Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
'Ras móét geld by aanstelling van spesialiste'

Ras, geslag en gestremdheid is van die kriteria wat in ag geneem moet word met die aanstelling of bevordering van mediese spesialiste in staatshospitale en ander gesondheidsfasiliteite, sê dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid.

Hy ontken dit egter in ’n parlementêre antwoord dat daar op grond van ras gediskrimineer word teen hoogs gekwalifiseerde chirurge, pediaters, dieetkundiges en ander mediese spesialiste in veral KwaZulu-Natal wat onsuksesvol hier om poste aansoek doen.

Die parlement het Mkhize se antwoord hieroor Vrydag uitgereik.

Dr. Zweli Mkhize Foto: Daily Sun

Sy antwoord volg nadat Evelyn Wilson, ’n DA-LP, by hom in ’n parlementêre vraag wou weet of berigte waar is dat hoogs gekwalifiseerde mediese spesialiste vir poste by staatshospitale en ander fasiliteite in KwaZulu-Natal afgekeur word omdat hulle nie voldoen aan die vereistes vir breedgebaseerde swart ekonomiese bemagtiging nie.

Mkhize het verder in sy antwoord gesê aanstellings en die vul van poste in die staatsdiens moet ingevolge die Staatsdienswet gelykheid en ander demokratiese waardes en beginsels in die Grondwet bevorder.

“Dus sal alle persone wat kwalifiseer vir die betrokke aanstelling, oorplasings of bevordering oorweeg word en die evaluering sal gegrond wees op hul opleiding, vaardighede, bevoegdheid en kennis, asook op die behoefte om die wanbalanse van die verlede reg te stel ten einde ’n staatsdiens te kry wat breedweg verteenwoordigend is van die Suid-Afrikaanse nasie. Dit sluit verteenwoordiging volgens ras, geslag en gestremdheid in.”

Volgens Mkhize is sy departement egter nie bewus van enige diskriminasie teenoor kwalifiserende aansoekers nie.

“As daar nie ’n aansoeker van ’n geteikende groep in terme van die diensbillikheidsteikens is nie, versoek instellings om van dié teikens af te wyk, soos die departement voorgeskryf het in ’n omsendbrief van 2017.

Die kriteria vir die werwing van alle voornemende werknemers insluitend, maar nie beperk nie tot, mediese personeel in die KwaZulu-Natalse departement van gesondheid, moet volgens die minister ook in oorstemming met die werwings- en keuringsbeleid van 2018 van die departement plaasvind.

Volgens hom moet die departement se afdeling vir mensehulpbronne, wat die aanstellings of bevorderings hanteer, ook daarmee aan die Wet op Diensbillikheid voldoen.

Wilson wou ook by hom weet wat die statistieke met betrekking tot vakatures vir pediaters, dieetkundiges, chirurge en ander spesialiste in KZN is.

Volgens Mkhize is die algehele vlak van oop vakatures vir mediese spesialiste daar 26,1%.

“Vir dieetkundiges is dit 15,6% en vir die verskeie pediater- en chirurg-spesialisgebiede gemiddeld 18,5%.

Van die meeste oop vakatures vir ander mediese spesialiste in KZN, is volgens hom dié vir kardiologie (41,7%), narkose (34,5%), endokrinologie (50%) en gastroënterologie (100%).

Meer oor:  Zweli Mkhize  |  Gesondheid  |  Gesondheidsdepartement  |  Aanstellings  |  Ras
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.