Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Reaksie nadat Mantashe kader-ontplooiing ontken

Gwede Mantashe, ANC-voorsitter, se getuienis voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping het bevestig dat die ANC kaderontplooiing op ’n “korrupte” wyse gebruik om aanstellings in die staatsdiens “ongrondwetlik” te beïnvloed, sê dr. Leon Screiber, DA-woordvoerder oor staatsdiens en administrasie.

Gwede Mantashe Foto: Jabu Kumalo

Schreiber het Donderdag bygevoeg weens Mantashe se getuienis Woensdag is dit tyd om te aanvaar dat kaderontplooiing ’n fundamentele oorsaak van korrupsie en staatskaping in Suid-Afrika is.

Volgens Schreiber is die aanstel van direkteurs-generaal, direksies, direksievoorsitters en uitvoerende hoofde van staatsentiteite, sowel as ander poste in die staatsdiens, veronderstel om “niepolities van aard” te wees.

Schreiber sê dit is waarom die DA sy eie wetsontwerp om kaderontplooiing te beëindig reeds vir openbare kommentaar in die Staatskoerant laat publiseer het. Kommentaar kan tot einde April gelewer word.

As dit wet word, sal dit onwettig wees vir enige politieke ampsdraer om in die staatsdiens te werk.

Mantashe het Woensdag in sy getuienis voor die Zondo-kommissie ten sterkste ontken dat die ANC ’n beleid van kaderontplooiing het.

Volgens hom het die ANC wel “ ’n ontplooiingskomitee” wat net ’n “aanbevelingstruktuur” is.

Keuringsprosesse

Enigiemand wat die ANC aanbeveel, moet volgens hom steeds deur onderhoude en keuringsprosesse in die staatsdiens gaan sodat die persoon op meriete verkies word.

“Dit is daarom nie bloot ’n kwessie dat ANC-lojaliste ontplooi word nie, maar om bevoegde ANC-mense te ontplooi wat ’n breër begrip het van die behoefte om die samelewing te transformeer.”

Volgens Mantashe moet verstaan word dat die ANC in 1994 ’n staatsdiens oorgeërf het “wat deur wit mans bestuur was, van wie baie vyandiggesind teenoor die ANC was.

“Die ANC het daarom ’n plig gehad om mense te ontplooi wat die bedoeling van transformatiewe konstitusionalisme verstaan.”

Mense wel opgelei

Volgens Mantashe het die ANC daarom mense wêreldwyd laat studeer om hulle in die staatsdiens te ontplooi. “Nie uit die bloute uit nie, maar opgeleide mense wat die proses om die samelewing te transformeer in sowel die regering as die staatsdiens verstaan.”

Mantashe het aan adjunkhoofregter Raymond Zondo, kommissie-voorsitter, gesê dat die ANC daarom eerder ’n ontplooiingskomitee het waarvan die “fokus nie op kaders is nie, maar eerder om vermoëns en bevoegdheid in die staatsdiens te ontplooi”.

Sy getuienis oor kaderontplooiing kom egter kort nadat Senzo Mchunu, minister van staatsdiens en administrasie, onlangs in ’n parlementêre vraag erken het dat tot 35% van alle senior bestuurders in die staatsdiens nie die vereiste kwalifikasies vir hul hoogs besoldigde poste het nie.

Nuttige idiote

Prof. Erwin Schwella, ’n regeerkundige verbonde aan die Hugenote-kollege op Wellington, het Donderdag in reaksie op Mantashe se getuienis oor kaderontplooiing gesê daar is geen twyfel daaroor dat die ANC se ontplooiingskomitee deur middel van ’n stel riglyne in die afwesigheid van ’n beleid oor kaderontplooiing, aanstellings in die staatsdiens beïnvloed nie.

“As hy dink dat ingeligte landsburgers sy soort argument voor die Zondo-kommissie sal aanvaar, dink hy dat ons nuttige idiote is.

“As daar ’n (ontplooiings-)komitee is soos hy sê, maar geen beleid oor kaderontplooiing is nie, beteken dit dat die ANC dit nog meer lukraak doen,” het Schwella bygevoeg.

Meer oor:  Gwede Mantashe  |  Poste  |  Reaksie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.