Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Rebellie teen Cyril broei oor ANC-beskuldigdes

’n Rebellie is aan die broei teen pres. Cyril Ramaphosa en ander ANC-topleiers oor hul opdragte dat partyleiers en -lede wat van korrupsie en ander ernstige misdade beskuldig word, onmiddellik hul party- of staatsposte moet ontruim.

So het politieke kenners Vrydag gesê nadat die ANC in KwaZulu-Natal, die party se grootste provinsie, duidelik dié opdrag verontagsaam het toe hulle Mike Mabuyakhulu, provinsiale ANC-ondervoorsitter, weer in dié pos aangestel het terwyl hy van bedrog en korrupsie beskuldig word.

In die parlement is adv. Bongani Bongo, ANC-LP, ook weer terug in sy pos as voorsitter van die portefeuljekomitee oor binnelandse sake nadat hy aanvanklik vir ’n ruk met “verlof” was. Bongo staan tereg weens beweerde omkopery van ’n getuienisleier in die parlementêre ondersoek na Eskom.

City Press het vroeër ook berig oor hoe die ANC-burgemeesters, -speakers en -hoofswepe van die Mahikeng-, Matlosana-, Maquassi Hills- en Ditsobotla-munisipaliteite, sowel as die Dr. Ruth Segomotsi Mompati-distriksmunisipaliteit in Noordwes, nou ook weier om hul poste te verlaat nadat hulle daartoe versoek is.

In September het die ANC in Limpopo ook vir Danny Msiza, provinsiale tesourier, en Florence Radzilani, ondervoorsitter, ná twee jaar in hul poste heraangestel nadat hulle aanvanklik weens die VBS-skandaal uitgeskop is.

Bogenoemde het alles gebeur nadat Ramaphosa en die NUK einde Augustus aangekondig het dat beskuldigde ANC-leiers dadelik hul poste moet ontruim.

Ons amptenare werk tans self aan riglyne daaroor omdat dit ’n interne party-aangeleentheid is. Die ANC implementeer sy eie reëls vir sy eie onthalwe.

Nhlakanipho Ntombela, KwaZulu-Natalse ANC-woordvoerder, het Vrydag bevestig dat Mabuyakhulu terug is in sy pos nadat die provinsiale integriteitskommissie dit aanbeveel het.

Ntombela het bygevoeg dat Mabuyakhulu vir nou egter nie in enige staatspos aangestel sal word nie.

Volgens hom wag die ANC in KwaZulu-Natal nou vir leiding van die NUK “wat tans regsadvies inwin” oor die riglyne wat die party moet lei oor beskuldigde ANC-lede wat hul poste moet ontruim.

“Daardie regsadvies sal ons voortaan oor sulke aangeleenthede lei.”

News24 het Woensdag ook oor dié regsadvies berig, asook hoe die ANC ook regsadvies inwin oor of familielede van ANC-leiers verbied kan word om met die regering sake te doen.

Intussen het Pule Mabe, ANC-woordvoerder, Vrydag egter ontken dat die party tans regsadvies inwin.

“Ons amptenare werk tans self aan riglyne daaroor omdat dit ’n interne party-aangeleentheid is. Die ANC implementeer sy eie reëls vir sy eie onthalwe.

“Ons is nie ’n regering nie, maar ’n politieke party wat hierdie reëls skep vir ons eie omstandighede. Ons wil egter seker maak dat ons met die beplande ingrypings hieroor nie ons lede se regte skend nie en dat dit wat ons doen in pas is met die Grondwet.”

Dr. Nontsikelelo Breakfast, politieke ontleder aan die Nelson Mandela-Universiteit, meen egter dat openbare druk ná die Covid-19-korrupsieskandale waarby senior ANC-lede en hul families betrek is, aanvanklik die NUK in Augustus gedwing het om standpunt teen korrupsie in te neem.

“Die probleem tans is egter dat ’n persepsie ontstaan het dat alle hoëprofiel-ANC-lede wat versoek word om afstand van hul poste te doen, óf dié wat onlangs weens korrupsie deur die Valke in hegtenis geneem is, almal aan die Ace Magashule/Jacob Zuma-faksie behoort.

“Dít hits egter net faksionalisme en ’n rebellie teen Ramaphosa verder aan.”

Prof. André Duvenhage, politieke ontleder by die Noordwes-Universiteit, meen daar is duidelik paniek onder ANC-leiers ná die onlangse vlaag van inhegtenisnemings.

“Selfs Magashule was paniekerig ná gerugte oor ’n lasbrief vir sy inhegtenisneming.

“Dit alles maak dat ’n soort van rebellie teen Ramaphosa broei.”

Ons is nie ’n regering nie, maar ’n politieke party wat hierdie reëls skep vir ons eie omstandighede. Ons wil egter seker maak dat ons met die beplande ingrypings hieroor nie ons lede se regte skend nie en dat dit wat ons doen in pas is met die Grondwet.

Volgens Duvenhage gaan Ramaphosa se teenstanders die Zondo-kommissie en daaropvolgende regsprosesse teen hulle politiek probeer ontwrig. “Dit gaan die druk op Ramaphosa verder verhoog.”

Meer oor:  Korrupsie  |  Cyril Ramaphosa
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.