Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa paai die wildbedryf

Pres. Cyril Ramaphosa se sakevennote in die wildteelbedryf is bekommerd oor grondonteiening sonder vergoeding, al het die president verlede week vir hulle gesê Suid-Afrika moet nog meer wildplase kry.

Dié Ugandese Ankole-stoetbees is deel van die 15 lotte wild van pres. Cyril Ramaphosa wat verlede Saterdag vir R19,7 miljoen opgeveil is.

Ramaphosa het sowat 400 van die grootste wildkopers van oor die wêreld heen verlede Vrydag op sy wildplaas Phala Phala Wildlife in Bela-Bela toegespreek voor ’n veiling van Stud Game Breeders.

Die president is een van ses vennote in Stud Game Breeders, ’n groep wildboere wat eksotiese wild teel en verkoop.

Volgens een van Ramaphosa se vennote wat nie sy naam genoem wil hê nie, was Ramaphosa se toespraak insiggewend, maar hy het in die algemeen gepraat.

“Hy het nie die reëls verduidelik nie en daar was geen duidelikheid oor hoe daar aan die Grondwet getorring kan word sonder om beleggers af te skrik nie. Dit maak ons bekommerd,” sê die vennoot.

Hy het nie die reëls verduidelik nie... dit maak ons bekommerd.

Jacques Malan van die Lumarie- wildteelplaas in Bela-Bela, voorsitter van Stud Game Breeders, sê Ramaphosa het wel benadruk dat die bedryf belangrik is vir die ekonomie. “Hy het daarop gewys dat sowat 20 miljoen hektaar grond hoofsaaklik deur wit boere vir die wildboerderybedryf aangewend word en dat dit tot 30 miljoen hektaar vermeerder moet word om swart mense die geleentheid te bied om toegang tot die bedryf te verkry,” sê Malan.

“Dit is vir ons bemoedigend.”

Ramaphosa het ’n soortgelyke stelling gemaak toe hy op 25 Augustus die hoofspreker was op die biodiversiteitskonferensie in Thohoyandou in Limpopo.

Hy het toe gesê die wildboerderybedryf groei teen ’n hoër koers as die ekonomie en dat swart mense ook toegang tot die bedryf moet verkry. Hy het daarop gewys daar is meer as 9 000 kommersiële wildplase in Suid-Afrika, wat 17% van die land se grondoppervlakte dek en waarop sowat 20 miljoen wild aangehou word.

Hy het gesê die land se biodiversiteit kan help om duisende werkgeleenthede te skep, maar dat dit belemmer word deur onvoldoende toegang tot finansiering, ondoeltreffende grondgebruik, ’n gebrek aan vaardighede, swak toegang tot markte en ’n gebrek aan ondersteuning vir infrastruktuurontwikkeling vir entrepreneurs.

Nog ’n vennoot in Stud Game Breeders, Richard Morton van die plaas Tembani in Thabazimbi, sê hy wil liewer niks sê nie. “Ons kry reeds baie kritiek dat ’n ANC-politikus deel is van ons groep.”

Louis van Rensburg van Van Rensburg Auctions in George wat die veiling bygewoon het, sê hy was beïndruk deur Ramaphosa se positiewe boodskap oor wildboere se toekoms en hul bydrae tot die ekonomie. Volgens Van Rensburg is dit jammer dat boere nie agterna met Ramaphosa kon praat nie, want Ramaphosa is die Vrydagaand na China vir ’n amptelike besoek.

Ramaphosa was daarom ook nie by Saterdag se veiling nie toe 15 lotte van sy gemsbokke, swartwitpense en sy skaars Ugandese Ankole-stoetbeeste van die hand gesit is.

’n Veldtog op Facebook om die veiling te boikot, het nie veel impak gehad nie. Die boikotters was kwaad omdat R19,7 miljoen se wild wat aan Ramaphosa behoort, daar opgeveil is.

Sowat 400 van die wêreld se grootste wildkopers het sowat R99 miljoen se eksotiese wild, soos Kaapse buffels en koedoes, gekoop. Die veiling is gehou op die Zebula-gholflandgoed, maar baie van die kopers is vooraf onthaal op Ramaphosa se wildplaas.

Onder die belangrike gaste wat in private vliegtuie en helikopters by die veiling aangekom het, was van die grootste grondeienaars in die land. Daar was ook kopers van Amerika, China en Brittanje.

Malan sê hy het Ramaphosa sowat tien jaar gelede aan die wildbedryf bekendgestel.

Malan sê die wildbedryf word net soos die res van die landboubedryf geraak deur die onsekerheid oor grondonteiening sonder vergoeding. “Maar die pryse wat op ons veiling behaal is, wys dat daar ’n opswaai en meer vertroue in die mark is,” sê hy.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.