Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Ramphulp veral na Wes- en Oos-Kaap, KZN

Die Wes-Kaap, die Oos-Kaap en KwaZulu-Natal sal die grootste voordeel trek uit die miljarde rande vir droogtehulp, waterprojekte en brandskade-verligting wat in die mediumtermynbegrotingsraamwerk (MTBR) aangekondig is.

Dr. Zweli Mkhize, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het dit Donderdag aangekondig toe hy Tito Mboweni, minister van finansies, en die nasionale tesourie se toekenning vir veral droogtehulp verwelkom het.

Mkhize, ook voorsitter van die interministeriële taakspan oor droogte en waterskaarste, sê die droogte saai steeds verwoesting in sommige dele van die land.

“Die geld is toegeken om die gevolge van die storms te hanteer wat dele van KwaZulu-Natal (KZN) en die Wes-Kaap in 2017 verwoes het, asook die brande wat groot dele van Knysna in Julie 2017 verwoes het.”

Dr. Zweli MkhizeFoto: CITY PRESS

Volgens Mkhize sal R3,2 miljard van die geld gebruik word vir droogtehulp en waterskaarste en R1,6 miljard vir die gevolge van die storms en brande.

“Die geld sal ook gebruik word om versagtende maatreëls te tref in die lig van die huidige weervooruitsigte, wat dui op die moontlike voorkoms van ’n El Niño-verskynsel in die 2018-’19-somer tot die winterreënvalseisoen.

“Hierdie toekennings is belangrik omdat dit die betrokke gemeenskappe in KZN, die Wes- en die Oos-Kaap met droogtehulp sal bystaan, veral omdat hul eie hulpbronne onvoldoende is nadat provinsiale rampgebiede daar verklaar is.”

Volgens Mkhize het Nhlanhla Nene, toe nog minister van finansies, in sy begrotingsrede in Februarie 2018 aangedui dat hy ’n voorwaardelike toekenning van R6 miljard opsygesit het in 2018-’19 vir verskeie doelwitte, waaronder droogtehulp en die aanvul van openbare infrastruktuurbeleggings.

“Die uitbetaling van die toekenning vir droogtehulp sal gelei word deur die interministeriële taakspan en sal van Januarie 2019 af beskikbaar wees.”

Die rampverligtingsgeld wat deur die MTBR toegeken is, sal jaarliks in die volgende drie boekjare toeganklik wees.

Van die R1,6 miljard sal R638,6 miljoen in 2018-’19 beskikbaar gestel word vir grootliks munisipale infrastruktuur, hospitale en skole in KZN.

Die uitbetaling van die toekenning vir droogtehulp sal gelei word deur die interministeriële taakspan en sal van Januarie 2019 af beskikbaar wees.

Dit sal gevolg word deur R580,6 miljoen in 2019-’20 vir menslike nedersettings en skole in bogenoemde twee provinsies en in 2020-’21 met R400 miljoen vir menslike nedersettings in KZN en die Wes-Kaap.

Volgens Mkhize sal die R3,2 miljard-toekenning kom van die gebeurlikheidsreserwe vir droogtehulp en waterskaarste. Dit sal soos volg deur die verantwoordelike staatsdepartemente gekanaliseer word:

* R1,025 miljard vir waterinfrastruktuur in betrokke munisipaliteite deur die departement van samewerkende regering en tradisionele sake;

* R1,3 miljard vir waterinfrastruktuur in betrokke munisipaliteite deur die departement van water en sanitasie;

* R318 miljoen deur die departement van omgewingsake om indringerspesies en wateronkruid te verwyder, sowel as om vleilande te herstel en om brandskade in die betrokke munisipaliteite en provinsies die hoof te bied; en

* R566,5 miljoen vir grond- en waterversorging, die verskaffing van veevoer, waterinfrastruktuur en die verwydering van indringerspesies in die betrokke provinsies en munisipaliteite.

Meer oor:  Mtbr2018
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.