Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regsmening bepaal wie DA nou gaan lei

Presies wie die DA tydelik gaan lei, hang af van ’n regsmening wat die party Donderdag op ’n telekonferensie sal bespreek.

Helen Zille, nuutverkose leier van die federale raad, het Woensdag ná die bedanking van Mmusi Maimane as DA-leier en Athol Trollip as DA-voorsitter gesê dié bedankings het ’n “ongewone” situasie veroorsaak ingevolge die party se grondwet.

Sy sê die DA-grondwet maak daarvoor voorsiening dat wanneer die partyleier weens onvoorsiene omstandighede vertrek, die voorsitter van die party oorneem totdat ’n nuwe leier verkies kan word.

“Dit is ’n ongewone situasie omdat die leier sowel as die voorsitter op dieselfde tyd individuele besluite geneem het. So voordat ons oorhaastig in ’n situasie beland wat dalk nie grondwetlik en nie gepas mag wees nie, sal ons ’n regsmening inwin oor wat die grondwetlik regte pad vorentoe is,” het sy op die mediakonferensie gesê waar Maimane en Trollip hul bedankings aangekondig het.

Die federale uitvoerende leiers sal Donderdag die regsmening per telekonferensie bespreek om die pad vorentoe te bepaal.

Helen Zille
Helen Zille. Foto: Sarel van der Walt

Zille sê die party wou hê dat Maimane en Trollip in hul poste aanbly totdat ’n besluit deur afgevaardigdes op ’n federale kongres geneem is.

Die federale raad het op sy vergadering die afgelope naweek besluit om die verslag van die hersieningspaneel wat Maimane ná die Mei-verkiesing aangestel het, in beginsel te aanvaar.

Een van die resolusies wat aanvaar is, is dat die federale kongres so gou moontlik gehou moet word. Dit sou volgens Zille beteken het dat ’n vroeë leiersverkiesing in April aanstaande jaar gehou sou word. Kritieke besluite, veral oor leierskap, sou dus deur die kongres geneem word.

Maimane en Trollip het nogtans besluit om te bedank – “ ’n gevolgtrekking wat hulle slegs kon bereik as individuele mense ná gesprekke met hul families”.

Die federale uitvoerende bestuur “het dus met baie hartseer” opgehou probeer dat die federale raad dié resolusie aanvaar omdat hul posisie “soos hulle dit sien, onhoudbaar geword het”.

Zille erken ’n “uitdagende pad” wag op die DA, maar sy het as voorsitter van die federale raad en ook as leier van die federale uitvoerende bestuur, hulde aan Maimane en Trollip gebring.

“Almal ken die geskiedenis van my intensiewe ondersteuning van Mmusi. Soos hy gesê het, ons het by tye ons verskille gehad, maar ek dink nie daar is enige individu wat nie in een of ander stadium van ’n ander verskil nie.

“Dit het nooit my respek vir hom, of ons kapasiteit om kwessies te bespreek en hartlik met mekaar te wees, verminder nie. Ek het net soveel respek vir sy vrou, Natalie, en hul kinders. Glo my, ek weet deur watter tipe trauma hulle is. Die politiek is ’n baie, baie moeilike ruimte.”

Oor Trollip sê Zille sy het tred verloor oor hoeveel jaar hulle saamgewerk het. “Veel langer as die meeste mense in die party. Ons was kollegas en het skouer aan skouer gewerk. Ons was teenstanders in noue kragmetings. Ons het ons hele volwasse lewens vir demokrasie vir die land gewerk . . .”

Meer oor:  Da  |  Mmusi Maimane  |  Helen Zille
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.