Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regering moet aan VN sy regstelaksie verduidelik
Dr. Dirk Hermann Foto: MICHAEL HAMMOND

Hy is in sy noppies met ’n besluit van ’n komitee van die Verenigde Nasies (VN) dat die Suid-Afrikaanse regering aan dié komitee moet terugvoering gee oor die invloed van regstelaksie.

Só het dr. Dirk Hermann, bedryfshoof van die vakbond Solidariteit, Woensdag gesê nadat die VN se komitee vir die uitwissing van alle vorme van rassediskriminasie (CERD) ook gelas het die regering moet ook sê of hy voldoen aan die VN-konvensie van 2009 oor die uitwissing van alle vorms van rassediskriminasie.

In die verslag word ook gesê die regering moet in Januarie 2020 volledig verslag doen oor die invloed van regstelaksie op indiensname, opleiding en politieke en openbare sake.

Die VN-komitee het ná sy sitting verlede maand in Genève, Switserland, benadruk die regering moet ’n meer omvattende benadering tot regstelaksie volg.

Hy het die regering ook gekritiseer dat hy ou apartheidsklassifikasies gebruik in die aanbieding van statistieke.

Dit kom nadat Solidariteit en die burgerregteorganisasie AfriForum by die komitee gekla het die regering se beleid van rassekwotas is nie in lyn met die VN-konvensie hieroor nie.

Die twee organisasies se verweer is dat regstelaksie niks anders is nie as ’n ras-sensus en nie aan die vereistes van regstelaksie voldoen nie.

Nou is ons deel van die diplomatieke proses. Ons is baie trots op wat ons reggekry het.
Dr. Dirk Hermann

“Ons droom was om op die sakelys van die komitee (CERD) te kom. Ons is regtig verras met die uitslag van die verslag, want nou is ons deel van die diplomatieke proses. Ons is baie trots op wat ons reggekry het,” het Hermann op ’n mediakonferensie in Centurion gesê.

Hermann het gesê Solidariteit en AfriForum hoop om deel te wees van die konsultasieproses wat gevolg sal word met die opstel van die regering se verslag aan die komitee.

Die twee organisasies sal ook voortgaan met regstappe en internasionale klagtes oor kwotas in sport.

“As die regering nie sy rassebenadering wysig nie, kan die kommissie op sy 2020-sitting aanbevelings doen waarvolgens dit van die regering verwag kan word om ’n einde te maak aan rasgegronde regstelaksie.

“Die meer as drie jaar klink na ’n lang tyd, maar dit gee aan die regering genoeg tyd om sy beleid te hersien en alternatiewe in plek te stel.

“Die proses wat nou begin is, is ’n groot deurbraak. Vir die eerste keer is regstelaksie in Suid-Afrika nou amptelik op die VN se agenda en moet die regering ’n amptelike verduideliking vir die beleid gee,” het Hermann gesê.

Dis ’n groot deurbraak. Vir die eerste keer is regstelaksie in Suid-Afrika nou amptelik op die VN se agenda.

In die VN-verslag het kenners die toepassing van kwotas as “baie rigied” beskryf.

“Die belangrikste beginsels van die aanbeveling waaraan die regering getoets sal word, is of bevoordeling geregverdig is, of dit ’n legitieme doel dien, en of dit proporsioneel tot die bereiking van die doel is,” het Hermann gesê.

Die departement van justisie en grondwetlike hervorming het Woensdagmiddag gesê hy sal later ’n verklaring uitreik in reaksie.

Meer oor:  Verenigde Nasies
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.