Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regering stel 700 000 ha staatsgrond beskikbaar

Die regering gaan as deel van sy grondhervormingsplan sowat 700 000 hektaar ongebruikte en leë staatsgrond landwyd vir landboudoeleindes beskikbaar stel.

Agri SA het dié aankondiging deur Thoko Didiza, minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Donderdag verwelkom, maar terselfdertyd gewaarsku dat teen korrupsie gewaak moet word.

Didiza het op ’n mediakonferensie in Pretoria gesê mense kan aansoek doen om die grond vir 30 jaar by die staat te huur met die opsie om dit dan later te koop. Voorkeur sal aan vroue, die jeug en mense met gestremdhede gegee word.

Mense wat reeds drie tot vyf jaar ondervinding van boerdery het, sal ook voorkeur kry, het die minister gesê.

’n Groot advertensieveldtog word beplan om die huur van die 896 plase bekend te stel.

Pres. Cyril Ramaphosa het in Februarie in sy staatsrede aangekondig dat die staat die grond wat hy nie gebruik nie, beskikbaar gaan stel.

Didiza sê sedertdien het die staat reeds meer as 135 117 ha aan 275 opkomende boere oorgedra. Die meeste van dié grond (50 480 ha) is in Mpumalanga.

Die enigste twee provinsies waar geen grond vir die nuwe projek beskikbaar is nie, is in Gauteng en die Wes-Kaap, het Didiza gesê.

Die volgende grond is in die ander provinsies beskikbaar:

• Oos-Kaap: 43 000 ha;

• Vrystaat: 8 333 ha;

• KwaZulu-Natal: 3 684 ha;

• Limpopo; 121 567 ha;

• Mpumalanga: 40 206 ha;

• Noord-Kaap: 12 224 ha; en

• Noordwes: 300 000 ha.

Volgens die minister sal daar ook ’n ondersoek wees na staatsgrond wat reeds vir landboudoeleindes gebruik word.

Sy sê die moontlikheid sal ondersoek word dat mense wat al langer as 20 jaar suksesvol op staatsgrond boer, die titelaktes van dié grond sal ontvang.

Distrikskomitees van die departement van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling sal die aansoeke vir die nuwe projek ontvang, onderhoude met die aansoekers voer en dan aanbevelings doen aan provinsiale komitees oor wie die grond moet ontvang.

Die begunstigdes, wat jaarliks of maandeliks ’n huurbedrag moet betaal, mag die grond nie aan ander mense uitverhuur of oordra nie. “Die grond bly die eiendom van die staat,” het die minister gesê.

“Die begunstigdes moet alle verbeteringe wat hulle aanbring, aan die departement bekend maak.”

Sowel Didiza as Mcebisi Skwatsha, haar adjunk, het toegegee daar sal mense wees wat op korrupte wyse die beskikbare grond wil bekom, maar hulle het belowe dat streng teen die korruptes opgetree sal word.

Didiza sê daar is baie kommersiële boere in die land wat al vir haar gesê het hulle is bereid om die nuwelingboere te help oplei.

Alle begunstigdes moet verpligte opleidingsprogramme volg. Dit sluit onder meer basiese finansiële bestuur en ondernemingsontwikkeling in.

Die staat se verpligtinge sluit in die onderhoud van basiese infrastruktuur en kwartaallikse inspeksiebesoeke, sowel as jaarlikse prestasieverslae.

Willem de Chavonnes Vrugt, voorsitter van Agri SA se grondsentrum van uitnemendheid, het gesê die keuring van die begunstigdes is belangrik om te verseker dat die grond produktief vir landbou-doeleindes aangewend word.

“Dit is jammer dat distriksgrondhervormingskomitees waarop georganiseerde landbou ook sitting gehad het, nie meer in plek is nie. Die private sektor en georganiseerde landbou kan ’n baie waardevolle rol speel in die keuring van begunstigdes en om hulle te ondersteun.

Die opsie om te koop, wat aan begunstigdes gebied word, word verwelkom. Die departement het egter ’n baie swak verlede van die bestuur van huurkontrakte.

Henry Geldenhuys, president van TLU SA, sê dié organisasie is nie oortuig daarvan dat die regering die verskil tussen landbou en maatskaplike hulp besef nie.

“TLU SA verwelkom graag nuwe toetreders tot die landboubedryf. Dié landbouers moet egter ’n billike geleentheid hê om ’n sukses van hul boerderye te maak. “ ’n Verantwoordelike regering sou bestaande landbou-organisasies betrek het by die evaluering, toekenning en die daarstel van die kriteria waaraan nuwe toetreders moet voldoen,” sê Geldenhuys.

Meer oor:  Thoko Didiza  |  Grondhervorming  |  Landbougrond
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.