Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa prys taxi-baas vir nuwe genderbeleid

Pres. Cyril Ramaphosa was Woensdagaand verheug om te hoor hoe ’n taxibaas verskoning vra vir die manier waarop werkers in die bedryf vroue behandel en belowe om verandering te bring.

Phillip Taaibosch, voorsitter van die taxi-vereniging Santaco, het die verskoning op die eerste dag van die jaarlikse 16 dae van aktivisme vir geen geweld teen vroue en kinders in ’n televisiegesprek oor geslagsgeweld aangebied.

“As taxibedryf vra ons verskoning aan alle vroue en kinders asook mense met gestremdhede, wat ons ondersteun, dat ons nog steeds nie die nodige respek teenoor julle betoon nie,” het hy gesê.

“Ons gaan nou aktief gehoor gee aan die oproep op mans om teen verkeerde gedrag, veral teenoor vroue en kinders, op te staan.

“Nie net vir 16 dae nie, maar vir 365 dae sal ons rondry met plakkers op ons voertuie wat lui: ‘Not in our name’,” het hy gesê.

Pres. Cyril Ramaphosa lewer Woensdagaand sy toespraak. Foto: Skermgreep

Ramaphosa het dié toespraak as geskiedkundig bestempel.

“Ons het gehoor van verskeie sektore en groepe, maar dit is goed om te hoor dat die hoof van die taxi-organisasie Santaco voor die nasie staan en erken, en om verskoning vra, dat vroue en kinders nie in hul geledere reg behandel word nie.

“Dit beteken dat die boodskap insink. Ek wil die leiers loof vir dié geskiedkundige verklaring. Ons moet dit verwelkom dat hulle van nou af sal sê ‘nie in ons naam nie’ en dat hulle beloof om te help om daardie boodskap oor te dra.”

Ramaphosa het gesê die Suid-Afrikaanse vlag hang van vanoggend af halfstok ter nagedagtenis aan dié wat hul lewens verloor het aan twee pandemies – Covid-19 en geslagsgeweld.

“Op die oomblik, iewers in ons pragtige land, word ’n vrou aangerand, geslaan of geterroriseer. Hulle ondervind dit op straat, by die skool, by die universiteit, by die werk, by die kerk en die ergste van alles, by die huis.

“Hierdie jaar vra ons, hoe lank moet dit nog aanhou? Hoe lank moet ons aanhou sê ‘genoeg is genoeg’? Dit kan net nie voortgaan nie.

“Vanjaar sal die veldtog vir 16 dae van aktivisme op ekonomiese bemagtiging fokus. Ons glo dat ekonomiese vryheid vroue groter beheer oor hul lewens gee. Ons glo beslis dat wanneer jy ’n vrou bemagtig, bemagtig jy die hele nasie.”

Ramaphosa het gesê meer geleenthede moet vir vroue beskikbaar wees, in die openbare en private sektor. “Ons gaan verseker dat vroue toegang tot grond en goedere kry.

“Die private sektor moet ondernemings van vroue beter met opleiding en finansiële bydraes ondersteun. Die regering kan dit nie alleen doen nie.

“Die sektor vir finansiële dienste word ook gevra om aan vroue se behoeftes te voorsien wanneer dit kom by lenings of bankkostes.

“Dié dienste moet dapper genoeg wees om lenings aan Suid-Afrika se vroue te gee. Ondernemings in vrouebesit is baie meer toegewyd daaraan om lenings terug te betaal,” het hy gesê.

Mej. SA, Shudufhadzo (Shudu) Musida (24) het haar ook teen gendergeweld uitgespreek. Foto: Verskaf

“Geweld teen vroue is nie vroue se probleem nie, dit is mans se probleem. Ons moet verantwoordelikheid neem vir die gebruike wat inbreuk maak op vroueregte en dit staak.

“Kom ons neem verantwoordelikheid om dié pandemie te stop. Kom ons kom na vore met inligting. Kom ons dring daarop aan dat die polisie hierdie sake ernstig opneem.

“Kom ons ondersteun slagoffers, kom ons glo ons kinders as hulle sê hulle word mishandel. Kom ons kyk beter na kinders in ons sorg.”

Mej. SA oor geslagsgeweld

Shudufhadzo Musida, Mej. SA, meen ’n hele gemeenskap moet saamwerk om geslagsgeweld te pak. Dit bestaan as gevolg van toksiese manlikheid, sê die 24-jarige van Limpopo.

“Almal moet om die tafel kom sit, nie net vroue nie. Vroue word geleer hoe om op te tree om hul veiligheid te verseker, maar mans moet eerder onderrig word.

“Daar moet ook nie stigmatisering wees wanneer die slagoffers na vore kom nie. ’n Onlangse studie wys een uit elke drie vroue wêreldwyd was al die slagoffers van geslagsgeweld.

“Daar moet ook ondersteuning wees vir vroue se geestesgesondheid. Ek is versigtig om geestesgesondheid met geweld te verbind, want een lei nie gewoonlik na die ander nie en dit is nie ’n verskoning nie.

“Mans moet verantwoordelik gehou word. Dit is nie die skuld van vroue, van alkohol, of van geestesgesondheid nie. Dit is ’n pandemie.”

Meer oor:  Santaco  |  Gendergeweld  |  Geslagsgeweld
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.