Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa oor kabinet: ‘Hou dié spasie dop!’

’n Kabinetskommeling word tans oorweeg, sê pres. Cyril Ramaphosa.

Pres. Ramaphosa Donderdag by die Gallagher Estate-inentingsentrum in Midrand. Hy, Mmamoloko Kubayi-Ngubane, waarnemende minister van gesondheid (met die geel hoed), en David Makhura, Gautengse premier, het dit besoek om te kyk hoe die inentings vorder. Foto: GCIS

“Hou hierdie spasie dop!” het hy Donderdagmiddag aan joernaliste gesê wat hom tydens ’n besoek aan die Gallagher Estate-inentingsentrum in Midrand, Gauteng, daaroor gepols het. Ramaphosa het dié sentrum besoek om te sien hoe die Covid-19-inentings vorder wat daar toegedien word.

Hy het sy kaarte egter dig gehou en nie verklap presies wanneer ’n kabinetskommeling verwag kan word nie.

“Daar is egter ’n proses onderweg. Ons het ’n vakante ministerspos. Dit sal so gou moontlik aandag kry.”

Hy het gesê hy is bewus daarvan dat almal in Suid-Afrika tans oor ’n kabinetskommeling praat.

“Ek het gesê dat die ontplooiing van mense in verskeie poste in die regering duidelik ’n aangeleentheid is wat die gedagtes en aandag van ’n president te alle tye besig hou.

“Ek weet daar is baie angstigheid, ongeduld en opgewondenheid. Dit is ’n aangeleentheid wat oorweeg word. Al wat ek sal sê, is: Hou hierdie spasie dop!”

Ramaphosa het bygevoeg dat die huidige waarnemende ministers – die minister in die presidensie ná Jackson Mthembu se dood en die minister van gesondheid nadat dr. Zweli Mkhize geskors is – “uitstekend vaar”.

Druk vir ’n kabinetskommeling bou egter reeds geruime tyd op, veral ná ministers soos Bheki Cele (polisie), Ayanda Dlodlo (staatsveiligheid) en Nosiviwe Mapisa-Nqakula (verdediging) se trae hantering van voorverlede week se onluste en plundertogte in KwaZulu-Natal en Gauteng. Honderde mense is tydens die onluste dood en skade van miljarde rande is aangerig.

Ek weet daar is baie angstigheid, ongeduld en opgewondenheid. Dit is ’n aangeleentheid wat oorweeg word. Al wat ek sal sê, is: Hou hierdie spasie dop!

“Ons het erken dat ons swak voorbereid was op die chaos wat uitgebreek het. Ons ondersoek dit alles. Ek evalueer ook alles anders.”

Ramaphosa het dit egter ook duidelik gemaak dat die gemengde boodskappe wat verskeie ministers ná die onluste uitgestuur het, verby is.

“Ek het daaraan aandag gegee. Dit is nou opgeklaar. Wat ons basies gesê het, is dat die gekibbel in die openbaar moet stop. As regering moet ons konsekwent met een boodskap wees. Dít is baie duidelik gemaak. Van nou af sal julle samehangendheid in regeringsboodskappe sien.”

Ramaphosa is ook baie bekommerd oor die dodelike geweld tydens die onluste in Phoenix, Durban.

Dit het baie gevoelens aan alle kante ontlok. Mense het gesterf. Daar is ’n diep, diep seer wat baie mense voel.

Volgens hom moet mense nie die reg in eie hande neem of mense teiken nie.

Dié kwessie bly ’n prioriteit en sal deeglik ondersoek word.

Hy verkeer ook onder enorme druk om Mkhize permanent te vervang. Mkhize is te midde van die voortslepende Covid-19-pandemie tans met spesiale verlof nadat hy by die Digital Vibes-tenderskandaal betrek is.

Volgens Ramaphosa is hy in besit van die spesiale ondersoekeenheid se verslag oor sy ondersoek na die Digital Vibes-tender.

“Daar is nog ’n paar kwessies ten opsigte daarvan wat afgehandel moet word. Sodra dit alles gedoen is, sal ek aan die nasie verduidelik hoe presies ek die verslag sal hanteer. Ek weet daar is ongeduldigheid, maar ek sal nie vir ewig daarmee sit nie.”

Oor Khusela Diko, sy woordvoerder wat al langer as ’n jaar met spesiale verlof is nadat ook sy by beweerde tenderkorrupsie betrek is, het Ramaphosa gesê dié saak word binne die presidensie afgehandel en oorweeg.

LEES OOK: Digital Vibes: Mkhize moet R4 m. opdok, sê SOE 

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.