Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Hoekom bevelsraad uitstel en weer uitstel

Die regering “is nie in ’n hoek gedryf” deur godsdienstige leiers oor eise om plekke van aanbidding oop te maak onder vlak 3 van die inperkingsregulasies nie.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, het Woensdag op ’n mediakonferensie die redes uiteengesit waarom twee belangrike aankondigings oor die direktiewe vir vlak 3 van die inperkingsregulasies, uitgestel is.

Jackson Mthembu, minister in die presidensie, sê mediakonferensies oor die direktiewe vir vlak 3 van die inperking is uitgestel sodat die regulasies vir plekke van aanbidding afgehandel kan word. Foto: Felix Dlangamandla

Maar ontleders betreur die “kommunikasie-flaters” van die regering deurdat mediakonferensies aangekondig word as die regering klaarblyklik nog nie gereed is daarvoor nie.

Mthembu sê pres. Cyril Ramaphosa se aankondiging Dinsdag dat plekke van aanbidding onder streng maatreëls mag heropen, het die uitstel genoodsaak omdat die regering nou die inperkingsregulasies vir die godsdienssektor wat Ramaphosa aangekondig het, moes insluit.

“Dit was die plan dat die ministers vandag (Woensdag) sou praat, maar vanweë die nuwe regulasies wat ons moet opstel, wat kerke insluit, kon ons dit nie doen nie,” het Mthembu gesê.

Die regulasies sal insluit hoe die plekke van aanbidding mag open, hoeveel mense op ’n slag bymekaar kan wees en watter maatreëls gevolg moet word.

Ramaphosa het Dinsdag gesê erkende plekke van aanbidding kan openbare dienste hervat met ’n maksimum van 50 mense. Streng vereistes vir higiëne sal geld, en gemeentelede moet maskers dra en ’n veilige afstand van mekaar af bly.

Die aankondiging oor vlak 3 se regulasies word nou Donderdag gedoen.

Mthembu het gesê die regering “is nie in ’n hoek gedruk deur godsdienstige leiers nie, net soos wat hy nie deur enigiemand in ’n hoek gedruk sal word nie”.

“Wat ons graag wil sien, is dat enige sektor die nodige stappe sal doen om homself as ’n sektor te beskerm, asook enigiemand wat met die sektor in aanraking kom,” het Mthembu gesê.

Die volgende ministers sal Donderdag hul regulasies voorlê: dr. Nkosazana Dlamini-Zuma (samewerkende regering en tradisionele sake), Ronald Lamola (justisie en korrektiewe dienste); Ibrahim Patel (handel en nywerheid); Bheki Cele (polisie); dr. Aaron Motsoaledi (binnelandse sake) en Nosiviwe Mapisa-Nqakula (verdediging en militêre veterane).

Vrydag kom ministers in die ekonomiese en maatskaplike groeperings aan die beurt en Fikile Mbalula (vervoer) doen sy voorlegging Saterdag.

Dean Macpherson, DA-LP, beweer die mediakonferensies is uitgestel omdat Ramaphosa en sy kabinet nie op die regulasies kon ooreenkom nie. “Sonder ferm leiding van die president en ’n goeie sessie van ‘koppe teen mekaar stamp’ in die bevelsraad, sal Suid-Afrikaners uitgelewer bly aan die onbeholpe en onbevoegde ministers wie se verantwoordelikheid dit is om hierdie regulasies saam te stel,” sê Macpherson.

Die regulasies sou aanvanklik Maandag reeds bekend gemaak geword het, maar die bekendmaking is tot Woensdag uitgestel, en Woensdagoggend tot Donderdag.

Die regering wil iets sê selfs al is daar min om te sê.

“Dit is eenvoudig nie goed genoeg nie omdat daar baie uitstaande vrae is oor die gesondheidsprotokolle vir elke sektor en die handelsure vir die drankbedryf.”

Die politieke ontleder prof. Bheki Mngomezulu beskryf die regering se Covid-19-kommunikasie as “paniekbevange” te midde van druk uit alle sektore.

“Die regering wil iets sê selfs al is daar min om te sê. Dit is nie aanvaarbaar vir die president om ’n mediakonferensie aan te kondig as hy nog nie klaar gekonsulteer het nie. As hy die land toespreek voordat hy alle konsultasies afgehandel het, skep dit die verkeerde indruk,” sê Mngomezulu. “Daar is druk van almal en die regering moet ferm wees.”

Die politieke ontleder Levy Ndou sê ook die regering moenie aankondigings oor mediakonferensies maak as hy nie gereed is daarvoor nie. “Dis uiters frustrerend vir almal, want mense is gretig om te weet wat aangaan. Die kommunikasie-flaters is baie jammer,” sê hy.

Meer oor:  Jackson Mthembu  |  Inperkingsregulasie  |  Vlak 3
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.