Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regering oorweeg inkomste-toelae

Terwyl R195,5 miljard vir maatskaplike toelaes in die 2021-’22-boekjaar toegewys is, oorweeg die regering nou ’n basiese inkomstetoelae om hongersnood hok te slaan.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling, het Dinsdag in haar begrotingsrede vir die huidige boekjaar gesê voorlopige bevindings toon dat die Covid-19-toelae van R350 het ’n groot effek gehad om hongersnood te verminder. Die toelaes het einde April verstryk.

“Die behoefte om ’n basiese inkomstetoelae in te stel het ’n dringende oorweging vir die ANC-regering geword,” het sy gesê.

Lindiwe Zulu, minister van maatskaplike ontwikkeling. Foto: Argief

Daarom het Zulu se departement ’n besprekingsdokument daaroor saamgestel en gesprekke het reeds begin oor hoe dit gefinansier kan word.

Heloïse Denner, VF Plus-LP, het in reaksie gesê met die miljoene mense wat op maatskaplike toelaes aangewese is, stem dié party nie saam dat Suid-Afrika, soos tans die geval is, as ’n welsynstaat bestuur word nie.

“Die minister het self vroeër gesê indien die spesiale toelaes permanent word, sal dit onvolhoubaar wees omdat geen geld oor is nie. Sy is reg. Waar gaan ons die geld kry om vir hierdie toelaes te betaal as ons nie die ekonomie op ’n volhoubare manier kan laat groei nie?” wou Denner weet.

Volgens Zulu word 95% van die begroting van R205 miljard vir maatskaplike ontwikkeling op maatskaplike toelaes bestee en bly slegs 5% oor om die departement se maatskaplike programme toe te pas.

Weens die land se fiskale situasie sal die begroting ook op mediumtermyn met R38,5 miljard besnoei word.

Laetitia Arries, EFF-LP, het uitgevaar teen wanbestuur in die departement, sowel as die nasionale tesourie se besuinigingsmaatreëls terwyl ’n groot deel van die bevolking aan wanvoeding ly.

Liezl van der Merwe, IVP-LP, wou weet hoekom die departement nog nie die 5 000 werklose maatskaplike werkers aangestel het nie, hoewel die kabinet die departement opdrag gegee het om dit te doen.

Op verdere kritiek het Zulu gesê dat haar departement besig is om die proses van die uitbetaling van toelaes te digitaliseer sodat begunstigdes nie meer in lang rye hoef te wag om betalings te ontvang nie.

Volgens haar is besprekings met die nasionale tesourie ook in ’n gevorderde stadium om aanvullings in te stel vir die kindertoelaes vir pleegouers om druk op die pleegsorgstelsel te verminder.

Meer oor:  Lindiwe Zulu  |  Regering
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.