Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Iets goeds moet uit Horner se dood kom - Cele
  • Bheki Cele, minister van polisie, en Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, besoek die vermoorde plaasvoorman Brendin Horner (22) se familie.
  • Horner se moord op Giley Scheepers se plaas naby Paul Roux in die Oos-Vrystaat het groot opspraak gewek, weens die aard van sy beserings en omdat hy aan 'n paal naby die plaashek vasgemaak is.
  • Sekwetje Mahlamba (32) en Sekola Matlaletsa (44), die vermeende moordenaars, het op 6 Oktober in die hof in Senekal verskyn, waarna 'n groep boere die hofgebou bestorm het.
  • Die vermeende voorbok, André Pienaar (51), is Dinsdagoggend borgtog geweier.
  • Intussen vergader William Bulwane, Vrystaatse LUR vir landbou en landelike ontwikkeling, vandag met boere en Vrystaat Landbou (VL) in Bloemfontein. Luidens ’n verklaring wil Bulwane beter samewerking met dié organisasies bewerkstellig.
  • In die Wes-Kaap hou dr. Ivan Meyer, LUR vir landbou, vanmiddag 'n nuuskonferensie saam met Pierre Vercueil, president van Agri SA, waar veiligheidskwessies ook bespreek gaan word.

Bheki Cele, polisieminister, en Ayanda Dlodlo, minister van staatsveiligheid, het met georganiseerde landbou en plaaslike gemeenskapsverteenwoordigers vergader. Daar is ooreengekom dat hul bekommernisse oor plaasaanvalle en veediefstal binne die volgende drie weke dringend gepak sal word.

13 Okt. 15:32:17

Die stampvol Meets-boeresaal. Foto: Mlungisi Louw

13 Okt. 15:25:13

Bheki Cele, polisieminister, op die verhoog in die Meets-boeresaal naby Bethlehem. Foto: Mlungisi Louw

13 Okt. 15:25:08

Boere en die media luister na Bheki Cele in die Meets-boeresaal naby Bethlehem. Foto: Mlungisi Louw

13 Okt. 14:57:53

AfriForum hou vreedsame protes teen plaasmoorde

Die burgerregteorganisasie AfriForum het besluit om Vrydag om 10:00 voort te gaan met ’n vreedsame protesoptrede in Senekal teen plaasmoorde en geweld. AfriForum het hierdie besluit geneem om te verseker dat die vreedsame meerderheid, wat op ’n geordende wyse hul woede en misnoeë oor die terreur op plase wil toon, se stem nie stilgemaak word deur ’n klein groepie opstokers en die uitlokkende optrede van die EFF nie.

AfriForum en geweldgeteisterde gemeenskappe het die volste reg om woedend te wees oor moorde soos dié op Brendin Horner, maar AfriForum glo dit is belangrik dat die billike saak om optrede teen plaasmoorde te eis, nie besoedel moet word deur diegene wat die stryd teen plaasmoorde in onguns wil bring nie.

Volgens Kallie Kriel, uitvoerende hoof van AfriForum, gaan sy organisasie se veiligheidspan in gesprek tree met ander rolspelers, wat landboustrukture soos Saai en die polisie insluit, oor ’n geskikte perseel vir die protes en die maatreëls wat getref gaan word om te verhoed dat groepe met ander motiewe, nie die protesoptrede ontwrig nie.

Kriel het daarop gewys dat AfriForum inligting ontvang het dat die land se veiligheidsdienste glo ’n klein groepie agents provocateurs tydens verlede week se protesoptrede in Senekal ontplooi het om geweld aan te hits en sodoende die stryd teen plaasmoorde en die vreedsame meerderheid deelnemers aan die protes in onguns te probeer bring. Hierdie inligting strook volgens Kriel met AfriForum se veiligheidspan en ander strukture se waarnemings tydens verlede week se protesoptrede.

“Daar is waargeneem dat minstens vyf mans op strategiese plekke in die skare geplaas is en opruiende uitsprake gemaak het. Hierdie mans het deurlopend op hul selfone met mekaar gekommunikeer en sommige het selfs maskers gedra wat die hele gesig bedek het om hul identiteit te verdoesel.

“Toe ’n klein groepie mense, wat deur hierdie opruiende gedrag opgesweep is, die hofsaal bestorm, het hierdie groep mans na hul voertuie gehardloop en weggery,” sê Kriel.

AfriForum doen ’n beroep op mense wat op geordende wyse hul misnoeë met plaasmoorde wil toon, om aan te sluit by die protesoptrede wat AfriForum reël en nie toe te laat dat diegene wat protes teen plaasmoorde in onguns wil bring, hulle opsweep tot onaanvaarbare gedrag nie.

Sodra die reëlings vir Vrydag gefinaliseer is, sal AfriForum meer besonderhede oor die protesoptrede op sy Facebook-blad en ander mediakanale bekend maak.

13 Okt. 14:57:39

Iets goeds moet uit Horner se dood kom

Cele sê daar moet iets goeds uit die dood van Horner kom en Viljoen sluit af deur te sê hulle val nie die polisie aan nie, maar korrupsie. Dis ’n poging om oorlewing.

13 Okt. 14:37:18

Hy kan nie jammer sê vir iets wat hy nié gesê het nie - Alet van der Walt

Cele sê mense sê hy moet om verskoning vra omdat hy gesê het boere sal seerkry, maar hy kan nie om verskoning vra vir iets wat hy nie gesê het nie. Hy verwys na sy toespraak in Normandien en sê dis ’n Afrikaanssprekende wat hom verkeerd verstaan het. Hy sê die publikasie gaan by die persombud verkla word.

13 Okt. 14:36:14

Moenie situasie vererger - Alet van der Walt

Cele vra dat almal Vrydag wegbly van enigiets wat ’n vonk in die kruitvat kan wees. Hy kla oor ’n Australiese vlogger, ene Scott, wat glo baie rassisties is en ’n onderhoud met Jess de Klerk van die Tafelkop-boerevereniging by Senekal gevoer het. Cele sê De Klerk het die onderhoud goed hanteer sonder om rassisties te wees. Dit het hom beïndruk.

Lees ook: Kookpunt: Boere ruk op ná moord
13 Okt. 14:23:41

Oor veediefstal - Alet van der Walt

Oor veediefstal sê Cele ’n mens moet vra wie die mark is, want niemand steel ’n miljoen rand se vee vir die pot nie. Hy wil weet waar mense die inligting kry, want niemand tree op sonder inligting nie. Die vraag is, lê die fout by die polisie of die stelsel? Cele sê hy het aan die provinsiale kommissaris gesê hy kom oor drie weke terug Vrystaat toe om toe te sien dat stappe gedoen is om die misdaadprobleme op te los en om vir die boere te sê wat reeds gedoen is. Daar moet mikpunte wees en hulle moet kyk waarheen gesteelde vee gaan. “Ek hoor van die vleis word selfs aan hospitale gelewer.”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.