Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
‘Regering se gelieg oor entstof moet end kry’ – Steenhuisen

John Steenhuisen, DA-leier, het gekap na pres. Cyril Ramaphosa deur te beweer dat die president vir die land gelieg het deur te sê die regering onderhandel reeds vir die afgelope ses maande vir entstof.

Steenhuisen het Woensdag in ’n verklaring gesê die regering se “geliegery” oor entstowwe moet end kry.

Dit volg nadat News24 Woensdag berig het die internasionale farmaseutiese maatskappy Pfizer probeer sedert Julie al “maande en maande” om die Suid-Afrikaanse regering by onderhandelinge te betrek.

Luidens News24 het ’n werknemer van Pfizer in ’n opname van ’n selfoongesprek aan ’n plaaslike sakeman gesê die regering was aanvanklik traag met die onderhandelinge ná die eerste ontmoeting in Julie.

Volgens dié werknemer het die regering glo eers teen die einde van verlede jaar ernstig begin onderhandel toe die oorblywende voorraad reeds beperk was omdat ander lande reeds ooreenkomste beklink het.

By navraag het Pfizer se Suid-Afrikaanse afdeling in ’n verklaring gesê hy wil dit herbevestig dat hy met die nasionale regering saamwerk sodat Suid-Afrikaners so gou moontlik toegang tot die entstof van Pfizer en BioNTech kry.

“Gesprekke met die Suid-Afrikaanse regering bly vertroulik en vind sedert 2020 plaas en vorder teen ’n bevredigende pas,” lui die verklaring.

Tyrone Seale, woordvoerder van Ramaphosa, en Popo Maja, woordvoerder van die nasionale departement van gesondheid, het nie op navrae reageer nie.

Kritici beweer al lank dat die regering met onderhandelinge met maatskappye en verskaffers gesloer het, maar die regering het die beweringe tot dusver ontken en sê alles is op koers om die bevolking in te ent.

Sonder om veel besonderhede te gee, het Ramaphosa Dinsdag op ’n ANC-geleentheid gesê Suid-Afrika sal die vereiste hoeveelheid entstof kry om 40 miljoen Suid-Afrikaners mee in te ent.

In die lig hiervan het hy ’n nuwe interministeriële komitee onder leiding van adj.pres. David Mabuza aangekondig wat die inwerkstelling van die plan moet koördineer.

Steenhuisen het egter in sy verklaring na die berig deur News24 verwys, waarvolgens die regering behalwe vir die aanvanklike ontmoeting met Pfizer in Julie en ’n gevolglike vergadering van die ministeriële advieskomitee vir entstowwe “min belangstelling getoon het om onderhandelinge na te jaag, totdat dit te laat was”.

Dr. Zweli Mkhize, minister van gesondheid, het vroeër beweringe ontken dat die regering ’n geskeduleerde vergadering met Johnson&Johnson, ook ’n entstof-ontwikkelaar, in Augustus gekanselleer het.

Die plaaslike farmaseutiese maatskappy Aspen het verlede jaar ’n kontrak met J&J gesluit om moontlik teen April te begin met die vervaardiging van 300 miljoen dosisse in Port Elizabeth. Die uitslae van studies sal na verwagting binnekort bekend gemaak word.

Geen ooreenkoms is egter nog tussen die regering en J&J aangegaan nie en dit is nie ’n uitgemaakte saak dat die land van dié entstof sal ontvang nie.

Volgens Steenhuisen probeer die regering die Suid-Afrikaanse publiek oor die kwessie om die bos lei.

“Dit is duidelik dat president Ramaphosa nou ’n desperate missie aangepak het om die narratief te versag om sodoende sy regering kwyt te skeld van sy grootste en dodelikste mislukking in die hele Covid-krisis.”

Die DA het deur sy prokureurs Maandag ’n brief aan Ramaphosa gerig om binne sewe dae ’n volle tydsraamwerk te verskaf, asook notules van die regering se vergaderings en skakeling met vervaardigers.

Hy moet ook besonderhede gee oor die regering se entstofplan, wat insluit die soort entstof, die bevestigde hoeveelheid daarvan, die datums vir aflewering daarvan, berging en vervoerreëlings en sy kommunikasieplan.

As die president nie binne sewe dae reageer nie of indien sy reaksie onbevredigend is, sal die DA volgens Steenhuisen die hof nader om Ramaphosa te dwing om wel die besonderhede te gee.

Intussen is Mkhize-hulle skynbaar hard aan die werk om planne in plek te kry vir die eerste besending van ’n miljoen dosisse entstof wat binnekort in die land verwag word. In ’n wending het Mkhize Woensdag op ’n mediakonferensie aangekondig dat die dosisse, wat van die Serum-instituut in Indië bekom is, binne dae verwag word.

Hy het aanvanklik belowe die eerste besending sal voor die einde van die maand arriveer. Inentings daarmee vir gesondheidsorgwerkers in die voorste linie sal na verwagting in Februarie begin.

Benewens deur bilaterale ooreenkomste, waarvan die regering sover bekend nog niks onderteken het nie, wil die regering ook entstof bekom deur die Wêreldgesondheidsorganisasie (WGO) se Covax-program, wat daarop gemik is om te verseker dat diegene met die grootste behoefte entstof kry, sowel as ’n taakspan van die Afrika-Unie.

https://www.news24.com/news24/southafrica/investigations/pfizer-leak-sa-health-officials-didnt-respond-to-requests-for-months-and-months-to-talk-about-covid-19-vaccines-20210120

Meer oor:  Koronavirus  |  Entstof  |  Inentings  |  Covid-19
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.