Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regering kap terug in DA-hofsaak oor entstofplan

Om aan te voer die regering se entstofplan is ongrondwetlik en irrasioneel, is “ongegrond, onvanpas en onbehulpsaam”.

Sabelo Buthelezi, direkteur-generaal van die nasionale departement van gesondheid, het so in sy repliek gesê in die saak waarin die DA die regering aanvat oor sy entstofplan.

Buthelezi het Woensdag sy repliek by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien nadat die DA einde Januarie ’n dringende aansoek oor hierdie plan gebring het.

Die DA het die aansoek ingedien om die regering te dwing om sy entstofplan openbaar te maak nadat pres. Cyril Ramaphosa in Januarie geweier het om die besonderhede bekend te maak.

Die DA vra die hof vir ’n verklarende bevel dat die regering se optrede met die verkryging van entstowwe, sowel as sy voorbereiding vir die toediening daarvan, verskeie grondwetlike beginsels oortree. Die hof is ook gevra om die regering opdrag te gee om sy entstofplan te verskaf ’n maand nadat die beoogde bevel uitgereik is.

Volgens John Steenhuisen, DA-leier, moet die regering sy hele entstofplan bekend maak.

Dit sluit in hoe die entstowwe versprei en geberg moet word, hoe entstowwe gekies word, wat daarvoor betaal gaan word en wanneer dit aan Suid-Afrika gelewer sal word.

Hy sê ook die regering het nie oop kaarte met die landsburgers gespeel nie en het ook Suid-Afrika met ander lande se vooruitgang (met betrekking tot die verkryging van entstowwe) vergelyk.

Buthelezi se repliek lees soos ’n geskiedenisboek van die begin van die pandemie af en wat die regering en die onderskeie departemente gedoen het om hierdie entstofplan aan die gang te sit, hoe die werwingsproses werk en hoeveel geld daarop bestee is. Hulle ontleed elke entstof en beskryf ten volle hoe elkeen werk, geberg en gebruik word. Hy beskryf ook hoe die regering te werk gegaan het om deur Covax en die Afrika-Unie entstowwe te bekom.

Die DA het ’n wanbegrip van die situasie en sy hele saak is feitlik verkeerd.

Hy sê die DA se aantygings dat die regering tot 6 Januarie gewag het om eers aan ’n plan te begin werk, is onwaar. Hy het die proses verduidelik en gesê die regering het vanaf verlede jaar reeds planne gemaak om entstowwe te bekom.

Buthelezi sê die DA se hofstukke is alles gegrond op ander se menings en Steenhuisen se “feitlike” aantygings kom nie van inligting waaroor hyself beskik nie, maar uit ander se menings en kommentaar.

“Die DA het ’n wanbegrip van die situasie en sy hele saak is feitlik verkeerd,” sê Buthelezi.

Om Suid-Afrika met ander lande te vergelyk, is “ongegrond, onvanpas en onbehulpsaam” en om aan te voer die regering het nie ’n deursigtige benadering tot die pandemie gehad nie, is vals, sê Buthelezi.

Benewens die plan oor hoe die entstowwe bekom sal word, is die plan oor wie eerste ingeënt word, ook deur die DA gekritiseer. Volgens die DA bestaan daar nie so ’n plan nie, en Buthelezi het duidelik in sy repliek die plan uiteengesit, net soos wat Ramaphosa dit telkemale aan die land ook oorgedra het.

Buthelezi het laastens gesê die DA se aansoek was onnodig en het Steenhuisen gevra om die saak terug te trek na aanleiding van sy beëdigde verklaring en dat al die party se bekommernisse breedvoerig in die hofstukke beantwoord word.

Indien die DA dit nie doen nie, sal die regering ook ’n kostebevel teen hom versoek.

Steenhuisen het bevestig hy het Buthelezi se repliek ontvang, maar het weens die debat oor die president se staatsrede nog nie tyd gehad om deur die hofstukke te lees nie. “Ek sal dit deurlees en met ons regspan konsulteer,” sê hy.

’n Datum vir die verhoor moet nog bevestig word.

Meer oor:  John Steenhuisen  |  Kaapstad  |  Hooggeregshof  |  Covid-19  |  Koronavirus  |  Entstof  |  Pandemie  |  Da  |  Regering  |  Entstofplan
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.