Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa wil staatskaping deeglik vasvat
Adj.pres. Cyril Ramaphosa in ’n gemoedelike luim in Oos-Londen.Foto:

Korrupsie en staatskaping sal vanjaar in al sy vorms en aan alle fronte beveg word, sê adj.pres. Cyril Ramaphosa.

Hy het Saterdag in Oos-Londen gesê die ondersoek en vervolging van diegene wat vir die staatskaping verantwoordelik is, is ook ’n topprioriteit vir die ANC.

Die onmiddellike aanstelling van ’n regterlike kommissie van ondersoek na staatskaping wat pres. Jacob Zuma aangekondig het, is deel van die aksie wat beplan word.

Ramaphosa het tydens die ANC se sogenaamde 8 Januarie-boodskap bygevoeg meganismes vir die aanstel van individue in senior regeringsposisies, staatsentiteite (SOE’s) en wetstoepassingsagentskappe sal versterk word om deursigtigheid te verhoog en onbehoorlike beïnvloeding te voorkom.

Dit is een van talle sleutelprioriteite wat die ANC in 2018 wil laat realiseer en wat Ramaphosa Saterdag by die party se 106de bestaansjaarvieringe uiteengesit het.

Die ANC se top ses by die verjaardagkoek. Foto: Lulama Zenzile

Ramaphosa se toespraak blyk egter ’n fyn balanseertoertjie te gewees het om albei dominante faksies in die party tevrede te stel.

Enersyds het hy beleidsrigtings voorgestel soos die onteiening van grond, radikale ekonomiese transformasie en gratis hoër onderwys, wat sterk deur pres. Jacob Zuma en sy eksvrou, dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, se faksie in die party in aanloop tot die party se nasionale konferensie in Desember bevorder is.

Andersyds het hy sterk standpunt ingeneem teenoor korrupsie en staatskaping deur te sê die wetstoepassingsowerhede en die vervolgingsgesag moet versterk word om korrupsie en misdaad strenger te beveg en Zuma se aanstelling van ’n regterlike kommissie van ondersoek na staatskaping “moet in ooreenstemming wees met (adv. Thuli Madonsela, voormalige openbare beskermer) se bevindinge in haar verslag oor staatskaping”.

Hy het weer gesê grond sal sonder vergoeding onteien word soos wat die ANC in Desember by sy nasionale konferensie besluit het, maar dit sal gedoen word sonder om die ekonomie, die landbouproduksie en voedselsekerheid skade te berokken.

Zuma was ook in die gehoor vir Ramaphosa se toespraak. Hy is opmerklik deur ’n deel van die skare uitgejou elke keer as sy naam genoem is.

ANC-ondersteuners het van heinde en verre gekom om na ANC-president Cyril Ramaphosa te luister. Foto: Lulama Zenzile

Ramaphosa, wat in sy toespraak weer op die eenheid van die ANC gehamer het, het ook die ANC se prioriteitstake vir 2018 uitgestippel. Dit behels onder meer:

* ’n Doelgerigte program van organisatoriese vernuwing in die ANC wat al die probleme van verdeeldheid en wanfunksionaliteit moet hanteer;

* Dat die nuwe leiers al die moontlike sal doen om die integriteit en geloofwaardigheid van die ANC te herstel en die party, wat onder Zuma al hoe meer vervreemd van sy steunbasis geraak het, weer nader aan die mense te bring;

* Die ANC moet ook met hernieude ywer werk om alle Suid-Afrikaners, ongeag ras, klas of affiliasie, te verenig;

* Alle maatskaplike vennote, veral die regering, die private sektor en georganiseerde arbeid, sal gemobiliseer word agter ’n herstelplan vir die ekonomie.

Ramaphosa het gesê die dringendheid van dié taak word onderstreep deur die lae vlakke van groei en werkskepping, beperkte staatsgeld, afgraderings en korrupsie wat die regering se pogings ondermyn om iets te doen aan armoede en ongelykheid.

Ons sal net die ekonomie kan omdraai as ons ’n gemeenskaplike doelwit nastreef wat onderskraag word deur respek en vertroue in mekaar,” het Ramaphosa gesê

“Ons sal net die ekonomie kan omdraai as ons ’n gemeenskaplike doelwit nastreef wat onderskraag word deur respek en vertroue in mekaar,” het Ramaphosa gesê.

Nog ’n sleutelprioriteit is dat die ANC moet help om dringend ’n bekostigbare en volhoubare finansieringsmodel vir gratis hoër onderwys en opleiding moet ontwikkel en implementeer om te verseker dat studente uit arm huishoudings en uit die “vermiste middel”-huishoudings gratis onderwys kan ontvang.

Meer oor:  Korrupsie  |  Cyril Ramaphosa  |  Anc
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.