Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Regering moenie geprys word vir vlak 2’

Hoewel pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging oor die verslapping van die inperkingsmaatreëls verwelkom word, meen sommiges dat die regering egter nie hiervoor geprys moet word nie.

Ramaphosa het Saterdagaand aankondig dat die nasionale staat van inperking Maandag van middernag af na vlak 2 verlaag word en ook dat die omstrede verbod op drank en tabak opgehef word.

“Om nou vir die president dankie te sê dat die inperkingsmaatreëls verslap word, is soos ’n gevangene wat sy ontvoerder bedank wanneer hy vrygelaat word, sê Ernst Roets, hoof van beleid en aksie van AfriForum.

“Ons ly nie aan Stockholm-sindroom nie.”

Daar is slegs een pad uit hierdie ramp: minder politiek, meer sake.

Die burgerregteorganisasie meen dat die regering nie vir die opheffing van die rook- en drankverbod, asook die opheffing van die verbod op interprovinsale reise geprys moet word nie, omdat dit van meet af aan irrasioneel was.

“Die president was deur van die land en die wêreld se grootste kenners geadviseer om anders op te tree. Maar hy het geswig voor die druk van sy korrupte kamerade en hy kon nie die versoeking weerstaan om op irrasionele wyse aan die mag vas te klou nie.”

Roets sê AfriForum gaan in die komende weke ’n plan publiseer met praktiese stappe wat die regering kan doen om die privaat sektor te bemagtig om die skade deur die staat van inperking te herstel.

“Gemeenskappe moet besef dit is roekeloos om steeds van die regering te verwag om verantwoordelik op te tree en na hul belange om te sien.”

Piet le Roux, uitvoerende hoof van Sakeliga, sê die ramptoestand is die werklike ramp.

“Dit word veroorsaak deur ’n regering wat noodmagte aan homself toegeken het en onwillig is om daarvan afstand te doen. Die skade sal nie by vlak 2 stop nie en – indien dit nie aangevat word nie – lank ná Covid-19 verby is, steeds bly geld.”

Dr. Nkosazana Dlamini-Zuma, minister van samewerkende regering en tradisionele sake, het Saterdag die nasionale ramptoestand met nog ’n maand verleng. Dit sou Saterdagaand om middernag verstryk het, maar is nou tot 15 September 2020 verleng.

Le Roux sê hulle doen ’n beroep op hul lede, ander sakelui, sakeorganisasies en die burgerlike gemeenskap om die ramp te hanteer as iets wat nie vanself verby sal gaan nie.

“Die regering sal nie, uit eie beweging, sy foute erken of die magte wat hy aan homself toegeëien het, teruggee nie. Dit hang van hierdie groepe af om die druk vol te hou en die ekonomie te herbou,” sê Le Roux.

“Daar is slegs een pad uit hierdie ramp: minder politiek, meer sake.”

Le Roux sê Sakeliga sal die regulasies bestudeer en met ander organisasies, wat teen die staat van inperking gekant is, oor verdere stappe saamwerk.

Asanda Gcoyi van die Dampprodukvereniging van Suid-Afrika (VPASA) sê die besluit om die verkoop van tabakprodukte weer toe te laat het net betyds gekom om ’n algehele ineenstorting van die sektor te voorkom.

“Dit sal egter te laat wees vir die vele ondernemings in die bedryf wat gedwing was om hul deure permanent te sluit weens die drakoniese regulasies wat die regering ingestel het.”

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Ernst Roets  |  Piet Le Roux  |  Inperking  |  Koronavirus  |  Vlak 2
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.