Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramatlhodi ontken Zuma se spioen-aantyging
Adv. Ngoako Ramatlhodi Foto: Lucky Nxumalo

Adv. Ngoako Ramatlhodi, voormalige minister van minerale bronne, het ’n aantyging van oudpres. Jacob Zuma dat hy ’n spioen was, ten sterkste ontken en hom uitgedaag om saam met hom ’n leuenverklikkerstoets te ondergaan.

Dit kom nadat Zuma Maandag in sy getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek onder meer beweer het dat Ramatlhodi destyds as student in Lesotho as spioen gewerf is.

Zuma se getuienis volg nadat Ramatlhodi vroeër voor die kommissie getuig het dat Zuma die land “opgeveil het”.

“Wat het kameraad Ngoako aangespoor om op te tree op die manier waarop hy hier opgetree het – om te sê dat ek die land opgeveil het en in die NUK (nasionale uitvoerende komitee van die ANC) gedoen het net wat ek wou . . . hy voer ’n opdrag uit. Hy is gewerf om ’n spioen te wees toe hy ’n student in Lesotho was,” het Zuma gesê.

Ramatlhodi, ook voormalige premier van Limpopo, het onder meer as minister van staatsdiens en administrasie sowel as minister van minerale bronne in Zuma se kabinet gedien. Hy was tot onlangs adjunkminister van korrektiewe dienste.

Hy is gewerf om ’n spioen te wees toe hy ’n student in Lesotho was/
Jacob Zuma

Hy het Maandag in ’n verklaring oor Zuma se getuienis gesê hy “verwerp die aantygings absoluut”.

“Adv. Ngoako Ramatlhodi daag die oudpresident uit om saam met hom ’n poligraaftoets te ondergaan wat in die openbaar uitgevoer word deur ’n professionele poligraaf. Die doel van die toets is om te bepaal wie tussen hulle opreg is met die waarheid,” lui die kort verklaring.

Ramatlhodi het bygevoeg hy staan by sy getuienis wat hy vroeër voor die kommissie gelewer het.

Intussen het Penuell Maduna, voormalige minister van justisie, ook teruggekap oor Zuma se getuienis en dit as ’n “blatante leuen” bestempel, berig News24.

Zuma het getuig dat Maduna en adv. Bulelani Ngcuka, voormalige hoof van die nasionale vervolgingsgesag, vir Mzi Khumalo, ’n sakeman-vriend van Zuma, vir geld genader het as deel van ’n plan om hom te oortuig om uit die politiek te tree.

Daar was volgens Zuma “skinderstories in die gange” oor ’n bedrag van R20 miljoen vir hom om af te tree.

Maduna het by navraag per e-pos aan Netwerk24 gesê: “Ek was nog nooit betrokke in enige gesprek met betrekking om geld te kry vir Jacob G. Zuma of enigiemand nie. Zuma sê self só ’n gesprek het plaasgevind of dat hy daarvan ingelig is deur Mzi Khumalo voordat die Polokwane-konferensie van die ANC in Desember 2007 plaasgevind het, meer as drie jaar nadat ek my amp verlaat het. Ek het sedertdien met Bulelani Ngcuka bevestig dat só ’n gesprek nooit plaasgevind het soos daar beweer is nie,” lui Maduna se e-pos.

Meer oor:  Ngoako Ramatlhodi  |  Zondo  |  Zuma-Getuienis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.