Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa se ‘inkonsekwente besluite’ skietgoed vir kritici
Pres. Cyril Ramaphosa Foto: AP

Dit is volgens kenners hoofsaaklik inkonsekwente besluite wat daartoe gelei het dat die lof wat pres. Cyril Ramaphosa aanvanklik vir sy hantering van die Covid-19-pandemie ingeoes het, verdwyn het.

Steven Gruzd van die Suid-Afrikaanse Instituut vir Internasionale Aangeleenthede (Saiia) sê by navraag Ramaphosa se bestuur van die pandemie is sowel goed as sleg.

“In die begin was daar ’n plan wat alle politieke partye, die sakegemeenskap en die burgerlike samelewing ingesluit het.

“Sy kragdadige optrede en die dra van ’n masker kontrasteer byvoorbeeld met die ontkenning wat deur pres. Donald Trump en pres. Jair Bolsonaro van Brasilië, die twee mees besmette lande ter wêreld, getoon word.

“Gereelde openbare inligtingsessies het mense ook gerusgestel. Maar dinge in Suid-Afrika het vererger en dit raak vinnig buite beheer.”

Gruzd sê een van Ramaphosa se swak punte is dat hy besluiteloos voorkom.

Prof. Theo Neethling, politieke ontleder aan die Universiteit van die Vrystaat, sê in die laaste tyd is die president veral verkwalik vir inkonsekwenthede in die regering se Covid-19-besluite.

“Minibustaxi’s mag byvoorbeeld vol gelaai word, wat ’n groot gesondheidsrisiko skep, maar alkohol mag nie verkoop word nie. Boonop is die jongste verbod aangekondig sonder enige konsultasie met die drankbedryf.

Die voortslepende onsekerheid oor skole se heropening en die president se stilswye gee ook aan sy kritici skietgoed.

“Die voortslepende onsekerheid oor skole se heropening en die president se stilswye gee ook aan sy kritici skietgoed.

“Daar was ook teenstrydige besluite wat die toerismebedryf laat kopkrap het.”

Neethling sê hy moet Ramaphosa se kritici gelyk gee dat hy nie lyk na ’n leier wat die leisels altyd ferm in die hand het nie. Dit lyk nie meer of hy die land rustig, maar rigtinggewend, deur die Covid-19-uitdagings stuur nie.

“Die kritiek is myns insiens grootliks geregverdig, hoewel ’n mens moet toegee dat die span wat hy bestuur, sekerlik nie altyd optree asof hulle in die A-liga speel nie.”

Sanusha Naidu, senior navorsingsgenoot van die Institute for Global Dialogue, sê dit is onregverdig om Ramaphosa met ander wêreldleiers te vergelyk.

“Elke wêreldleier het unieke uitdagings wat die bestuur van die pandemie betref. Niemand het die perfekte antwoorde nie.

“Ramaphosa het besliste leierskap getoon en die nasionale Covid-19-bevelsraad op die been gebring en ’n goeie span saamgestel. Ons situasie is ook uniek. Ons het reeds voor die pandemie uitdagings gehad.”

Ramaphosa sal moet pa staan vir hoe die pandemie hanteer word.

“Hy moenie toelaat dat gemengde boodskappe uit sy kabinet kom nie.

“Wat die krisis wel weer blootgelê het, is dat dit moeilik is om die party en staat van mekaar te skei.”

Ramaphosa word ingeperk deur verskillende kampe in sy kabinet en die burgerlike samelewing.

Naidu sê hoe hy die pandemie gaan bestuur, gaan sy nalatenskap wees.

Neethling sê die geskiedenis sal Ramaphosa oordeel oor wat hy gedoen of nagelaat het om te doen.

“As nog mense werkloos word en ’n kosskaarste die lot van meer mense gaan word, sal Ramaphosa baie van die skuld daarvoor moet dra.

“Dit is maar hoe dit werk – die finale verantwoordelikheid berus by alle presidente, of iets goeds of slegs in hul land gebeur.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Presidentskap  |  Presidensie  |  Koronavirus  |  Koronakrisis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.