Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
Regsraad ‘hou sake teen OB dop’

Die Regspraktykraad het nog nie ’n besluit geneem oor wat hy gaan doen betreffende klagtes teen adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer (OB), oor beweerde meineed nie.

Die klagtes is in 2019 deur adv. Paul Hoffman SC van die nieregeringsorganisasie Accountability Now ingedien.

Hoffman sê Mkhwebane het by drie geleenthede meineed gepleeg deurdat sy onder eed gejok het oor haar vergaderings met oudpres. Jacob Zuma.

Adv. Busisiwe Mkhwebane, die openbare beskermer. Foto: Argief

Sthembiso Mnisi, woordvoerder van die raad, het Donderdag gesê die klagtes is op 31 Julie verlede jaar deur ’n komitee van die raad ondersoek.

“Daar is aanbeveel die raad moet wag totdat die parlementêre proses (oor die moontlike verwydering van Mkhwebane) afgehandel is, sowel as die huidige litigasie waarby sy betrokke is.” Volgens Mnisi hou die komitee die saak dop.

Die klagtes van Accountability Now spruit uit ’n meerderheidsbeslissing in 2019 van die konstitusionele hof waarin ’n vroeëre ongunstige uitspraak van die hooggeregshof in Pretoria bekragtig is ten opsigte van die OB se verslag oor die Suid-Afrikaanse Reserwebank en Ciex.

Accountability Now voer aan Mkhwebane was oneerlik. Die organisasie bevraagteken haar integriteit en haar bevoegdheid om haar werk te doen.

Mkhwebane het deurlopend gesê sy sal haar volle samewerking in al die sake gee en voer aan sy het niks verkeerd gedoen nie.

Mkhwebane word ook weens die konstitusionele hof se uitspraak strafregtelik vervolg en moet weer op 25 Junie in die landdroshof in Pretoria op drie aanklagte van meineed verskyn. Sipho Ngwema, woordvoerder van die nasionale vervolgingsgesag, sê die uitkoms van Mkhwebane se vertoë sal dan gehoor word.

Intussen sê Mnisi die Regspraktykraad se ondersoekkomitee vergader aanstaande week oor die hofuitspraak in Desember verlede jaar dat Mkhwebane ’n verskoning aan regter Sulet Potterill verskuldig is. Potterill het in Julie 2019 ’n interdik aan Pravin Gordhan, minister van openbare ondernemings, toegestaan teen Mkhwebane se verslag oor die Suid-Afrikaanse Inkomstediens se sogenaamde “rogue” eenheid.

’n Volbank regters in die hooggeregshof in Pretoria het haar verslag in Desember tersyde gestel en gesê Mkhwebane skuld Potterill ’n verskoning vir die “persoonlike aanval” op haar.

Dit verwys na ’n beëdigde verklaring wat Mkhwebane aan hoofregter Mogoeng Mogoeng en die Regsdienstekommissie gestuur het waarin sy skryf Potterill was “neerhalend, minagtend en aangedryf deur ’n persoonlike wrok” in die uitspraak waarin sy bevind het Mkhwebane se verslag was “gebrekkig in die reg”.

Mnisi sê die raad het reeds met sy ondersoek hierna begin en Mkhwebane kry op 14 April die geleentheid om haar saak te stel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.