Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa waarsku oor water, maatskaplike onrus

Tensy Suid-Afrika ernstige maatreëls instel om sy waterbronne te beskerm, sal wateronsekerheid die land se grootste ekonomiese en ontwikkelingsuitdaging word.

Dit sal selfs die land se huidige elektrisiteitsprobleme klein laat lyk.

As die land maatskaplike onrus wil voorkom, sal hy gemeenskappe se toegang tot water moet verbeter, die land se waterinfrastruktuur moet herstel en verbeter en waterbronne beter moet bestuur.

Dié skerp waarskuwing kom van pres. Cyril Ramaphosa in sy jongste weeklikse nuusbrief wat Maandag verskyn het.

Dit kom ook net enkele dae nadat Lindiwe Sisulu, minister van water, sanitasie en menslike nedersettings, die regering se omvangryke meesterplan vir water in Pretoria bekend gestel het.

Ramaphosa skryf met sy besoek aan Limpopo verlede week is hy opnuut daaraan herinner hoe ernstig die waterprobleem is waarvoor die land te staan kom.

Toegang tot water bly ’n groot uitdaging vir talle Suid-Afrikaners.

“Suid-Afrika is ’n baie droë land en ons het nie groot riviere wat deur die jaar vloei soos ander lande in die wêreld nie.”

Hy skryf dit nie, maar dit is bekend dat Johannesburg die grootste stad in die wêreld is wat nie langs ’n groot rivier of die see geleë is nie en waarvoor water van elders hierheen gepomp moet word.

“Om die waarheid te sê, Suid-Afrika se gemiddelde reënval is 500 mm per jaar vergeleke met die wêreldgemiddelde van 860 mm. Ons is die 30ste droogste land ter wêreld,” sê die president.

“Die afgelope dekade se droogte het baie groot druk geplaas op ons waterstelsel en ’n verwoestende invloed gehad op landbou en gemeenskappe in veral die Oos-Kaap, die Noord-Kaap, die Wes-Kaap, die Vrystaat, Noordwes en Mpumalanga.

“Op die oomblik is die land se damme gemiddeld 58% vol vergeleke met 69% ’n jaar gelede,” skryf Ramaphosa.

“Ons bestaande waterstelsel is reeds oorontgin en die verbruik neem vinnig toe weens die bevolkingsgroei en al hoe meer huise wat wateraansluitings kry.

“Voeg hierby die nadelige invloed van klimaatsverandering, en dit is duidelik ons word deur verskriklike omstandighede in die gesig gestaar.”

Pres. Cyril Ramaphosa

Ramaphosa sê die beskikbaarheid van water in die land is nie net vir menslike gebruik van kritieke belang nie, maar ook vir die land se ekonomie, industrialisering, die mynwese en landbou.

Wat die huidige droogtetoestande betref het Ramaphosa gesê die nasionale rampbestuursentrum koördineer maatreëls om die invloed van die droogte te versag.

Ondersteuningsprojekte soos die sink van boorgate en die verskaffing van watertenks in droogtegeteisterde gebiede is ingestel.

Die regering het vroeër vanjaar R260 miljoen se droogtehulp beskikbaar gestel en onder meer aangebied om boere te help met die aankoop van voer.

Hy besef dié bedrag is onvoldoende. Daarom werk die nasionale rampbestuursentrum ten nouste met provinsiale regerings en munisipaliteite saam om te kyk hoe hulle hul begrotings kan aanpas.

“As die droogte op lang termyn voortduur, sal tegnologie ingespan moet word om byvoorbeeld verdamping te verminder, water uit misweer te onttrek en wolkbespuiting,” skryf Ramaphosa.

Hy sê tans is R146 miljard nodig om die land se waterinfrastruktuur op te knap.

Die eerste projekte wat dringend aandag sal geniet is die Umkomazi-waterprojek in KwaZulu-Natal, die Groot Letaba-waterprojek in Limpopo en die Mzimvubu-waterprojek in die Oos-Kaap.

Die spesiale ondersoekeenheid het verlede week ’n klopjag uitgevoer op die Lepelle-waterraad as deel van die beweerde korrupsie met die Giyani-waterprojek in Limpopo.

Hy gee toe kwessies soos verantwoordbaarheid en goeie regering bly ’n probleem.

Meer oor:  Droogte  |  Klimaatsverandering  |  Ramaphosa  |  Water  |  Weeklikse Nuusbrief  |  Dienslewering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.