Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa se aankondiging ’n ‘belediging’

Wat jy moet weet van die sitting Woensdag in Oudtshoorn, in die Eden-distrik, oor die grondhervormingskwessie. Dit was die eerste sitting in die Wes-Kaap:

* Die meeste van die mense wat die sitting bygewoon het, steun die wysiging van die Grondwet om onteiening sonder vergoeding wettig te maak.

* Net enkele sprekers het verwys na pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Dinsdagaand dat die ANC grondonteiening sonder vergoeding gaan deurvoer.

* Baie mense verwys na grond wat tydens die apartheidsjare van mense weggeneem is, en die erkenning wat die Khoi as die eerste nasie van die land moet kry.

* Elke spreker het drie minute gehad om sy saak te stel.

Die grondregteorganisasie Southern Cape Land Committee (SCLC) swaai Woensdag plakkate by die openbare sitting oor grondonteiening sonder vergoeding in Oudtshoorn. Foto: Jackie Kruger

Sydney Opperman, ’n voormalige burgemeester van George, het gesê Ramaphosa se aankondiging voordat die proses (openbare sittings) afgehandel is, is ’n belediging. “Wat is dan die doel met die proses?”

Hy het ook verwys na die legitimiteit van die proses en gesê “dit sal nie 100% wees voordat die inheemse mense erken word nie”.

Marius Leen van die Khoi-gemeenskap in Knysna het gesê grond behoort aan geen ander mense as die Khoi nie.

“As die Khoisan uit die Grondwet gelaat word, gaan ons ons name van die kieserslys afhaal.”

“Die sitting het steeds ’n doel,” het Ricardo Bhetsha van die grondregte-organisasie Southern Cape Land Committee (SCLC) oor Ramaphosa se aankondiging gesê.

“Hulle moet luister vir die mense en kan nie sommer net besluit nie.”

Celia le Roux van De Rust het gesê hulle is die vyfde geslag wat boer.

Annelie Lotriet, DA-parlementslid, en Mosiuoa Lekota, leier van Cope, Woensdag op die openbare sitting in Oudtshoorn. Foto: Jackie Kruger

“Ek beklemtoon my voorouers het die grond gekoop en nie gekry nie.”

Volgens haar werk “ ’n wonderlike groep mense op die plaas” en is die Grondwet reg soos dit nou is, en moet dit nie verander word nie.

Sy het ook verwys na 25% grond wat reeds in staatsbesit is.

“Waarom word dit nie verdeel nie,” het sy gevra.

Melikaya Xego, die EFF se Wes-Kaapse sekretaris, het gesê hulle steun die wysiging.

“Wit mense het met gewere hierheen gekom en ons mense gekorrupteer, slawe gemaak en die grond gesteel.”

Volgens hom was die proses van gewillige koper/verkoper die afgelope 24 jaar futiel. Uitsettings sonder hofbevele op plase kan nie goedgepraat word nie.

Mxolosi Pikinini, ’n boer van Mosselbaai, op die openbare sitting in Oudtshoorn. Foto: Jackie Kruger

“Soveel grond as moontlik moet onteien word vir opkomende boere,” het hy gesê.

Mxolosi Pikinini, ’n boer van Mosselbaai, het gesê hy is reeds die afgelope sewe jaar “opkomend”.

“Niemand was goed vir my in my 44 jaar nie. Nie die apartheidsregering vir 20 jaar nie, en nie die ANC vir 24 jaar nie.”

Pikinini het onder meer oor die wysiging gesê alle “gate” sal toegemaak moet word, want hofgedinge gaan volg. Volgens hom het hy ’n plaas van 806 ha, maar toe die projek in sy finale stadium was en vee gebring moes word, is dit uit die bloute gestaak.

Julia le Roux van Oudtshoorn meen die Grondwet moet nie verander word nie.

“Wat ons nodig het, is dat wetgewing vir grondhervorming hersien moet word.”

Arno Greyling van AfriForum het onder meer gesê die proses van gewillige koper/verkoper was nie die probleem nie, maar wel die toepassing daarvan. Afriforum is gekant teen die wysiging.

“Dit is ’n selektiewe proses en baie duidelik gemik op wit Suid-Afrikaners.”

Letitia Arries van die EFF in George het gesê die Suid-Kaap het ’n speelgrond vir rykes geword. “Prime grond word gebruik vir gholflandgoedere. Ons kan nie dit meer toelaat nie.”

Meer oor:  Oudtshoorn  |  Wes-Kaap  |  Grondonteiening  |  Grondhervoming
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.