Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regering waarborg dalk lenings aan Zim
Pres. Cyril Ramaphosa (naasregs) en sy Zimbabwiese ampsgenoot, pres. Emmerson Mnangagwa (langs Ramaphosa) Dinsdag tydens bilaterale gesprekke tussen dié twee lande in Harare.Foto: GCSI

Suid-Afrika en Zimbabwe sal die moontlikheid ondersoek om die samewerking tussen dié twee lande se sentrale banke uit te brei.

Dié besluit is Dinsdag geneem op bilaterale samesprekinge tussen die twee regerings in Harare, die Zimbabwiese hoofstad.

Nog ’n moontlikheid wat ondersoek sal word, is dat ’n fasiliteit geskep word sodat Suid-Afrikaanse banke met waarborge van die Suid-Afrikaanse regering die private sektor in Zimbabwe kan help, met ’n gepaste teenwaarborg deur die Zimbabwiese regering. 

Suid-Afrika sal Zimbabwe help om nuwe reëlings met sy internasionale skuldeisers te beding.

Pres. Cyril Ramaphosa het die Zimbabwiese regering in sy openingstoespraak baie duidelik laat verstaan dat Suid-Afrika sy eie ekonomiese uitdagings het, maar dat hy Zimbabwe sal help waar dit binne sy vermoë is.

Suid-Afrika het einde verlede jaar ’n versoek van Zimbabwe vir ’n lening van $1,2 miljard van die hand gewys. Dié land gaan gebuk onder ’n kritieke finansiële krisis.

In Suid-Afrika kom ons ook uit ’n moeilike tydperk.
Pres. Cyril Ramaphosa

“In Suid-Afrika kom ons ook uit ’n moeilike tydperk. Nie net het ons ekonomie swak presteer nie, die publiek het ook vertroue verloor in staatsinstellings. Die beleggersvertroue in die land is ook swak,” het Ramaphosa gesê.

Suid-Afrika pak egter sy probleme aan.

“Suid-Afrika staan gereed om Zimbabwe binne sy vermoë te help in sy soeke na ekonomiese vernuwing.”

Hy het vertel hoe hy vroeër vanjaar op die Wêreld- Ekonomiese Forum se beraad in Davos, Switserland, voorspraak gemaak het vir die afskaffing van sanksies teen Zimbabwe.

“Ek is baie dankbaar dat die Europese Unie verlede maand gehoor gegee het aan dié versoek en besluit het om sanksies op huidige lede van u regering op te hef.

“Dit is die eerste van vele stappe wat nodig is om Zimbabwe te help om te herstel,” het Ramaphosa gesê.

“Ons loof u en u regering vir al u pogings om Zimbabwe uit sy huidige moeilike situasie te help en ’n lewensvatbare vennoot vir Suid-Afrika, die streek en ander ontwikkelende lande te wees.”

Ramaphosa het gesê hoewel Suid-Afrika en Zimbabwe reeds op baie terreine saamwerk, moet hulle dié samewerking uitbrei.

Die DA het gehoop Ramaphosa sou in die lig van Suid-Afrika se eie groot skuldlas, geen finansiële beloftes aan Zimbabwe maak nie.

“Ek is bemoedig deur die betrokkenheid van Suid-Afrikaanse ondernemings in verskeie sektore van die Zimbabwiese ekonomie. Dit sluit in ingenieurswese, konstruksie, die gasvryheidsbedryf, mynbou-eksplorasie en dienste.

“Daar is sonder twyfel goeie vooruitsigte vir albei lande, maar dit is noodsaaklik dat dit makliker moet wees om sake te doen. Dit wat handel belemmer, moet uit die weg geruim word.”

Ramaphosa het gesê dit sluit in die dringende voltooiing van die verbeterde Beitbrug-grenspos waar ’n “eenstopdiens” gelewer kan word.

* Die DA het ’n beroep op Ramaphosa gedoen om groter druk op die Zimbabwiese regering te plaas om die onderdrukking van andersdenkendes en politieke teenstanders te staak.

“Ramaphosa kan nie voortgaan om Suid-Afrika te skaar by heerssugtiges soos (pres. Emmerson) Mnangagwa en Venezuela se pres. Nicolás Maduro nie, maar terselfdertyd voorgee die land se buitelandse beleid is geskoei op menseregte nie,” het Sandy Kalyan, die DA se woordvoerder oor internasionale betrekkinge en samewerking, in ’n verklaring gesê.

Die DA het gehoop Ramaphosa sou in die lig van die optrede van die Mnangagwa-regering en Suid-Afrika se eie groot skuldlas, geen finansiële beloftes aan Zimbabwe maak nie.

Meer oor:  Cyril Ramaphosa  |  Zimbabwe  |  Suid-Afrika  |  Waarborg  |  Lenings
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.