Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Zondo verdaag tot Dinsdag oor 'geheime opname'

  • Bruce Koloane, voorheen protokolhoof in die kantoor van pres. Jacob Zuma en nou ambassadeur in Nederland, getuig voor die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping.
  • Jerry Matjila, hoof van staatsprotokol, het ook getuig.
  • Koloane is gevra oor sy aandeel in die Waterkloof-skandaal toe 'n vliegtuig met meer as 200 bruilofgaste van die Gupta-familie aan boord op die Waterkloof-lugmagbasis in Pretoria geland het.
  • Koloane was die enigste persoon wat vir die voorval aangekla is.
  • Sy getuienis kan wys tot watter mate oudpres. Jacob Zuma betrokke was by die spesiale behandeling wat die Guptas en hul gaste ontvang het.

08 Jul. 16:57:10

Die sitting verdaag tot Dinsdag om 10:00.

08 Jul. 16:56:54

Koloane moet luister na opnames, sê Zondo

Mahon sê hulle wil graag eers na die opnames luister, voor hulle sal kan oorweeg of Koloane Dinsdag verder sal kan getuig en of daar vir 'n langer uitstel gevra moet word.

Norman sê die opname is beskikbaar en kan aan Koloane oorhandig word. Dit is nou gedeklassifiseer.

Zondo sê so daar is niks wat van Koloane weerhou gaan word nie. Dit kan onmiddellik aan Koloane verskaf word.

Norman sê dit is reg so.

Zondo sê behalwe vir die opnames, is daar baie min inligting wat met Koloane verband hou wat hy nog nie het nie.

Zondo sê die sitting kan verdaag tot Dinsdag om 10:00. Hy dink as hulle môre aangaan, behoort Koloane nie benadeel te word op enige manier nie.

08 Jul. 16:48:42

Zondo sê hy wil hê hulle moet die tyd gebruik wat daar opsy gesit is, tensy daar onregverdigheid sal wees.

08 Jul. 16:47:41

Getuie moenie later kan sê hy is onregverdig behandel nie, sê Zondo

Zuma sê hy het nie die dokumente gesien nie. Hy weet daar is 'n geheuestokkie met inligting van 'n gesprek tussen Koloane en Anderson.

Niemand kan inligting weier aan Koloane sonder dat Zondo nie die finale sê daaroor het nie. Sy regspan kan Zondo daaroor nader.

Koloane se regsverteenwoordiger, Don Mahon, sê dit is nie 'n bron van kommer dat daar dokumente van Koloane weerhou word nie, maar wel inligting waartoe hy nie toegang het totdat daaroor getuig is nie.

Mahon verwys na 'n opname van 'n gesprek en Zondo sê die sitting kan dan verdaag sodat Koloane se regspan die geleentheid kry om na die opname te luister.

Zondo sê dit gee Koloane ook die geleentheid om na dokumente te kyk, waarop hy aanvoer hy het nie genoeg tyd gehad om dit na te gaan nie.

Norman sê die enigste dokument wat nie gedeklassifiseer is nie, is dokumente vanaf die presidensie en een verslag.

Norman sê die opname is Sondag aan haar verskaf. Sy sê sy wil nie hê dat Koloane in die toekoms gaan aanvoer dat hy nie genoeg tyd gehad het om hom voor te berei nie. Hy is daar op die onkoste van die kommissie.

Norman sê Zondo moet vra hoe lank Koloane nodig het om hom voor te berei sodat hy gereed is, met 'n beëdigde verklaring om dit te steun.

Zondo vra wanneer het Koloane watter dokumente gekry. Hy wil dit weet, sodat hy kan besluit of Koloane genoeg tyd gehad het om hom voor te berei al dan nie.

Norman sê Koloane wou Donderdag dokumente hê wat nie in die kommissie se besit was nie, ook 'n kopie van die gesprek wat die kommissie nie gehad het nie.

Zondo vra indien die dokumente wat die ondersoeker van die kommissie, Derek de Beer, aan Koloane gestuur het wel Donderdag gedoen is, watter is nog uitstaande.

Norman sê volgens haar is die dokumente teen Donderdag gestuur en dit is afgelaai.

Zondo sê Koloane het nie vanoggend kom sê hulle het nie genoeg tyd gehad het toe die sitting begin het nie. Hy sê maar daar moet regverdigheid wees teenoor almal. Daar is kwessies wat vanmiddag afgehandel kan word, of die sitting kan tot môre uitgestel word.

Indien Koloane se regsverteenwoordigers Dinsdag kom en amptelik vra vir 'n uitstel, kan dit gedoen word. Hy wil nie hê dat hulle na die tyd kom sê hy is onregverdig behandel nie, sê Zondo.

Indien hulle voortgaan sonder om te weet waar Koloane staan oor die saak nie.

Mahon sê hy verstaan dat daar gevra kan word dat Koloane later kan terugkom om te getuig.

 

08 Jul. 16:30:22

Koloane kla oor 'geheime dokumente'

Zondo sê hy wil iets aan Koloane verduidelik. Die kommissie sou môre 'n ander getuie roep, maar dié getuie kan nie meer kom nie. Zondo vra of dit sal help indien die kommissie verdaag tot môre, sal dit help.

Koloane sê sy regspan het dalk nie vanaand tyd om na die dokumente te kyk nie.

Zondo sê hy sal Koloane se regsverteenwoordiger vra. Die regsverteenwoordiger antwoord die tyd sal nie juis 'n verskil maak nie. Hulle sal wil aangaan, maar terwyl sy regte voorbehou word.

Koloane sê daar is ook aan hom gesê van die inligting wat voor die kommissie gestel is is geklassifiseer. Sy regte is benadeel en hy is die reg ontken om toegang tot inligting te hê terwyl die mense wat hom ondervra wel toegang kon gehad het (tot daardie geklassifiseerde inligting).

Zondo sê hy weet nie na watter dokumente Koloane verwys nie, want daar is na sy mening geen dokumente wat die kommissie in sy besit het wat nie aan Koloane beskikbaar gestel kan word nie.

08 Jul. 16:23:57

Zuma het nié instruksies gegee nie, sê Koloane

Koloane word deur adv. Thandi Norman SC, ondervraer, gevra of hy gesê het daar sal vier of vyf ministers aan boord wees.

Koloane sê dit kan so wees, want hy is gesê daar sal ses tot agt ministers op die vliegtuig wees.

Norman vra vir Koloane om verdere paragrawe in die verslag te ontken of bevestig.

Sy verwys na 'n paragraaf waarin genoem is oudpres. Jacob Zuma het Ben Martins gevra om die Gupta-familie te help met toegang tot die lughawe. 'n Sin waarna verwys word dat ''hy gesê het dit is 'n unieke saak" word aan Koloane gestel. Hy sê dat hy nie dit gesê het nie en kan ook nie onthou of enigiemand anders dit gesê het nie.

Nog 'n deel van die verslag dat Koloane nie op skrif iets wou bevestig nie, antwoord hy dat hy nie daarna instruksie sou gee nie. In teenstelling hiermee het hy aan sy assistent gesê om 'n brief te stuur en aan twee van sy seniors op skrif te sit.

Op 'n vraag of hy en Anderson 'n ondersoek gaan doen het by die Waterkloof-lugmagbasis wat verband hou met Jet Airways, antwoord Koloane hy het heelwat kere saam met Anderson inspeksies gehou voordat daar mense land.

Hierdie inspeksie was voor die Gupta-landing, maar hy kan dit nie onthou nie.

Norman vra watter ander voorbereidings Koloane gedoen het vir die Gupta-troue. Koloane sê sy werk is in protokol, hy verstaan nie haar vraag nie.

Norman vra of hy dan inspeksie by die Waterkloof-lugmagbasis gaan hou het sonder dat die vlug goedgekeur is. Koloane sê daar sou nie 'n inspeksie wees as die vlugte nie goedgekeur is nie.

Norman sê sy sal na die datums verwys en sê toe Anderson die inspeksie gaan doen het by Waterkloof-lugmagbasis was die landing nog nie goedgekeur nie.

Sy vra of Koloane gesê het dat dit vir 'n Gupta-troue is, antwoord Koloane hy kan nie onthou dat hy verwys het na 'n "Gupta-troue" nie.

Norman vra of Zuma nooit in enige tydstip met Koloane kontak gehad het of hom instruksies gegee het om die landing goed te keur nie, antwoord Koloane dit is korrek.

Zondo vra kan Koloane nie onthou of hy gesê het hy wil niks op skrif sit nie, of ontken hy dat hy dit gesê het. Koloane sê hy kan dalk nie alles onthou nie, dit is meer as ses jaar gelede en dit gaan oor iets wat hy juis probeer agter hom kry.

Koloane sê indien die kommissie se ondersoekspan direk na die insident vrae aan hom gestel het, sou hy dalk beter kon onthou. Hy sê dat hy dit nie as verskoning wil gebruik nie, maar dit is hoe dit is.


08 Jul. 15:59:11

Dit was nie "Nommer Een" nie

Koloane sê waar daar aangevoer word dat hy (Koloane) gesê het die minister van vervoer het die landing by Waterkloof goedgekeur, kan dit nie wees nie want dit is die minister van verdediging wat daaroor sou kon besluit.

Koloane sê daar word verkeerd aangevoer dat hy gesê het "Nommer Een" sit baie druk op hom. Dit is nie so nie.

08 Jul. 15:56:34

Koloane sê verslag oor Waterkloof-landing is verkeerd

Koloane sê kort na sy laaste vergadering met die ondersoekkomitee oor die landing, het hy in sy motor toe hy daar wegry gehoor hoe Jeff Radebe, voorheen minister van justisie, klaar op radionuus gepraat het dat die komitee 'n gevolgtrekking bereik het.

Koloane sê hy is baie skepties oor die verslag en die prosedure wat gevolg is.

Die een ding wat hy meen verkeerd is, is dat Koloane aan iemand gesê het die minister van vervoer het die landing goedgekeur, Koloane sê die minister van vervoer het met hom gepraat oor die landing by OR Tambo-lughawe, nié Waterkloof nie.

"Dit ruik na vis, en wanneer iets na vis ruik, is dit vis," sê Koloane.

08 Jul. 15:52:51

Adjunkhoofregter Zondo sê die sitting gaan voort, al is daar fout met die uitsending.

08 Jul. 15:45:30

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.