junie, ’n versoek wat die OB toegestaan het.

Ramaphosa se versoek om Maimane en verskeie ander getuies te kruisondervra, word ook in die verklaring bevestig.

“Die president bly daartoe verbind om ten volle met die openbare beskermer saam te werk en om te verseker dat die kwessie spoedig afgesluit word,” lui die verklaring.

Mkhwebane het dié brief, waarvan die inhoud Woensdag bekend geraak het, geskryf in reaksie op ’n brief wat Maimane Maandag aan haar geskryf het en waarin hy insae vra in ’n ongeredigeerde weergawe van haar voorlopige verslag na die ondersoek.

Dit kom nadat die Sunday Independent, wat die voorlopige verslag onder oë gehad het, Sondag berig het Mkhwebane het bevind Ramaphosa het die parlement “onopsetlik mislei” en nagelaat om ’n Bosasa-skenking van R500 000 vir sy veldtog om in 2017 ANC-president te word, te verklaar.

Sy het luidens die berig ook bevind dat Ramaphosa die Grondwet en die etiese gedragskode vir die uitvoerende gesag geskend het en dalk by geldwassery betrokke kan wees omdat die skenking van Gavin Watson, uitvoerende hoof van Bosasa, deur middel van verskeie tussengangers gemaak is.

Mkhwebane se ondersoek het gevolg op ’n versoek deur die DA en die EFF nadat Ramaphosa in November verlede jaar in die Nasionale Vergadering (NV) gereageer het op ’n vraag van Maimane ten opsigte van die Bosasa-skenking.

Dit is nou duidelik dat pres. Ramaphosa verwikkel is by ’n korrupsieskandaal.

Mkhwebane het in reaksie op Maimane se brief geskryf dat sy Ramaphosa op 30 Mei in ’n kennisgewing ingevolge art. 7 (9) van die Wet op die Openbare Beskermer gevra het om binne tien werkdae daarop te reageer.

Mkhwebane het ter afsluiting van haar brief daarop gewys dat sy die president tot 21 Junie gegee het om sy respons aan haar te stuur sodat sy haar ondersoek kan afhandel en die verslag kan uitreik.

Azola Mboniswa, Maimane se woordvoerder, het in reaksie gesê die DA-leier het kennis geneem van die jongste verwikkeling.

“Dit is nou duidelik dat pres. Ramaphosa verwikkel is by ’n korrupsieskandaal. Bosasa het vir hom ’n president gekoop op dieselfde wyse waarop die Guptas vir hulle ’n president gekoop het.”

Hy meen dit is voortydig om te sê of Maimane hom beskikbaar sal stel vir kruisondervraging deur Ramaphosa. “Sodra daar só ’n versoek is, sal hy ’n regsmening inwin, maar daar was nog geen so ’n versoek nie.”

Mboniswa het bygevoeg Maimane sien uit na die finalisering van die verslag en die finale bekendstelling en tertafellegging daarvan in die parlement.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.