Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Politiek
OORSIG: Cyril gepeper oor tenderbedrog en korrupsie

Pres. Cyril Ramaphosa het vrae op ’n gedeeltelik virtuele sitting van die nasionale vergadering (NV) beantwoord.

Die ses geskrewe vrae wat LP’s aan hom gestel het, handel onder meer oor tenderbedrog, buitelanders, geweld teen vroue en die nuwe interministeriële komitee oor korrupsie.

Ramaphosa beantwoord gewoonlik een keer per kwartaal vrae in die parlement.

Kyk weer daarna hier:

27 Aug. 17:39:58

Dit is die einde van die regstreekse dekking.

27 Aug. 17:33:18

Steenhuisen ‘moet oordokter besoek’

Steenhuisen sê in plaas daarvan om die blaam op buitelanders te pak, moet nuwe poste geskep word.

Suid-Afrika moet deel wees van die internasionale ekonomie, maar ons skrik beleggers af met hindernisse soos grondhervorming wat op onteiening sonder vergoeding steun, Nasionale Gesondheidsversekering (NGV) en voorgeskrewe bates waarin pensioenfondse moet belê.

Hy vra hoekom gaan die regering daarmee voort as dit poste vernietig.

Ramaphosa sê Steenhuisen moet ’n oordokter besoek, want hy hoor nie wat Ramaphosa sê nie.

Hy het al herhaaldelik gesê die regering is verbind tot hervormings wat buitelandse beleggings sal lok. Daarom is reeds twee konferensies vir buitelandse beleggers gehou en daar word steeds een vir vanjaar beplan. Die regering sal die versperrings verwyder.

Die debat oor grondhervorming en die NGV sal volgehou word.

Die ekonomiese hervormings waarna Steenhuisen verwys, sal deurgevoer word.

Die regering wil beleggings lok. Die private sektor sal belê as die versperrings verwyder word, as die koste van sake doen verlaag word, as hervormings, soos dié in die energiesektor, deurgevoer word.

“Ons is op pad om juis dit te doen.”

Steenhuisen wil weet oor Ramaphosa se aankondiging in Februarie dat kabinetslede leefstyloudits moet ondergaan.

Ramaphosa bevestig dat die oudits onderweg is.

27 Aug. 17:32:23

Ons moet praat oor sake met die staat

Ramaphosa sê die kwessie van amptenare wat sake met die staat doen, vereis bespreking.

Hy belowe dat dit bespreek sal word en dat uitsluitsel daaroor gegee sal word.

Ramaphosa bevestig daar sal gekyk word na ’n meganisme om te keer dat iemand wat by een staatsinstelling geskors is, ’n pos by ’n ander staatsinstelling bekom.

Die vrae aan die president is afgehandel.


27 Aug. 17:19:53

Ramaphosa ‘is anti-Afrikaan’

Omphile Maotwe, EFF-LP, sê die president moet sterk standpunt inneem teen xenofobie.

Sy meen Ramaphosa se uitlatings is anti-Afrikaan en kan tot xenofobie aanleiding gee. Wat doen Ramaphosa ten opsigte van die toksiese sentiment teenoor buitelanders?

Sy sê daar kort een Afrika met een geldeenheid en een president.

Ramaphosa sê die land propageer nog altyd ’n Afrika-gesentreerde beleid om die ekonomie van Afrika te laat groei. Dit was nog altyd die regering se standpunt dat Afrika sy eie oplossings moet vind.

Dit is hoekom hierdie interministeriële komitee nodig is – want daar is uiteenlopende beskouings.

Van hierdie beskouings is dat Suid-Afrika nie net op homself moet fokus nie. Tog moet die frustrasie van ons eie mense in ag geneem word ten opsigte van die instroming van mense en die gevoel dat hulle uit die arbeidsmark uitgestoot word.

Die komitee sal met ’n gebalanseerde oplossing vorendag kom. Suid-Afrika moet ’n voorbeeld wees vir ander Afrika-lande.

Hy bly oortuig dit was die regte besluit om die komitee op die been te bring.

27 Aug. 17:05:21

Wat van bruin mense?

Ganief Hendricks van Al Jama-ah vra oor die bruin gemeenskap wat uitgesluit word van ekonomiese geleenthede.

Ramaphosa sê dit is ’n kwessie wat aandag moet kry.

Daar word nie in die bruin gemeenskap in die Wes-Kaap xenofobie bespeur nie.

Hy hoop alle Suid-Afrikaners word met die nodige waardigheid in die Wes-Kaap behandel.

27 Aug. 17:02:15

SA is ’n oase in Afrika

Ramaphosa sê die werkloosheidskoers is erg benadeel deur die pandemie.

Buitelanders wat in Suid-Afrika werk, moet nie die blaam kry vir die hoë werkloosheidskoers nie.

Terselfdertyd moet gereageer word op die frustrasie van Suid-Afrikaners as maatskappye wette oortree wanneer hulle buitelanders aanstel.

Daarom is ’n interministeriële komitee, onder leiding van die minister van indiensneming en arbeid, op die been gebring om na die kwessie te kyk.

Die komitee sal kyk na die migrasie van buitelanders vir werkgeleenthede. Dit sal ook leiding verskaf oor handelsbetrekkinge en vervoerooreenkomste, en die komitee sal na misdadige bedrywighede oor die grense heen kyk.

Wetswysigings word oorweeg.

By die indiensneming van buitelanders moet die kwessie van skaars vaardighede wat benodig word om die ekonomie te laat groei, ook in ag geneem word.

Die groot getalle buitelanders in Suid-Afrika moet aandag kry. Dit moet hanteer word op politieke, ekonomiese en historiese grondslag.

Sodra die werk voltooi is, sal die kabinet oor die kwessie besin en moontlik ’n proses van openbare deelname van stapel stuur.

"Ná 1994 het Suid-Afrika ’n oase geword in ’n woestyn van ekonomiese uitdagings waardeur baie lande op ons vasteland in die gesig gestaar word en baie mense stroom by ons land in. Ons moet dit gestruktureerd en behoorlik hanteer," sê Ramaphosa.

Vuyo Zungula van die ATM sê die kwessie is nie populisties nie, want daar is niks fout daarmee om jou eie burgers te prioritiseer nie. Daar is bestaande wette – hoekom word dit nie toegepas nie?Botswana het byvoorbeeld wette ingestel dat sekere ondernemings eksklusief vir sy burgers gereserveer word.

Ramaphosa sê dié voorbeeld is korrek, dit word nie as xenofobies beskou nie en ander lande doen dit ook.

Die komitee sal vorendag kom met ’n oplossing.

27 Aug. 16:51:17

Staatskapers gaan terugveg

Ramaphosa sê hy weet mense sien nog nie “rooi en blou ligte en arrestasies” nie, maar daar is vordering ten opsigte van die herposisionering van wetstoepassingsinstellings.

Hulle moet tyd en ruime gegun word om hul werk te doen.

Ja, dit is moontlik dat daar diegene in dié instellings is wat die brieke wil aandraai en dat diegene wat voordeel getrek het uit staatskaping baie hard gaan terugveg.

“Hul grootste vrees is instellings wat goed werk.”

27 Aug. 16:48:00

IMF het wel voorwaardes, maar . . .

Oor die brief van die IMF wat Tito Mboweni, minister van finansies, onderteken het, sê Ramaphosa daar word wel voorwaardes hierin uiteengesit.

Maar baie daarvan is goed wat die land in elk geval wil doen.

Die IMF het byvoorbeeld gesê daar moet voortgegaan word met hervormings; iets wat Suid-Afrika in elk geval wil doen.

Maar dit is nie ’n opdrag nie.

Suid-Afrika wil in elk geval sy skuld verminder.

Daar is miskien een of twee voorwaardes wat die oë laat rek, maar dit stel nie die land se soewereiniteit in gevaar nie.

Luidens die brief wil die IMF sien dat Suid-Afrika korrupsie beveg.

Die regering wil dit in elk geval doen.

Die IMF sal uiteraard kyk na die stappe wat gedoen word om korrupsie te beveg.

Eskom gaan opgegradeer en behoorlik bestuur word.

Daar gaan voortgegaan word met herstrukturering. Dis nie slegte dinge nie.

Die IMF het nie weens korrupsie koue voete gekry oor die lening nie. Hy kyk na die land se ekonomiese aanduiders, soos wat hy met alle ander lande doen.

27 Aug. 16:39:09

IMF-lening bedreig nie SA se soewereiniteit

Floyd Shivambu, EFF-onderleier, vra hoekom die regering dollars gaan leen het by die Internasionale Monetêre Fonds (IMF) omdat die skuld nie betyds terugbetaal sal word nie en dus die soewereiniteit van die land bedreig.

Ramaphosa sê die fiskale posisie was reeds swak toe die koronaviruspandemie die land getref het, maar daar is ook besef dat ’n geldinspuiting benodig was.

Daar was vier opsies:

• $1 miljard van die Afrika-ontwikkelingbank;

• $1 miljard van die Nuwe Ontwikkelingsbank (die Brics-bank);

• Die Wêreldbank; en

• Die IMF.

Toe die krisis tref, het die IMF lenings aan baie lande beskikbaar gestel.

Die IMF was bereid om ’n lening van $2,4 miljard toe te staan teen ’n rentekoers van net 1,1%, sónder die gewone voorwaardes wat met ’n lening gepaardgaan.

Die kwessie is wyd bespreek en daar is besluit dat die regering hom nie sal verbind tot voorwaardes wat die land se soewereiniteit in gedrang sal bring nie.

Die Wêreldbank se lening het met sulke voorwaardes gepaardgegaan, en dit is verwerp.

27 Aug. 16:26:45

Staatsamptenare ‘moet patrioties wees’

Ramaphosa sê die gebrek aan besteding aan programme, die staat se gebrek aan vermoë om programme in werking te stel, die vermorsing van geld en die gebrek aan infrastruktuur is alles kommerwekkend.

Die staat is egter vasbeslote om die situasie om te keer. Korrupsie moet vernietig word, want dit verswak die ekonomie en die demokrasie. Hulle wil ook ’n nuwe sin van patriotisme in amptenare inboesem sodat hulle die mense van die land eerste stel.

Ramaphosa sê net ’n paar maande is nodig om die “knoppie te kan druk” vir infrastruktuurprojekte “wat gereed is vir die grawe”.

Daar word gekyk na 2 000 internasionale beleggers vir die projekte wat wissel van die bou van damme tot pad- en spoornetwerke.

Die infrastruktuurfonds, wat twee jaar gelede aangekondig is, is opgestel. Daar is nou ’n situasie waar die private en die openbare sektor saam gaan werk.

Die herstelprogram gaan geskoei wees op infrastruktuur.

Dit is die enjin om die ekonomie te laat herstel.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.