Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regering ontken weermag is te bang om na Wuhan te gaan

Die regering het Vrydagoggend sy versekering gegee alles op dreef is om die Suid-Afrikaners uit Wuhan – die episentrum van die koronavirus (Covid-19) – na die land terug te bring.

Hy bestempel ’n berig in die Mail&Guardian oor die regering se repatriasieproses as "misleidend." Dié koerant het Vrydag berig dat lede van die weermag na bewering onwillig is om die Suid-Afrikaners uit China te repatrieer.

Luidens die berig staan ’n vliegtuig gereed om die Suid-Afrikaners, wat weens die virus in Wuhan vasgekeer is te repatrieer, maar dat geen bemanningslede gewillig is om dié “potensieel lewensgevaarlike” reis te onderneem nie.

’n Senior amptenaar met binnekennis van die besprekings oor die repatriasieproses wat deur ’n nasionale interdepartementele komitee bestuur word, het luidens die berig aan die koerant onthul dat lede van die weermag “onwillig is om die vliegtuig te beman”.

Die regering het egter teruggekap en meen dié berig is ’n aanslag op die regering se werk rondom die repatriasieproses.

Die regering hou vol dat die raamwerk vir die voorsiening van ’n vliegtuig vir die repatriasieproses opgeleide bemanningslede insluit om die passasiers by te staan.

“Dit is in lyn met burgerlugvaartregulasies wat vereis dat opgeleide en geregistreerde bemanningslede die passasiers op die vliegtuig bystaan,” lui ’n verklaring deur die regering se kommunikasie-en-inligtingstelsel (GCIS).

Volgens die verklaring is die diskoers in die berig oor die weermaglede ook misleidend omdat “alle hande” aan boord is om ’n gladde repatriasieproses te verseker.

“Die regering gee alle Suid-Afrikaners weer die versekering dat hy met die repatriasieproses op dreef is. Alle dienste wat vereis word vir die repatriasie, word gefinaliseer en die publiek sal dienooreenkomstig ingelig word.

“Die regering herhaal dat alle Suid-Afrikaners wat gerepatrieer gaan word, nie siek is nie en dat aan die Wêreldgesondheidsorganisasie se protokol rondom die repatriasie voldoen sal word.”

Die regering het ’n beroep op landburgers gedoen om kalm te bly en “die waarheid” oor die virus te versprei om die “wêreldwye uitdaging van waninligting” in die openbare domein te oorkom.

Almal moet verantwoordelik optree om die verspreiding van Covid-19 te beperk. Dit sluit in die gereelde was van hande met ’n alkoholgebaseerde ontsmettingsmiddel of deur dit met water en seep te was; om ’n meter afstand te handhaaf tussen mense wat hoes of nies, en om te verseker dat oppervlakke skoongevee en -gehou word.

https://mg.co.za/article/2020-03-06-no-sandf-crew-to-send-to-wuhan/

Meer oor:  Wuhan  |  Weermag  |  Repatriasie
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.