Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regering meng nie onbehoorlik by Eskom in – Gordhan

Dit gaan baie lank duur voordat Eskom ten volle herstel het van die skade wat staatskaping aangerig het, sê Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.

Gordhan het so geantwoord op ’n parlementêre vraag van Ntombovuyo Veronica Mente, EFF-LP, wat vroeër by hom wou weet watter ingrypings hy as minister gedoen het wat die Eskom-direksie en -bestuurspanne se planne belemmer het.

Mente se parlementêre vraag verwys na Busisiwe Mavuso, voormalige direksielid van Eskom, se bewerings verlede jaar dat staatsingryping die behoorlike bestuur en regruk van Eskom belemmer.

EWN het destyds berig dat Mavuso in die parlement gesê het politieke inmenging weerhou die Eskom-direksie daarvan om besluite te neem wat kan verhoed dat Eskom en die ekonomie inplof.

Die parlement het Gordhan se antwoord Donderdag laat uitgereik te midde van eise van vakbonde en die EFF dat pres. Cyril Ramaphosa Gordhan afdank weens die Eskom-krisis.

Jabu Mabuza het ook onlangs as Eskom-voorsitter bedank nadat adj.pres. David Mabuza verlede week in Kimberley gesê het Gordhan en die Eskom-direksie het Ramaphosa oor beurtkrag in Desember en Januarie mislei.

Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings.Foto: DAILY SUN

Gordhan sê in sy parlementêre antwoord daar was geen onbehoorlike politieke inmenging by Eskom nie. Maatskappywetgewing, wat ook van toepassing op Eskom is, sit die verantwoordelikhede, pligte en regte van die aandeelhouers en direkteure uiteen. “Aandeelhouers, veral 100%-aandeelhouers soos in die geval van die regering met baie staatsbeheerde entiteite, het verskeie regte met betrekking tot die bestuur van sulke entiteite.

“Die aandeelhouersooreenkoms skryf die prestasieteikens voor waaraan ’n entiteit moet voldoen.”

Gordhan sê in Eskom se geval behels die teikens onder meer aanlegte se prestasie, waar ’n voorgeskrewe vlak van kraglewering gehandhaaf moet word, sowel as finansiële teikens soos die vermindering van die algehele koste, insluitend primêre energiekoste, of die inwerkingstelling van verskeie “regruk”-planne.

“Die direksie moet die bestuur binne hierdie grense aanspreeklik hou om die teikens te haal. Net so moet die aandeelhouers ook die direksie aanspreeklik hou.

“Waar nodig, gewoonlik in kritieke stadiums van ’n entiteit, kan die aandeelhouer prosesse begin om die aandeelhouer en die direksie te help om ’n probleem te ontleed en oplossings voor te stel.”

Gordhan sê voorbeelde hiervan is die presidensiële taakspan om volhoubaarheid te ondersoek en die ministeriële tegniese hersieningspan, wat onderskeidelik aanbevelings doen oor Eskom se toekoms in die lig van sy probleme en veranderinge in die elektrisiteitsmark, sowel as oor hoe om aanlegte se prestasie te verbeter.

Gaan Eskom in staatsbesit bly?

’n Ander EFF-LP wou by Gordhan weet of Eskom 100% in staatsbesit sal bly indien dit soos beplan in drie verdeel word.

Hy antwoord hierop dat so ’n opwekkingsentiteit 100% onder die Eskom-beheermaatskappy sal bly en hoofsaaklik sal bestaan uit die huidige basiskrag-stasies wat in ’n aantal kleiner opwekkingseenhede geskei sal word.

“Oorweging vir die skep van veelvoudige opwekkingsmaatskappye in die Eskom-opwekkingsentiteit word ondersoek met die doel om mededinging tussen maatskappye te bewerkstellig en om doeltreffendheid in opwekking te dryf.

“Elke kragstasie sal sy eie kragkoopooreenkoms met voorafbepaalde, vaste en gewaarborgde tariewe vir energie met Eskom se transmissie-entiteit onderhandel,” lui Gordhan se antwoord.

Meer oor:  Eskom  |  Pravin Gordhan  |  Staatskaping
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.