Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa: ‘My familie se grond is gesteel’
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: GCIS

Pres. Cyril Ramaphosa het Saterdagoggend by ’n seremonie oor grondherstel gesê hy weet hoe seer dit maak as jy van jou grond verwyder word, aangesien sy familie se grond ook twee keer gesteel is.

Die seremonie is in Mamelodi, naby Pretoria in Gauteng, vir tien gemeenskappe gehou wat titelaktes en finansiële vergoeding ontvang het.

“Almal van ons het gedeelde pyn. My eie familie is met dwang verwyder, ons grond is op twee geleenthede gesteel en van ons weggeneem,” het Ramaphosa gesê.

Hy het bygevoeg dat die wond van onteiening en vernedering steeds sigbaar is.

“Maar as die regering is ons bereid om die wond te genees en dit sal genees wees as die grond aan sy regmatige eienaars teruggegee word.”

Die Kommissie vir die Herstel van Grondregte het die suksesvolle grondeise van R203 miljoen gefasiliteer. Gemeenskappe in Tshwane, Johannesburg en Ekurhuleni trek voordeel hieruit.

Pres. Cyril Ramaphosa spreek die skare toe by die seremonie oor grondherstel in Mamelodi, naby Pretoria in Gauteng. Foto: GCIS

Titelaktes is aan die Mahlangu- en Malobola-familie oorhandig en nege ander eisers het finansiële vergoeding ontvang.

Ramaphosa sê dié groepe het hul grond verloor toe die pre-demokratiese administrasies ingevolge die Naturellegrondwet van 1913 hulle skielik van hul eiendomme verwyder het.

“Ons vier vandag die skikking van tien grondeise in Gauteng wat voor 31 Desember 1998 ingedien is,” sê Ramaphosa.

“Baie van ons mense het heeltemal te lank gewag vir die proses van grondherstel en vergoeding om afgehandel te word. Ons waardeer die eisers se geduld en volharding, maar ons erken dat daar dringend baie meer gedoen moet word.”

Die Malobolo-familie het die spesifieke grond van die 1800’s tot 1967 beset en die Mahlangu-familie het van 1936 tot 1960 op die grond gewoon.

“Die pynlike verhale van die twee families eggo in ’n duisend verskillende plekke oor die land heen, waar mense van hul geboortereg, hul grond en hul lewensbestaan ontneem is.”

Onder meer die prokureurs se briewe en mondelinge bewyse het die eise regverdig.

Enigiemand wat die legitimiteit van die eise bevraagteken, kan slegs na die geskiedkundige tekste kyk om antwoorde te kry, sê Ramaphosa.

Hy sê toe die buitelanders destyds hier geland het, is hulle met ope arms verwelkom. Nie net het die setlaars ’n toevlug gehad nie, maar hulle het ook vriendskap, grond en kos ontvang.

“Maar hulle het besluit dis nie genoeg nie omdat hulle deur gierigheid gedryf was. Hulle het toe die waardevolste besitting, ons mense se grond, met dwang gevat.

“Wat noem jy dit as grond sonder vergoeding gevat word? Is dit nie diefstal nie? Dis diefstal.”

Ramaphosa sê mense moenie by die verlede stilstaan nie, maar eerder na die verlede kyk om hulle te help om die toekoms te navigeer.

“Grondhervorming gaan uiteindelik oor die toekoms. Ons bou ’n Suid-Afrika wat aan almal wat hier woon, behoort.

“Ons is vandag die getuies van ’n nuwe Suid-Afrika wat uit die as van die ou land gebou word. Ons is die getuies van families en gemeenskappe wat geregtigheid kry.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Grondhervorming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.