Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Staat ‘vra nie verskoning’ vir SEB

Die regering sal nie “apologeties” wees oor die toepassing van swart ekonomiese bemagtiging (SEB) en regstellende aksie in sy steunprogramme aan ondernemings wat onder inperkingsregulasies ly nie omdat die howe bevind het hy tree hiermee binne die landswette op.

Khumbudzo Ntshavheni
Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsake-ontwikkeling. Foto: City Press

Twee verskillende ministers het dít Dinsdagmiddag in die nasionale vergadering gesê toe hulle mondelings verskillende vrae van LP’s hieroor beantwoord het.

Khumbudzo Ntshavheni, minister van kleinsake-ontwikkeling, was eerste aan die woord nadat Heloïse Denner, ’n VF Plus-LP, onder meer by Ntshavheni wou weet wat haar posisie oor die “oor-regulering” van klein ondernemings deur breed gebaseerde SEB (BBSEB)- en regstellende aksie-beleid is en vir hoe lank die toepassing van rasgegronde wetgewing nog bo meriete en die welstand van die ekonomie geprioritiseer sal word.

Ntshavheni het geantwoord BBSEB en regstellende aksie “is nodige transformerende artikels vir die regering om die historiese wanbalanse te herstel wat die aparte ontwikkeling van apartheid daargestel het om die meerderheid van ons mense te marginaliseer”.

“Jy sal onthou dat daar die hofsaak van Solidariteit was wat geanker was deur die minister van toerisme. Solidariteit het die saak verloor omdat die howe bevind het dat SEB ’n nodige vereiste vir die transformasie van die land is. Selfs die appèl op daardie aansoek is verloor.”

Volgens Ntshavheni het die howe onlangs ook uitspraak gelewer in ’n aansoek van die DA.

“Die hof het bevind dat die SEB-kriteria van ras, geslag, jeug en gestremdheid nodig is. Die hof het beveel dat ons juis die beleide hersien om dit meer spesifiek te maak om voorheen benadeeldes met betrekking tot ras, geslag, jeug en gestremdheid te bevorder. Dit sodat ’n inklusiewe ekonomie uit die ramp van die koronavirus sal verrys.

“Ons sal nie apologeties wees daaroor nie,” het Ntshavheni gesê.

Natasha Ntlangwini, ’n EFF-LP, wou op haar beurt by Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme, weet hoeveel swart toerisme-ondernemings uit landelike dorpies en townships die R50 000-toelae van haar departement se R200 miljoen van die Covid-19-verligtingsfonds vir klein, middelslag- en mikro-ondernemings ontvang het.

Mmamoloko Kubayi-Ngubane
Mmamoloko Kubayi-Ngubane, minister van toerisme. Foto: Daily Sun

Kubayi-Ngubane het gesê sowat 2 112 ondernemings is tot dusver daarvoor goedgekeur. Daarvan is 51,6% in swart besit.

Volgens haar is 151 daarvan onder meer van landelike gebiede en townships in die Oos-Kaap, terwyl 107 van landelike gebiede en townships in Limpopo is.

“Ons het nie net op stedelike gebiede gefokus nie, maar op al nege provinsies. Selfs ondernemings van klein dorpies in die Vrystaat het ook suksesvol aansoek gedoen en die R50 000-toelaag gekry.”

Kubayi-Ngubane het bygevoeg dat dié proses aanvanklik deur die Solidariteit-hofaansoek vertraag is.

“Hulle (Solidariteit) het geglo dat ons nie regeringsbeleid (oor SEB) moes volg nie.

“Die hof het egter by ons gestaan en bevind dat ons aan die regte kant van wetgewing is, dat ons inderdaad bekommerd moet wees oor voorheenbenadeeldes en dat ons nie rassisties was nie.”

Volgens haar was die aansoekers vir die toelaag ook nie net voorheen benadeeldes nie. “Daar was ook wit maatskappye wat aan SEB-wetgewing voldoen het wat ook aansoek gedoen en ons ondersteuning gekry het.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.