Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramaphosa wil vaardighede in land hou

Pres. Cyril Ramaphosa het Donderdag daarop gesinspeel dat sy verkiesing as ANC-leier by die Nasrec-konferensie in Desember 2017 Suid-Afrika van die “afgrond” gered het.

cyril ramaphosa
Pres. Cyril Ramaphosa gesels Donderdag met ondersteuners in Pietermaritzburg. Foto: Felix Dlangamandla

Hy het by ’n ontmoeting met verteenwoordigers van minderheidsgroepe by die Maritzburg-burgersentrum in KwaZulu-Natal besorgde gemeenskapslede verseker dat die ANC op ’n pad van vernuwing is nadat hy op ’n afdraendepad was.

“Ons is nou in ’n tydperk van vernuwing. Die laaste paar jare was moeilik vir ons land, maar by (voor)laasjaar se nasionale ANC-konferensie het ons besluit ons gaan ons land terugruk van die afgrond af. Ons beweeg nou vorentoe en werk met ons mense saam,” het Ramaphosa gesê.

Sy besoek maak deel uit van die ANC se bedrywighede wat Saterdag in die Moses Mabhida-stadion in Durban gaan uitloop op die bekendstelling van sy manifes vir die algemene verkiesing in Mei vanjaar.

Lwazi Mkhize van Manor Gardens in Durban het vir Ramaphosa gevra om aandag te gee aan die gebied se behuisingsprobleme. Hy het gesê mense daar wil die titelaktes van die woonstelle hê wat hulle by die munisipaliteit huur.

“Ons wil hê die munisipaliteit moet ontslae raak van verhurings en ons help om ons woonstelle te besit, maar hulle het dit nog nooit gedoen nie. Help ons asseblief hiermee en dwing hulle om dit te doen,” het Mkhize gesê.

Ramaphosa het gesê die ANC sal aandag aan die kwessie gee.

“Op baie meer plekke in die land smag mense na eienaarskap. Mense wil ’n gevoel van sekuriteit hê, maar ook om vir hulle waardigheid te gee, moet ons daarop reageer. Ons behuisingsproses vorentoe gaan groter wees en dit gaan meer innoverend wees,” het Ramaphosa gesê.

Shanta Singh het Ramaphosa gevra om die uittog van kundiges uit die land te stop. Die mense met die meeste vaardighede gaan soek oorsee groener weivelde.

Daarop het die president gesê hy gaan werk in die rigting van ’n gunstiger omgewing vir vaardige werkers om aan die ekonomie deel te neem.

“Ons moet die soort Suid-Afrika skep waarin hulle ’n bydrae kan lewer. Om ’n omgewing te skep waarheen hulle voel hulle kan terugkeer en ’n bydrae lewer en dat diegene met vaardighede wat steeds hier is, hier kan bly.

“Ons moet ons ekonomie herstruktureer sodat nie net ’n paar mense daarby ingesluit is nie maar alle Suid-Afrikaners, sodat jongmense kan sien dat ‘ek ook kan deelneem, as ’n werker, iemand in bestuur, as ’n professionele mens of ’n sake-eienaar’. Dit is wat ons wil doen om ’n gunstiger omgewing te skep,” het Ramaphosa gesê.

Hy het vroeër plaaslike entrepreneurs en sake-eienaars hier aangemoedig om saam met die ANC te werk om werk te skep.

“Die enigste manier uit dié ekonomiese beproewings is vir arbeid, besigheid en die regering om oplossings te vind vir die uitdagings,” het hy gesê.

Hy het die gemeenskap ook gevra om in groot getalle vir die ANC te stem.

Abigail Janneker (44), ’n gemeenskapsleier, het egter gesê sy het geen vertroue in die ANC se verbintenis om die probleme wat gemeenskapslede in die gesig staar, op te los nie.

“Om eerlik te wees, was ek altyd skepties. Hulle gee nie om nie. Ek is nou al 22 jaar hier en ek besit nie my eie woonstel nie. Ek is werkloos en probeer steeds my ongeskiktheidstoelae kry.”

Meer oor:  Cyrial Ramaphosa  |  Kzn  |  Politiek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.